Local news

Susters ontsteld oor bourommel by graf, geen metrohulp

Twee susters, Janita Marais en Emelia Snyman, kla dat die omgewing rondom hul ma se graf in Zandfontein deur die metro verwaarloos word, met bourommel en ingesakte grafte daarrondom.

Janita Marais van Môregloed in die Moot is diep ontsteld oor die toestand van die area rondom haar moeder, Bettie Prevost, se graf in die Zandfontein-begraafplaas.

Prevost, wat drie jaar gelede op 67-jarige ouderdom oorlede is, was vir vier dekades verbonde aan die Zuid-Afrikaansche Hospitaal in Pretoria en het ook aan die hoof van die hospitaal gestaan. Volgens haar dogters was sy “’n mens wat respek en netheid hoog geag het”.

Marais en haar suster, Emelia Snyman, besoek sedert hul moeder se afsterwe elke maand haar graf, grafnommer T2-1486, om blomme neer te sit en dit self skoon te maak.

Volgens die susters het die toestand van die omgewing rondom die graf egter al hoe meer versleg.

“Ons gaan elke maand met gereedskap om die graf en area rondom Mamma se graf skoon te maak, maar dit bly net so slordig,” vertel Marais. “Blomme wat ons neersit, word gesteel en in oop grafte gegooi. Groot boublokke lê sommer in die pad en om die graf, en niemand van die metro help ons om dit weg te kry nie. Dis net te swaar vir my en my suster om self te dra.”

Hulle verduidelik dat hulle reeds herhaaldelik met sogenaamde werkers gepraat het wat hulle aangeneem het is van die metro.

Volgens Marais het hulle selfs een keer hulp probeer kry by só ’n werker wat hulle by die begraafplaas teëgekom het.

“Die keer toe ons wel hulp vra by iemand wat ons aangeneem het is ’n werker van die metro, is ons R2 000 gevra om die blokke te verwyder. Ons het onmiddellik geweet iets is nie reg nie,” sê sy.

Vir die susters maak die verwaarloosde toestand die rouproses net moeiliker.

“So wil ek nie ons mammie se graf sien nie. Daar is oop en ingesakte grafte rondom haar graf, bourommel, en selfs vuilgoed in die oop grafte naby haar graf. Ons het al probeer reël met iemand wat ons as die begraafplaasopsigter beskou het, maar van beloftes kom niks nie.”

Die familie sê hul oproepe na munisipale kantore vir hulp was onsuksesvol.

“Dis net ’n doodloopstraat,” sê Marais moedeloos. “Ons wil net hê die plek moet respekvol lyk voor Kersfees. My ma verdien dit.”

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo het op die suster se klagtes reageer en verduidelik wie vir instandhouding verantwoordelik is.

“Die stad is verantwoordelik vir algemene onderhoud van die begraafplaas, maar families is verantwoordelik vir die instandhouding van hul individuele grafte,” sê Mashigo.

Hy verduidelik voorts hoekom die boublokke nie vroeër verwyder is nie. Volgens hom is dit wel na Rekord se navrae verwyder.

“Daar is geen begraafplaasopsigters in ons begraafplase nie, buiten die administratiewe personeel wat kliënte by die kantoor help. Gemeenskapslede huur soms private maatskappye om grafstene te installeer, en daardie kontrakteurs los dan die rommel. Dit moet by ons kantoor gerapporteer word, nie aan individue nie.”

Mashigo bevestig dat ’n inspeksie nou wel gedoen is. “Die area is skoongemaak.”

Oor die ingesakte grafte sê hy: “Die meeste grafte sak in weens reën en gronderosie. Wanneer ons dit raaksien tydens inspeksies, word dit hervul.”

Hy beklemtoon ook dat die stad houers vir afval oral in die begraafplaas geplaas het.

“Die begraafplaas is egter te groot om elke persoon se bewegings te monitor. Ons vra dat inwoners verantwoordelik optree en nie rommel strooi nie.”

Twee susters se hartsbegeerte is dat die area rondom hulle ma, Bettie Prevost, se graf in Zandfontein-begraafplaas netjies moet wees. Foto: Verskaf

Oor die beweerde R2 000 vir hulp is hy duidelik.

“Geen munisipale werknemer mag geld neem vir hulp nie. Die mense wat sulke fooie vra, is privaat individue wat hul eie dienste aanbied en nie werknemers van die stad nie.”

Mashigo sê klagtes kan in die kantoor se klagteboek aangeteken word of by die stad aangemeld word. Inspeksies word weekliks gedoen.

“Die amptenare by die begraafplaas sal kliënte help waar moontlik, of hulle kan die munisipale kantoor kontak vir verdere hulp.”

Intussen hoop die Marais-susters dat die omgewing rondom hul moeder se graf nou uiteindelik netjies sal wees en bly. Hulle sal eersdaags weer ’n besoek daaraan kan bring.

“Ons wil net ons mammie se nagedagtenis eer,” sê Marais. “Sy was ’n goeie mens wat baie vir die gemeenskap beteken het en ook geliefd in die aftree-oord was, en haar graf moet dit weerspieël.”

Klagtes oor grafte en begraafplase kan gerig word aan Zandfontein spesifiek: 012 358 3587 en oor die algemeen: 012 385 9999, of op www.tshwane.gov.za aan die hulpsentrum gerig word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button