Boesemvriendinne bring hoop en herstel aan vroue
Die projek van Solidariteit Helpende Hand en Kansa versprei sagte, gebreide borsprosteses aan vroue wat mastektomie ondergaan het. Projekleier Chandré Oosthuizen en René Roux sê dit bring hoop, waardigheid en gemeenskap.
In ’n wêreld waar borskanker daagliks lewens verander, staan medemenslikheid en samehorigheid sterker as ooit.
Die Boesemvriendinne-projek van Solidariteit Helpende Hand, in vennootskap met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), het hierdie jaar meer as 4 507 sagte, liggewig gebreide prosteses beskikbaar gestel vir vroue wat hul borste moes laat verwyder as gevolg van borskanker.
Vir Chandré Oosthuizen, projekleier van Boesemvriendinne, is hierdie projek veel meer as net ’n handewerk-inisiatief.
Dit is ’n beweging van hoop, herstel en vroue wat vir mekaar opstaan.
“Ek het in onkologie gewerk en ervaar hoe diep kanker se letsels strek,” vertel sy. “Hierdie projek bring letterlik en emosioneel verligting.”
Sy verduidelik dat haar werk as maatskaplike werker haar oë oopgemaak het vir die omvang van kanker se invloed.
“In my vroeë jare het ek hoofsaaklik met kinders met kanker gewerk waar genesing soms skaars was. Nou werk ek met vroue waar daar hoop op herstel is ná behandeling. Hoop is ’n brug wat deur emosionele ondersteuning aangegee word, en dit is deel van ons projek om ’n netwerk van ondersteuning te skep.”
Oosthuizen ontvang daagliks talle navrae van vroue wat graag wil help brei of hekel.
“Dis snaaks dat ek self nie kan brei nie,” sê sy met ’n glimlag. “Maar ek leer nou saam met die res. Wanneer iemand bel en sê: ‘Ek’s by ry nege en weet nie wat om te doen nie,’ wil ek darem kan help! Gelukkig het ons van die handwerkkunstenaars geleer om ander te ondersteun. Só het ons ’n nuwe groep ondersteuners geskep van vroue wat mekaar leer, bemoedig en saam groei.”

Sy vertel ook met trots van die Boesemvriendinne-sokkiesprojek, ’n kreatiewe fondsinsamelingsinisiatief in vennootskap met SOX en USN.
“Daar is elke jaar ’n nuwe ontwerp vir die sokkies. Of jy nou op die bank sit of daarmee gaan draf, die kouse werk vir alles, én jy help iemand. Die aankoop van een paar sokkies help twee vroue met ’n paar prosteses. Dis praktiese omgee.”
Oosthuizen het spesiale dank aan Elmé Churr, sangeres en ambassadeur van die projek, betoon.
“Elmé is van die begin af deel van ons Boesemvriendinne-familie. Ons wou haar eintlik verras met die funksie vanjaar en haar bietjie bederf, maar sy het soos altyd ingespring en gehelp. Sy is ’n ware vrou van geloof,” sê Oosthuizen.
Sy glimlag sag wanneer sy ’n liriek aanhaal uit Churr se lied Oorwinnaar: “Sy is ’n oorwinnaar, ’n vlam wat bly brand. Teen die donker het sy opgestaan, met Sy hand.”

Vir René Roux, hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, lê die hart van die projek in die gemeenskap se samewerking.
“Vir baie vroue is duur silikoonprosteses eenvoudig nie bekostigbaar nie,” verduidelik Roux. “Hierdie gebreide prosteses bied fisiese gemak, maar veral ook emosionele genesing. Dit gee vroue die kans om hul selfbeeld, menswaardigheid en gevoel van normaliteit terug te vind.”

Sy beskryf elke prostese as ’n boodskap van liefde.
“Dis meer as net wol en vulling en ’n gebaar van hoop en omgee. Dis vroue wat vir vroue opstaan. Baie van die prosteses word deur ouer dames gebrei wat elke steek vul met geduld en sagte aanmoediging. Hulle brei dat dit bars, en dikwels sluit hulle klein ekstra gebreide verrassings by om ’n glimlag saam met elke prostese te stuur.”
Verskeie versendings is reeds landwyd via Kansa se kantore versprei, sodat vroue in stede én klein dorpe die ondersteuning kan ontvang wat hulle verdien.
“Ons wil hê dat geen vrou agtergelaat word nie,” sê Roux.
By die onlangse oorhandiging by die Voortrekkermonument van die prosteses aan Kansa vir verspreiding is die nuwe Boesemvriendinne-kortvideo ook bekendgestel, met die doel om groter bewusmaking oor borskanker te skep.
“Hierdie projek wys die krag van gewone mense wat met liefde iets buitengewoon kan doen. Elke bydrae, hoe klein ook al, maak ’n tasbare verskil,” voeg Roux by.
Die publiek word uitgenooi om aan te sluit, te help brei of finansieel by te dra om nog meer vroue te ondersteun. Vir meer inligting of om betrokke te raak, stuur ’n e-pos na [email protected] of besoek helpendehand.co.za/boesemvriendinne.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
