Toek-toeks, e-taxis nou in rowers se spervuur
Misdade soos e-taxirooftogte en toek-toek-aanvalle neem toe in Eersterust. Gebrekkige straatligte, onwettige vullisstorting en los diere vererger die misdaadsituasie. Gemeenskapslede pleit vir samewerking en daadwerklike optrede.
Die aard van misdaad in Eersterust is besig om te verander en gemeenskapsamewerking is belangriker as ooit.
Dit is die boodskap wat ’n lid van die Eersterust GPF, Henry Godfrey, na meer as twee dekades as aktiewe lid van die forum aan Rekord oorgedra het.
“Alhoewel huisinbrake en die diefstal van selfone by skoolkinders steeds aan die orde van die dag is, is daar nuwe misdade wat kop uitsteek.”

Hy verwys spesifiek na die toenemende misdaad rondom e-huurmotor- en toek-toekbestuurders, wat beide deesdae in Eersterust ’n gereelde teiken vir rowers geword het.
Godfrey verduidelik dat e-taxibestuurders dikwels gevra word om klante op te laai, net om dan met ’n vuurwapen of mes gedwing te word om na die Holyhoke-begraafplaas te ry, waar hulle van hul selfone, beursies en soms hul voertuie beroof word.
“Die e-taxibestuurder wil dikwels nie sulke sake by hul maatskappye aanmeld nie, uit vrees dat hulle hul kontrakte sal verloor, en juis hieroor kan daar nie ’n slag teen hierdie e-taximisdaad geslaan word nie,” sê hy.
“Van die forum se kant het ons ook die saak met die e-taxibedryf se rolspelers probeer aanspreek maar sonder veel sukses. Ons beoog om nog pogings tot gesprek aan te knoop en ’n oplossing in plek te kry.”

Wat toek-toek bestuurders betref, glo Godfrey dat hul werksure hul onnodig blootstel aan gevaar.
“Van die toek-toeks ry op tye wat hulle nie veronderstel is om te ry nie, soos om 01:00, en word dan blootgestel aan misdaad,” sê hy.
Die forum het al voorstelle gemaak dat meer sigbare patrollies in die nag gedoen word om potensiële rowers vas te trek.
’n Verdere bekommernis is dat baie van hierdie misdade in donker strate plaasvind, wat volgens Godfrey te wyte is aan gebrekkige straatligte.
“Die metro herstel nie die straatligte wanneer dit rapporteer word nie,” sê hy, en voeg by dat die duisternis ’n gunstige omgewing vir misdadigers skep.
Die diefstal van selfone onder skoolgaande kinders is steeds ’n groot probleem in die gebied.
“Selfone word dikwels by kinders geroof wanneer hulle van of na die skole stap,” sê Godfrey.
Die rowers, volgens hom, spring dan vinnig in ’n nabye toek-toek en verdwyn van die toneel.
“Dit is veral die toek-toeks wat nie gemerk of geregistreer is nie wat deel vorm van hierdie misdaad en dus nie by die polisie of metropolisie aangegee kan word nie.”


Die misdade rondom toek-toeks word tans met die bedryfsorganisasies bespreek om veral ten opsigte van registrasie ’n oplossing te vind.
Tog is daar ook ’n goeie nuus. Godfrey glo dat die gemeenskap deesdae meer bereid is om met die GPF saam te werk, veral in gevalle van nood.
“Die gemeenskap versterk die forum se hande, veral ook in die geval van brande, deur ons betyds in kennis te stel sodat die brandweer ontbied kan word.”
Ten spyte van uitdagings, glo hy die verhouding tussen die forum en die metro kan verbeter, veral as dit by die toepassing van bywet-wetgewing kom.
Een so ’n by-wet wat hy meen nie genoegsaam gepolisieer word nie, is regulasies rondom onwettige vullisstorting, iets wat nie net die higiëne van die buurt aantas nie, maar ook sekuriteitsrisiko’s meebring.
“Die storting van vullis lok gewoonlik ook misdadigers wat daardeur wil soek vir herwinning.”

Hy reken as die metro die areas skoon hou, sal daar minder probleme in Eersterust wees.
Hoewel die gemeenskap self deur organisasies soos die Eersterust Community Development Forum skoonmaak-aksies loods, beklemtoon Godfrey die belangrikheid van volgehoue betrokkenheid van die metro.
“Ons wil toesien dat die metro veral in strate bekend vir onwettige rommelstorting, soos Hearts-laan en Hans Coverdalestraat, meer gereeld skoonmaak.”
Nog ’n kwessie wat die forum onder die metropolisie se aandag wil bring, is die probleem van loslopende plaasdiere in die woongebied.
“Daar is elke dag los beeste wat in Eersterust rondloop,” sê Godfrey. “Al word hulle aangegee, doen die metropolisie net mooi niks hieraan nie.” Hy waarsku dat dit nie net verkeersgevare inhou nie, maar ook gesondheidsprobleme veroorsaak.
Godfrey, ’n oupa van tien kleinkinders, glo hierdie rol as pa en oupa dryf sy passie om Eersterust veiliger te maak.
“My droom is om Eersterust vir die volgende geslagte veiliger te maak sodat hulle ’n kwaliteit lewe kan lei,” sê hy vasberade.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
