Local news

Tragiese botsing eis geliefde gemeenskapsleier

’n Geliefde gemeenskapswerker, Danie Kruger (87), is in ’n tragiese botsing op 28 September oorlede. Sy vrou, Rina, herstel ná beserings. Die egpaar was bekend vir hul gebedsbediening, hospitaalbesoeke aan siekes en diens aan ander. Danie se nalatenskap van liefde en geloof leef voort.

’n Tragiese botsing tussen ’n geliefde egpaar en staatmakers in die Centurion-gemeenskap, Danie en Rina Kruger se voertuig en ’n minibustaxi naby die hoek van Saxbylaan en Wierdastraat op 28 September, het tot Danie se dood gelei.

Sy vrou, Rina, het minder ernstige beserings opgedoen, maar sy is tans in ’n rolstoel as gevolg van die kraak in haar bekken, asook haar regter-enkel.

Daar is ook met die bloedtoetse gemerk dat sy ’n hartkwaal het. Sy sterk nou aan by haar peetkind, Rietha Matthee.

Danie se dogter, Karin du Toit, beskryf die moeilike tyd sedert die ongeluk en die begrafnis op 10 Oktober as “hartseer”. Maar omdat ons geweet het wie my pa was, en waarin hy geglo het en nou bewus raak van hoe groot sy lewensnalatenskap is, kry ons die gebeure meer in perspektief geplaas. Ons was altyd bewus dat hy ’n groot impak gehad het, maar nie besef dit was só groot nie.”

Danie en Rina was onafskeidbaar.

“Hulle was soos skaduwees van mekaar,” sê Du Toit. “Hulle het altyd hand aan hand gestap. Elke aand het hulle saam twee ure lank stiltetyd gehou en in gebed ingetree vir hul eie gesin, familie, vriende en almal wat op hul gebedslys was. Hulle het daagliks vir die land, gemeenskap en lede van die gemeente by naam gebid.”

Rina, oorspronklik van Kanoneiland naby die Upington-omgewing, was nie net Danie se lewensmaat nie, maar sy geestelike bondgenoot.

“My ma het hom altyd ondersteun. Stil, getrou, en met ’n sagte krag,” sê Karin. “Sy het saam met hom die pad van toegewyde dienswerkers gestap.”

Danie, oorspronklik van Vereeniging, het ’n diep liefde vir mense en hul lief en leed gehad.

Selfs op 87-jarige ouderdom het hy steeds ten minste drie keer per week hospitaal toe gegaan, nie as pasiënt nie, maar om pasiënte te besoek, vir hulle te bid en as trooster.

“Hy het selfs ’n hospitaalkaart gehad sodat hy by enige hospitaal toegelaat kon word vir gebed en bemoediging. Mense vir wie hy oor die jare gebid het, het na sy dood van oral af kontak gemaak. Hulle het gesê hy het hulle soos ’n dissipel gelei, vertroos en bemoedig,” vertel Du Toit. “Hy en my ma was altyd bereid om te luister, bid en help.”

Sy verduidelik hoe diegene wat na sy afsterwe eer aan hom gebring het, vertel hy het dikwels rondgery om te help. Hetsy om ’n saak af te handel, besoeke aan ouetehuise te bring, mediese besoeke en gebede, wat dikwels in ’n kuier ontaard het.

Rina het dié roeping van diens aan die gemeenskap met hom gedeel. Hulle was deel van die gebedsgroep by Kerk-in-die-Suid in Centurion en het gebedsversoeke van regoor die land ontvang. Mense vanuit die Kaap, Polokwane, Mosambiek en selfs so ver as Malta het met Du Toit in aanraking gekom oor haar pa.

Hulle het saam ook ouers en kinders gehelp wat vasgevang was in dwelms.

Danie se matriekreüniegroep van 1956 het hy jaar ná jaar aan die gang gehou.

“Hy was oral altyd die brugbouer. Hy het regoor die land mense se lewens aangeraak. Hy en Rina was 28 jaar lank getroud, en saam het hulle ’n voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en geloof getoon.”

Rina en Danie Kruger van Centurion. Foto: Verskaf

Rina sterk fisies en emosioneel aan na haar beserings, vertel Du Toit.

“Dit gaan ’n lang pad van genesing wees. My pa was haar anker, maar sy het ’n stille vrede met sy afsterwe omdat sy weet dat hy by sy Hemelse Vader is en as dissipel in die hemel verwelkom sou word. My pa het nie net vir mense gebid nie. Hy het vir hulle beter welstand, omstandighede en hul redding in Jesus geleef.”

  • ‘n Back a Buddy-veldtog is geskep om Rina Kruger met mediese onkoste te help: https://www.backabuddy.co.za/campaign/rina-kruger-se-genesingspad

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button