Pretorianer sangers en sakelui skitter in Paarl
Plaaslike inwoners, party met Pretoria-gebaseerde sake-ondernemings, en klein- en mediumondernemings regoor Suid-Afrika het erkenning ontvang by die onlangse Lottoland ontbytSAKE Onderneming van die Jaar-toekennings.
Talle Pretorianers soos sanger Wilmari Senekal, sanger Renaldo Alberts en weeraanbieder wyle Anika de Beer sowel as sake-ondernemings met hul hoofkantoor in Pretoria, soos Laeveld Agrochem, was wenners tydens die Lottoland ontbytSAKE Onderneming van die Jaar-toekennings.

Die toekenningaand is op 23 Oktober by die Nederburg-wynlandgoed in die Paarl gehou.
Die glansgeleentheid het die sakegerigte gees van die ontbyt-TV-program ten volle beliggaam en het klein- en mediumondernemings van regoor Suid-Afrika gevier.
De Beer se toekennings is namens haar ontvang aangesien sy reeds ernstig siek tydens die toekenningsdatum was. Sy het op 26 Oktober na haar stryd met melanoom fase drie-kanker gesterf nadat die siekte in 2021 by haar geïdentifiseer is.
Senekal het die toekenning vir beste liedjie deur ’n onafhanklike kunstenaar ontvang met haar treffer Paaie, terwyl Renaldo Alberts bekroon is as beste onafhanklike kunstenaar, ’n trotse oomblik vir Pretoria se musiektalent.
Verskeie ondernemings het ook erkenning ontvang vir uitnemendheid in hul veld.

Henwil Chickens van Lichtenburg het as algehele goue wenner uitgestyg, met Insect Science (’n pesbeheerondrneming) wat die silwer toekenning huis toe geneem het en Ouma Rooi Koeksisters van Ermelo wat ’n bronsmedaljewenner was.
Kategorieë het gewissel van media- en bemarkingsprestasie tot besigheidsinnovasie.
Straight Line Tyres van Alberton is as top Klein- tot Mediumsake bekroon, Christo Strydom Nutrition (Mosselbaai) het die Medium- tot Grootsake-afdeling gewen, en Laeveld Agrochem het met die Grootsake-titel weggestap.
Onder die ander hoogtepunte was Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees vir beste ateljee-onderhoud, Bundutec vir beste buitelugadvertensie, en Fujifilm SA vir beste digitale media-plasing.
Senekal het ook op die toekenningsaand opgetree en sê dit was ’n ongelooflike voorreg om deel te kon wees van die glansgeleentheid.
“Om die rooi tapyt te deel met soveel invloedryke mense en om nog die geleentheid te kry om my liedjie Paaie te kon sing, waarvoor ek ook die Beste liedjie deur ’n onafhanklike kunstenaar toekenning ontvang het, laat my so dankbaar voel,” sê sy.

Daar was agt besigheidskategorieë, waarin ’n totaal van 80 besighede deelgeneem het.
Die beoordelingsproses het intern plaasgevind en is gemeet op sterkte van die kwaliteit en kykbaarheid van die TV-insetsels, die ateljee-onderhoude, die plasings op digitale media of die reklamebordadvertensies.
“As deel van ontbytSAKE se 25-jaar viering het ons besluit om verdere blootstelling en erkenning aan die land se klein- en medium sakeondernemings te gee. Die doel van hierdie aand is om besighede op die voorgrond te plaas. Elkeen van hierdie sakemanne en -vroue is wenners in eie reg en hul bly ons mense, ons besighede en ons trots,” voeg eienaar en uitvoerende vervaardiger, Louis Mclaren, by.
Die 68-jarige bronswenner en inwoner van Ermelo, Gerda Swanepoel van Ouma Rooi Koeksisters, se suksesverhaal is inspirend.

Swanepoel het aan Rekord gesê die oorspronklike resep wat sy van haar ma gekry het, vorm steeds die basis vir die koeksisters wat vanaf die Ermelo-fabriek landwyd in voedselkettingwinkels te kry is.
Swanepoel het 40 jaar van koeksisters bak agter die rug nadat sy in haar eie kombuis in Ermelo in die tagtigerjare eers net met ’n klein skottel deeg vir ’n tuisnywerheid begin bak het. Mettertyd het sy ’n perseel gekry waarin sy ’n bakkery gevestig het met ’n winkel vooraan.
“Die eerste keer moes my man en niggie gehelp het om die deeg in so ’n deegwurm te rol en vas te hou dat die repies gesny kan word,” vertel sy nostalgies.
Sy is trots daarop dat die onderneming deesdae werk aan meer as 80 werknemers, waarvan meer as 99% vroue, in haar fabriek op Ermelo van 500 vierkante meter verskaf.
Sy glo van haar sukses kan toegeskryf word aan die feit dat sy die nismark vir koeksisters vroeg raakgesien het.
Swanepoel het met wengeld wat sy mettertyd in kompetisies gewen het, soos ’n kompetisie van Hulletts vir die beste koeksisters in Suid-Afrika en ’n bakkompetisie van die Innibos Laeveld Kunstefees, beleggings in haar sake-onderneming begin maak.
Sy het ook derde in die Koekedoor-kompetisie gekom.
Al haar produkte word met die hand gemaak, verpak en versprei.
Vir Swanepoel is die hoogtepunt van haar sake-onderneming steeds dat ‘iets so kleins soos ’n koeksuster tot so ’n onderneming kon groei wat nou op hierdie manier vereer is’.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
