Local news

G20-beraad ontketen botsende boodskappe op advertensieborde

Betereinders en Solidariteit bots oor advertensieborde wat uiteenlopende boodskappe oor Afrikaner-identiteit dra. Johan Erasmus van Betereinders waarsku dat net een kant van ’n storie gevaarlik is, terwyl Solidariteit met ’n hofstryd hul verwyderde baniere wil beveg. Beide groepe probeer hul eie waarheid en toekomsvisie aan G20-besoekers kommunikeer.

Mede-stigter van die organisasie Betereinders, Johan Erasmus, sê elke saak het twee kante, maar dat albei uiteengesit moet word om balans in enige gesprek te bring sodat die waarheid kan seëvier en nie een groep die aard van die gesprek oorheers nie.

“As jy konstant net een kant van die storie vertel, kan niemand ’n keuse oor die waarheid maak nie,” sê hy.

Hierdie oortuiging lê volgens hom agter die organisasie se besluit om ’n advertensiebord met positiewe nasiebou-boodskappe langs die N1 by Centurion op te rig, en om tydens die G20-beraad in Johannesburg ’n soortgelyke bord te plaas.

“Hoekom ons dit gedoen het, was om te wys dat ons nie die gedagte ondersteun wat deur ander groepe tydens die G20-beraad voorgehou word dat Afrikaners slagoffers van onderdrukking is nie. Ons wil die standpunt oordra dat nie alle Afrikaners die soort Afrikaners is wat President Donald Trump se aanbod om as vlugteling in Amerika aanvaar te word, onderskryf nie. Hieroor het ons ook in die begin van die jaar advertensieborde opgesit,” sê hy.

Sy kommentaar volg terwyl reuse-advertensieborde wat die aandag van G20-besoekers probeer trek, meeding om Afrikaners en Afrikaanssprekendes se perspektiewe oor menseregtekwessies oor te dra.

Aan die een kant is daar die Betereinders se Stronger Together-borde in Pretoria en binnekort in Johannesburg, wat ’n optimistiese, veelrassige toekoms voorhou en impliseer dat persepsies geskep kan word dat net een waarheid oor Suid-Afrika geldig is.

Erasmus benadruk dat Betereinders se advertensiebord nie ’n reaksie is op Solidariteit se borde in Johannesburg wat deur die metro verwyder is nie, maar dat hul borde wel ‘in gesprek’ daarmee tree.

Solidariteit se meer as 30 reuse- elektroniese advertensieborde, wat op 17 November regoor Johannesburg geaktiveer is, dra ’n boodskap wat die regering se rasgebaseerde ekonomiese beleid direk aanval.

Die vroeë verwydering van Solidariteit se G20-gerigte baniere, wat in die tweede week van November teen hoofwegbrugmure aangebring is, sou op 18 November in die Johannesburgse hooggeregshof betwis word.

Solidariteit se elektroniese G20-gerigte advertensieborde in Johannesburg vertoon ’n kritiese boodskap oor rasregulering en regeringsbeleid, en het op 17 November die boodskap begin vertoon.

Die baniere het gelees: “Welcome to the most race-regulated country in the world,” en is deel van Solidariteit se bewusmakingsveldtog vir die G20-beraad.

“Die banier se doel was om ’n spieël vir die wêreld op te hou van Suid-Afrika se rasbeleid. Die regering ontken nou sy eie beleid en verwyder die banier wat daarna verwys. Die banier het nou ook ’n spieël geword van ’n regering wat die reg in eie hande neem en wat vryheid van spraak ondermyn. Terwyl Lesufi ’n staatsman vir G20-lande behoort te wees, is hy nou ’n aktivis wat baniere verwyder,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

In hul hofaansoek vra Solidariteit dat die verwydering van die banier onwettig verklaar word en dat die hof die onmiddellike herstel van die banier op dieselfde plek moet gelas, of dat die banier kosteloos aan Solidariteit terugbesorg word.

Pieter Jordaan, woordvoerder van Solidariteit het aan Rekord verduidelik die Johannesburg-metro gaan nou wel Solidariteit se 70 m lange banier kosteloos teruggee.

Dit volg op ʼn skikkingsooreenkoms op 18 November wat ʼn bevel van die hof gemaak is. Solidariteit sê ook hulle finaliseer ʼn ooreenkoms met die advertensiemaatskappy om die geld rondom die advertensieprojek oor die baniere terug te gee. Indien die maatskappy nie die geld betaal nie, gaan Solidariteit hom dagvaar.

Erasmus verduidelik waarom Betereinders hulle eie advertensiebord geplaas het.

Betereinders se Stronger Together-bord in Centurion dra ’n positiewe nasiebou-boodskap uit wat beklemtoon dat nie alle Afrikaners hulself as slagoffers sien nie, maar eerder saam groei, verbind en die land se toekoms ondersteun. Foto: Verskaf.

Hy erken dat hierdie stelling die kern van ’n groter nasionale spanning raak.

“Dit wat Rassie en die Springbokke vergestalt met Stronger Together, is iets wat baie Suid-Afrikaners herken in hul werkplekke, skole en gemeenskappe en dit is hoekom hulle op ons advertensiebord is.”

Hy meen probleme kan ontstaan wanneer een boodskap oor ’n kwessie die oorhand kry.

“As die enigste verhaal oor Afrikaners is dat hulle slagoffers is van ’n wrede swart meerderheid, word die halwe waarhede rondom dit gevaarlik gou die aanvaarde waarheid. Mense begin dink daar is net één werklikheid. Maar Suid-Afrika het nooit net een werklikheid nie. Ons glo dit is ons taak om die prentjie te balanseer. Die anderkant van die storie moet ook gestel word, en al is ons baniere dalk naïef en sentimenteel, weier ons om so sinies te wees en ’n komplekse saak só te reduseer soos ander groepe tydens die beraad doen.”

Volgens Erasmus weerspieël die verskillende borde twee wêrelde en botsende standpunte.

“Daar is baie Afrikaners wat glo die regering is korrup en ideologies verblind. Maar baie mense glo óók dat Afrikaners oor die algemeen goed vaar en nie bedreig voel nie. Hulle voel soms net gefrustreerd. Dit is nie dieselfde ding nie.”

Hy raak stil wanneer hy die politieke spanning tussen Afrikaanssprekende groeperinge aanspreek. Hy meen dit is ’n fout om te dink ’n advertensiebord kan hierdie teenstellings vasvang.

“Ons het reeds een advertensiebord aan die begin van die jaar gehad toe President Trump die vlugtelingstatus-uitnodiging aan Afrikaanssprekendes gerig het. Ons wou toe ook die ander kant van die Afrikaanssprekende gemeenskap wys. Ons is as organisasie lojaal aan Suid-Afrika en stel ons kinders se toekoms hier eerste. Ons gaan nie Amerika toe hardloop met ons probleme nie.”

Hy sê Betereinders stel belang in nasiebou en sosiale kohesie en glo in ’n benadering waar verhoudings van onder af gebou word. Projekte soos hulle Gatvol-slaggatprojek is, volgens hom, nie die doel op sigself nie, maar deel van geleenthede waar Suid-Afrikaners mekaar ontmoet om verhoudings te bou.

“Met gesprekke en saamwerkgeleenthede bou ons verhoudinge en daarmee kom die skep van geleenthede om vorentoe te kan gaan,” glo Erasmus.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button