Local news

Metrohoofde onder skoot oor afwesigheid by wyksvergadering

Inwoners van Wyk 1 het die metro se metrohoofde oor gebrekkige dienslewering, stukkende straatligte en misdaad tydens ’n vergadering skerp aangespreek. Slegs een senior bestuurder het die vergadering bygewoon. Wyksraadslid Leon Kruyshaar eis groter aanspreeklikheid en dringende ingryping van stadsbestuur en die SAPS.

Die inwoners van Wyk 1 in Pretoria het onlangs tydens ’n wyksvergadering hul toenemende frustrasie oor swak dienslewering en ’n gebrek aan aanspreeklikheid uitgespreek.

Wyk 1 sluit gebiede soos Daspoort, Claremont, Hermanstad, Pretoria Gardens, Booysens, Suiderberg, Mountain View, Capital Park, Roseville, Eloffsdal en Les Marais in.

Die gemeenskap het duidelik gemaak dat hulle wil hê stadsamptenare moet meer gereeld gemeenskapsvergaderings bywoon om direk verantwoording te doen.

Volgens wyksraadslid Leon Kruyshaar, “was Mnr. Frans Deale die enigste senior bestuurder van die metro wat die vergadering bygewoon het, al is daar twee weke kennis aan metrobestuursbeamptes gegee. Dit bemoeilik die proses van aanspreeklikheid, en lei daartoe dat frustrasies onnodig ophoop oor swak dienslewering deur die stad”.

Die besprekingspunt waaraan die meeste tyd spandeer is, was straatligte.

Talle inwoners het hul kommer uitgespreek oor ligte wat glad nie werk nie, terwyl ander 24 uur per dag brand.

Inwoners voel hierdie probleem het nie net ’n invloed op die leefkwaliteit nie, maar dra ook by tot verhoogde misdaadvlakke in sekere dele van die wyk.

Deale het tydens die vergadering belowe dat die elektrisiteitsafdeling “onmiddellik aandag aan die probleem sal gee, met spesifieke fokus op die hoofroetes”.

Inwoners het daarop gewys dat meer as 70% van die straatligte in Wyk 1 steeds buite werking is, al is versoeke gerig en het die raadslid gepleit dat die versoeke geëskaleer word.

Die hoofstrate wat dringend aandag benodig sluit in Bremerstraat, Van der Hoffweg, Eskia Mphahlele-rylaan, Mootstraat en Denyssenlaan, waar talle ligte reeds maande lank nie werk nie.

Die gemeenskap het ook vrae gevra oor die stad se begroting.

Verskeie inwoners wou weet wat geword het van die 2024-begroting waarin fondse begroot was vir die vervanging van straatligte met sonkragligte.

Sommige het hul kommer uitgespreek oor die aanpassingsbegroting onder die bestuur van die ActionSA-, ANC- en EFF-koalisie, wat aansienlike verskuiwings tussen departemente tot gevolg gehad het.

“Daar is bewerings dat sekere departemente se begrotings gekanselleer is om voorsiening te maak vir watertenkwaens en sekuriteitskontrakte, wat glo meer as verdubbel het,” het een inwoner genoem.

Kruyshaar voel hierdie onsekerheid dra by tot wantroue en ontevredenheid in die gemeenskap.

Nog ’n groot bron van kommer was die toename in misdaad en die rol van die polisie.

Inwoners het hul frustrasie uitgespreek oor die gebrek aan sigbare patrollies en die swak hantering van oortreders.

Volgens Kruyshaar, “is daar versoek dat SAPS die wet strenger toepas en meer sigbaar sal wees, en dat die metropolisie se bywet-eenheid dringend moet optree teen persone wat onwettig op sypaadjies besigheid doen, veral in Van der Hoffweg en Mootstraat”.

Die Hercules SAPS is skerp gekritiseer vir hul gebrek aan optrede.

Kruyshaar het verder aangevoer: “Verskeie oortreders is deur gemeenskapslede en sekuriteitsbeamptes gearresteer, maar word dikwels weer vrygelaat weens sogenaamde onvoldoende getuienis”.

“’n Groot bekommernis is dat Hercules SAPS dikwels geen voertuie beskikbaar het om klagtes na te speur nie. Gevolglik rapporteer inwoners toenemend nie meer misdaad nie,” het hy bygevoeg.

Die gereelde diefstal van koperkabels en vandalisme aan infrastruktuur is nog ’n groot uitdaging vir die gemeenskap aangesien dit tot kragonderbrekings lei.

Kruyshaar het verduidelik dat “dit lei tot groot verliese vir besighede en inwoners, veral vir bejaardes wat afhanklik is van Sassa en nie kan bekostig om elke week bederfde kos te vervang nie”.

Kabeldiefstal het ook ’n direkte impak op elektrisiteitsvoorsiening en straatligte, wat die sirkel van swak dienslewering versterk.

Benewens kragprobleme word die wyk ook geknel deur gereelde pypbarstings en wateronderbrekings.

Die derde naweek in Oktober was daar vir hierdie buurte slegte nuus: weer twee dae sonder water ná geskeduleerde instandhouding deur die metro.

Kruyshaar het sy teleurstelling uitgespreek en gesê: “Mense kan dalk sonder krag klaarkom, maar nie sonder water nie. Dit is immers in die Grondwet as ’n mensereg vervat”.

Rekord het navrae aan die metro gestuur, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button