Leerder is eerste met liefde vir geskiedenis
Nicole White se prestasie in 'n geskiedenisolimpiade bewys dat ’n passie vir hierdie vak ’n dieper waardering vir mense en hul ervarings kan kweek. Deur volharding, gesinsdeelname en ’n liefde vir leer, het sy bewys dat kennis van die verlede ’n kragtige instrument is om die toekoms te verstaan.
’n Graad 11-leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) se oorwinning in die FAK-Geskiedenisolimpiade vanjaar is ’n bewys van haar deursettingsvermoë, passie en liefde vir geskiedenis.
Nicole White is nie net die hoërskoolwenner in die vak in haar skool nie, maar ook die algehele wenner van die nasionale kompetisie vir hoërskoolleerders.
Meer as 1 000 leerders van 54 skole landwyd het daaraan deelgeneem.
Haar ontdekkingsreis met geskiedenis het veel vroeër begin, met die aanmoediging van haar ouers wat haar laat vrae vra het en die verlede onder die soeklig geplaas het.
“My liefde vir geskiedenis is definitief aangevuur deur my ouers,” het White aan Rekord vertel.
Hierdie nuuskierigheid het haar op avontuurlike gesinsreise ontdekkings laat maak, van ’n Amerikaanse toer deur New York en Washington tot die ryk skatte van Europa se geskiedenis.
Tog is dit die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat haar die naaste aan die hart lê.
Slagveldbesoeke in KwaZulu-Natal, en selfs die klim van die geskiedkundige berg Majuba in KwaZulu-Natal saam met haar pa, hou vir haar ’n diepgaande betekenis in.
Sy glo hierdie ervarings het haar ’n sterker begrip en deernis gegee vir die lief en leed van mense in die verlede.
“Ek het soveel meer deernis veral met mense se deursettingsvermoë,” sê sy.
Haar toewyding aan geskiedenis is ook geïnspireer deur haar geloof in Teddy Roosevelt se woorde: “Hoe meer jy van die verlede weet, hoe beter kan jy jou op die toekoms voorberei”.
Haar sukses in die olimpiade is ook ’n weerspieëling van ’n gesinslewe wat geskiedenis vier.
Die White-gesin ry graag saam deur die land met verkyker, voëlboek, musiek en vasvra-kaartjies in die voertuig om elke oomblik op die pad as ’n leergeleentheid te gebruik.
Colleen Naude, bemarkings- en skakelbeampte van AHMP, sê: “Ons is baie trots op Nicole. Haar sukses herinner ons daaraan hoe waardevol die vak Geskiedenis in skole is om begrip, kritiese denke en kennis van ons verlede te kweek en bevorder.”
Die FAK se Geskiedenisolimpiade, wat vanjaar vir die sesde keer aangebied is, bied ’n unieke platform vir jongmense om die diepte en rykdom van die Afrikaner se geskiedenis te ontdek.
Elke ouderdomsgroep verken toepaslike temas, van die Kaapse vestiging en die Groot Trek tot die ontdekking van goud, die Rebellie, die stigting van die twee Boere-republieke, die Anglo-Boereoorlog en die wêreldoorloë daarna.
Die doel van die olimpiade is nie bloot om feite te memoriseer nie, maar om leerders te help om hul identiteit te verstaan en ’n groter prentjie van geskiedenis saam te stel.
Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK, verduidelik: “Wanneer ’n leerder in graad 4 aan die Geskiedenisolimpiade begin deelneem, begin hy of sy ’n reis wat jaar ná jaar voortbou. Teen die tyd wat hierdie leerders matriek bereik, het hulle nie net ’n deeglike begrip van die Afrikaner-geskiedenis nie, maar ook die insig om die groter prentjie aanmekaar te sit, soos om ’n legkaart oor die jare te bou.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
