Local news

Kommandokorps eis ondersoek na Jooste se dood in aanhouding

Die Kommandokorps eis ’n onafhanklike ondersoek na kolonel Franz Jooste se dood in aanhouding. Jooste is op 20 Oktober in Kalafong-hospitaal in aanhouding oorlede.

Die Kommandokorps versoek die Departement van Korrektiewe Dienste om ’n onafhanklike ondersoek in te stel na die dood van hul voormalige leier, kolonel Franz Jooste (71), wat Maandagaand in Kalafong-hospitaal gesterf het terwyl hy in aanhouding was.

Majoor André Nel van die korps sê Jooste se regspan is eers die volgende oggend by die Pretoria-Noord-magistraatshof in kennis gestel van sy afsterwe.

“Dis bitter hartseer dat niemand in sy familie voor dié tyd iets geweet het nie of die Maandagaand in kennis gestel is nie,” sê hy.

Nel het bevestig lede van die gesin sal op 22 Oktober Jooste se lyk by Kalafong-hospitaal gaan uitken.

“Ons is bekommerd oor die wyse waarop die owerhede die situasie hanteer het. Niemand kon of wou ons sê waar hy wanneer was nie, en selfs tydens ’n besoek aan die korrektiewe sentrum se hospitaal twee weke gelede het dit ure geneem om hom op te spoor,” sê Nel.

“Ons het hom juis besoek om te sien of sy behandeling korrek is.”

Nel het bevestig Jooste het vroeër vanjaar ’n hartaanval gehad en het aan diabetes gely.

Jooste was sedert 7 September in aanhouding ná sy inhegtenisname op ’n moordklag. Sy eerste verskyning was op 9 September.

Hy is beskuldig van die moord van George Edward Turner, wat ’n kamer op Jooste se plot in Vissershoek gehuur het, sowel as die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Volgens Jooste se hofverklaring het hy Turner uit noodweer geskiet nadat laasgenoemde ondanks ’n beskermingsbevel teruggekeer het na Jooste se eiendom ná ’n geweldsvoorval tussen Turner en sy vrou.

Jooste het op 17 Oktober in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek, maar as gevolg van ’n kragonderbreking is die saak oorgedra na Maandag, 21 Oktober.

Jooste se prokureur, Dylan Janse van Rensburg, het aan Rekord verduidelik dat Jooste egter nie op 21 Oktober hof toe gebring is nie.

Hy vertel hoe hy Maandag en Dinsdag vergeefs probeer het om inligting oor sy kliënt se toestand te bekom.

“Ek het verskeie nommers by die Korrektiewe Sentrum geskakel maar geeneen is beantwoord nie. Dinsdagoggend by die hof het ek nog ’n alternatiewe nommer bekom en die saak afgestaan om net die nommer ook te skakel, maar weereens ongedane sake. Ek is terug hof toe en versoek dat die saak voortgaan. Die aansoek is toegestaan,” vertel Janse van Rensburg.

Daar is uiteindelik Dinsdag borgtog van R3 000 aan Jooste in sy afwesigheid toegestaan deur landdros Pierre Wessels op gronde van onder meer sy verswakkende gesondheid in die belang van geregtigheid.

Janse van Rensburg het die borggeld gaan betaal en terwyl hy op die kwitansie gewag het, is hy deur die Klerk van die Hof versoek om terug te keer na die hof waar hy op rekord deur die landdros meegedeel is dat Jooste oorlede is.

Dié nuus is toe deur hom aan die familie en lede van die korps oorgedra, van wie sommige dit eers via ’n WhatsApp-groep van die korps verneem het.

“Niemand is van Jooste se afsterwe in kennis gestel nie. Ek het in die hof daarvan verneem.”

Jooste het ná sy inhegtenisname die leierskap van die Kommandokorps neergelê. Hy is die rang van kolonel by die Opperraad van die Kommandokorps toegeken.

Die organisasie was reeds in die verlede onder die soeklig oor hul paramilitêre kampe vir jong seuns wat onder leiding van Jooste sedert 2009 gehou is.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste het aan Rekord op 23 Oktober gesê dat Jooste op 19 Oktober tot die Kalafong-hospitaal toegelaat is vanaf die Kgosi Mampuru II Bestuursarea.

“Die familie van die oorlede gevangene is op dieselfde dag van sy afsterwe in kennis gestel. Die amptelike oorsaak van dood sal bevestig word na die uitslag van die Departement van Binnelandse Sake se DHA-1663-proses,” bevestig Nxumalo.

Volgens hom kon die hof nie onmiddellik in kennis gestel word nie, aangesien pogings om die ondersoekbeampte te kontak onsuksesvol was.

“Die Departement betuig sy meegevoel aan die familie en sal voortgaan om die nodige ondersteuning te bied in ooreenstemming met toepaslike prosedures.”

  • Kommentaar van die Department Korrektiewe Dienste is op 23 Oktober by ontvangs daarvan bygewerk.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button