Rauch se lied Huis skitter by Aitsas
By die Aitsa Musiektoekennings 2025 het die liedjie, “Huis”, gesing deur Laurika Rauch drie pryse ontvang terwyl Kurt Darren, Demi Lee Moore en Karlien van Jaarsveld elk twee toekennings ontvang het. Anton Goosen is vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek tydens die toekennings se viering van Afrikaans se 100-jarige bestaan as amptelike taal.
By die Aitsa Musiektoekennings 2025 is Laurika Rauch met haar vertolking van die liedjie Huis aangewys as die kunstenaar met die meeste toekennings, drie in totaal.
Die aand is behoorlik oorheers met Huis, wat nie net die prys vir Ballade van die Jaar gewen het soos gesing deur Rauch nie, maar die lied het ook ’n Aitsa verdien vir Liedjieskrywer van die Jaar met Marco van Deventer en Georic Lomas as skrywers.

Die liedjie het ook ’n Aitsa gekry in die kategorie Vervaardiger van die Jaar vir vervaardigers Juan ‘Floors’ Oosthuizen en Paulo Azevedo.
Kurt Darren het met twee toekennings weggestap. Sy aansteeklike treffer Hop Hop Spinnekop is aangewys as Pop Liedjie van die Jaar, terwyl hy ook die eer ontvang het vir Meeste Stromings: Manlik.
Demi Lee Moore het ewe indrukwekkend twee pryse gewen: haar album Klein Dingetjies is bekroon as Album van die Jaar, en haar duet As ek dalk saam met Eloff is aangewys as die wenner in die afdeling Meeste Stromings: Duo/Groep.

Karlien van Jaarsveld was ook betrokke by twee toekennings. Haar lied Ek verstaan saam met Dodo Nyoka is aangewys as Kontemporêre Liedjie van die Jaar, terwyl die musiekvideo vir “Katrientjie Katryn” waarin sy sing, die Musiekvideo van die Jaar aan Gerduan Kemp en Coleske Artists besorg het.

Benewens die groot wenners van die aand, was daar ’n hele paar ander kunstenaars wat elk met ’n toekenning huis toe is.
Janie Bay en Hunter Kennedy is bekroon vir Ons Verander as Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar, terwyl Bernice West met Die herlewing is hier die prys vir Geestelike Liedjie van die Jaar ingepalm het.
Franco Prinsloo is vereer vir sy werk aan die TV-reeks Nêrens Noord-Kaap Deel 2 as Klankbaan vir ’n film of TV-produksie, en Rocco de Villiers het die toekenning vir Klassieke/Instrumentale Snit van die Jaar ontvang vir Vanuit my bakkie.
Early B het met Madoda die eer gekry vir Kletsrym Liedjie van die Jaar, en Brendan Peyper het gewen met Kyk, wat as Sokkie Liedjie van die Jaar aangewys is.
Chris Steyn is beloon vir Plaas dorp toe as Afrikaanse Liedjie van die Jaar, terwyl Tamlyn Wessels die toekenning vir Meeste Stromings: Vroulik ontvang het vir haar lied Klein Bietjie.
Die nuwe groep van drie sangers se orkes Sonder Onderbroeke is aangewys as Nuweling van die Jaar.
In sy 79ste lewensjaar is Anton Goosen, bekend as die Liedjieboer, ook deur die Aitsa Afrikaanse Musiektoekenningstrust vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.

“Hy is ’n baanbreker, oorspronklike skepper, lewende legende en ’n hedendaagse profeet. Dit is vir die trust ’n voorreg om hom te vereer vir sy bydrae wat oor meer as 50 jaar strek,” het Willie Spies, uitvoerende voorsitter van die trust, tydens die aankondigingseremonie gesê.
Goosen, gebore op 5 Maart 1946 in Middelburg, het deur sy loopbaan Afrikaanse musiek onherroeplik gevorm. Sy treffer, Blommetjie gedenk aan my word algemeen beskou as die eerste Afrikaanse rocklied, en hy het ook tydens sy loopbaan liedjies geskryf vir kunstenaars soos Sonja Herholdt, Laurika Rauch en Carike Keuzenkamp. Sy albums Boy van die Suburbs, Liedjieboer en Padkos het hom nie net goudstatus besorg nie, maar ook ’n plek in die hart van elke Afrikaanssprekende musiekliefhebber.
Stasiebestuurder van Pretoria FM wat ’n noue band met die toekennings het, James Kemp, het die toekennings vanjaar beskryf as ’n viering van nie net musiek nie, maar van Afrikaans self.
“Die toekennings was vanjaar iets besonders, want nie net musiek is gevier nie, maar ook Afrikaans se honderdjarige bestaan as ’n amptelike taal,” het Kemp gesê.
Die skemerkelkgeleentheid by die Grove-winkelsentrum in Pretoria-oos het die perfekte atmosfeer geskep vir die aankondiging van die wenners, met meer as 200 gaste, waaronder genomineerdes, borgverteenwoordigers, radiopersoonlikhede en ander bekendes.
Volgens Kemp kan kunstenaars of hul platemaatskappye hul eie inskrywings indien, waarna ’n beoordelaarspaneel die inskrywings oorweeg en die finaliste en wenners aanwys. In die nuwe kategorieë, waar die meeste stromings op digitale platforms oorweeg is, is amptelike data van Apple Music, Spotify en YouTube Music gebruik.
Die twee-uur lange TV-program oor die toekennings wat op 6 November op die VIA-kanaal uitgesaai is, het die wenners aangekondig in ’n verrassingsformaat.
Aanbieders Reynardt Hugo en Reandi Grey het die kunstenaars onder ’n voorwendsel na die ateljee gelok en hulle verras met hul trofeë.
Twee nuwe kategorieë, Sokkie Liedjie van die Jaar en Klankbaan vir ’n film of TV-produksie, is vanjaar ingesluit om die verskeidenheid van Afrikaanse musiek te vier en die groeiende invloed van Afrikaanse klankbane in TV en film te erken.
Volgens Spies wys hierdie verandering van kategorieë hoe die musiekbedryf aanpas by nuwe luistergewoontes en digitale invloede.
“Die Aitsa Musiektoekennings vernuwe voortdurend om tred te hou met die dinamiek van die musiekbedryf. Elke jaar is daar iets nuuts en iets moois, want elke jaar bring nuwe omstandighede,” het hy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.





