Local news

Pretoria bring hulde aan Kruger se nalatenskap

Die oopstel van die Kruger-sterfkamer, die toere van Kerkplein, en die herlewing van die posdiens by die Kruger-museum, is elkeen ’n aspek van ’n breër strewe om nie net geskiedenis te bewaar nie, maar om dit lewendig te hou. Hierdie herdenkings het die afgelope week gewys dat Paul Kruger se nalatenskap steeds aanklank vind by

Pretoria het vanjaar op talle wyses hulde gebring aan een van sy mees ikoniese figure, president Stephanus Johannes Paulus Kruger, met die herdenking van sy 200ste verjaarsdag op 10 Oktober.

Van diep simboliese herdenkingsgeleenthede tot toere en kultuurerfenisprojekte, het die hoofstad ’n lewende museum van die verlede geword, waarin die storie van Oom Paul opnuut op talle herdenkingsplekke vertel is.

Die Erfenisstigting het op Kruger se geboortedag die Kruger-sterfkamer, geleë in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument, vir die publiek oopgestel.

Die Ditsong-Krugerhuismuseum. Foto: Verskaf

Hierdie herdenkingsruimte bevat oorspronklike meubels en persoonlike artikels uit die kamer in Clarens, Switserland, waar Kruger in 1904 in ballingskap oorlede is.

Dit is die eerste keer dat ’n omvangryke groep besoekers toegang tot hierdie ruimte verkry het sedert die kamer op 12 Julie 2024 geopen is.

Lizette Jansen, bedryfshoof van die Erfenisstigting, beskryf die plek as veel meer as net ’n museumuitstalling.

“Dit is ’n lewende gedenkplek wat die laaste oomblikke van ’n man vasvang wie se lewe en werk steeds die geskiedenis en kultuur van die Afrikaner vorm.”

Lizette Jansen, bedryfshoof van die Erfenisstigting, het die Krugerkamer op sy 200-jarige herdenking beskryf as veel meer as net ’n museumuitstalling en blomme ter ere van die herdenking op 10 Oktober in die kamer by die Voortrekkermonument geplaas. Foto: Verskaf.

Sy het op simboliese wyse blomme in die vertrek vroegoggend op 10 Oktober geplaas.

Du Preez de Villiers, woordvoerder van die stigting, sê: “Om Oom Paul op hierdie wyse te herdenk, is ’n daad van kulturele bewaring, nie net van sy persoonlike geskiedenis nie, maar van ’n hele tydperk wat die Suid-Afrikaanse landskap gevorm het.”

Die Ditsong Kruger Museum het ook ’n reeks betekenisvolle aktiwiteite aangebied.

Tydens die herdenkingsweek van 8 tot 10 Oktober het besoekers deelgeneem aan ’n interaktiewe toer deur Kerkplein, gelei deur die gesiene gids Johan van Wyk.

Hierdie toer het besoekers na verskeie belangrike geboue geneem, insluitend die ou Raadsaal en president Kruger se historiese kantoor, strukture deurdrenk met die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

As deel van die vieringe het die museum ook die herstel van posdienste by sy perseel by die Krugerhuis in Kerkstraat aangekondig.

Tydens ’n spesiale inhuldigingsgeleentheid is ’n geskiedkundige posbus voor die huis onthul.

Volgens Jaco Schoonraad, kurator van die Ditsong Kruger Museum, is hierdie stap ’n poging die museumervaring te verryk nie en ook om verbintenisse met die verlede emosioneel te versterk.

Besoekers kan nou spesiale poskaarte stuur met beelde van Kruger uit die museum se argiewe, alles gestempel met ’n unieke herdenkingsposstempel.

Solly Gaybba en Dina Lume van die Suid-Afrikaanse Poskantoor het die openingslint by die posbus geknip en amptelik die posbus as ‘in diens’ verklaar.

Die Krugergenootskap het die dag herdenk met ’n diens wat ds. Carl Vermaak by die Heldeakker gelei het en ds. Cassie Aucamp wat die diens in die Gereformeerde Kerk oorkant die Krugerhuis gelei het.

 Die Kruger-genootskap het by die Heldeakker en die Gereformeerde Kerk teenoor die Kruger-huis Krugerdag-herdenkings gehou.

Die voorsitter van die Krugergenootskap, Louis Engelbrecht, het ’n boodskap gerig aan diegene wat hierdie herdenkingsgeleenthede bygewoon het.

“Dit sou vir Oom Paul ’n riem onder die hart wees dat sy volk hom nog steeds onthou. Nog meer, dat ons agter Oom Paul steeds die hand van die Here raaksien en onthou dat alle eer aan die Here toekom. Mag ons ook, soos Oom Paul, ons lewens onder die Here se hand stel.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button