Local news

Tjoklits hou Tannie Miems jonk op 100

Miemie Maree van Pretoria-oos se lewensverhaal is ook die verhaal van haar familie en plattelandse gemeenskappe van toeka. As die oudste oorlewende lid van haar gesin, is sy 'n simbool van die volharding wat haar geslagte deur die dekades heen gedra het. En die resep vir haar verjongingskuur, sluit beslis sjokolade in.

Tannie Miemie Maree het op 17 November haar 100ste verjaardag in Pretoria-oos gevier, ’n merkwaardige mylpaal in die lewe van die langs oorlewende lid van die groot Hoffmann-familie met Vrystaatse wortels.

Gebore in 1925 op die plaas Madaleen, naby Aliwal-Noord, het sy die begin van haar lewe in die hart van die platteland van Suid-Afrika deurgebring en as ’n ware rabbedoe grootgeword wat selfs al op voorskoolse ouderdom kon perd ry.

Haar lewensverhaal is deurweef met deursettingsvermoë, harde werk, en veral ’n kleintyd oorvloedig aan herinneringe aan pret en musiek.

Sy onthou haar jeugjare op ’n plaas naby Aliwal-Noord, wat destyds as ’n dorp met warm spa-baddens bekend gestaan het. Die warm swembaddens in die dorp langs die Oranjerivier was dikwels vol swemmers. Sy het hier talle sorgvrye dae as ’n kind deurgebring.

“Ek het grootgeword tussen mense wat die rivier en plaaslewe liefgehad het,” vertel sy, “en ons het dikwels gaan swem in die Oranjerivier.”

Met die verhuising na dorpe soos Bethulie en Ottosdal het haar liefde vir motors en enjins al in haar tienerjare begin toe haar pa sy eie motorhawens gehad het.

Miemie Maree van Pretoria-oos Foto: Elize Parker

Sy onthou die dae toe sy saam met haar pa in sy motorhawe se werkwinkels gewerk het.

“Ek wou altyd enjins uithaal en oordoen,” sê sy. Haar pa het haar betrek by die onderhoud en werk aan Dodge- en Hudson-motors.

“Ek was baie lief vir karre, veral Fords,” verduidelik sy waar sy gemaklik in haar kamer in die Serene Park-aftreeoord se Care Vita Versorgingseenheid vir Verswakte Bejaardes sit.
Langs haar staan die verjaarsdagkoek en ballonne. Hier staan sy liefdevol bekend as ‘Tannie Miems’.

Sy vertel met trots hoe haar oorlede eggenoot, Andries, later vir haar pa kom werk het, wat gelei het tot die begin van hul liefdesverhouding.

“My pa wou darem met die intrapslag weet of hy ’n motor kan regmaak.”

Sy het van kleins af ’n passie vir musiek gehad en dink graag terug aan haar eerste klavier, ’n Duitse fabrikaat. Haar eerste liedjie Piet Soek ’n Vrou het sy leer speel toe sy nog voorskool was.

In graad 1 het sy begin om klavierlesse te neem, en Sondae in die kerkkoor gesing. Sy onthou haar musiekonderwyser, Juf. Els, met groot bewondering: “Sy was ’n wonderlike onderwyser, en dit was danksy haar dat ek die kans gekry het om musiek te kon maak.”

Haar liefde vir musiek het haar nie net in haar jeug nie, maar deur haar volwasse lewe bygebly en sy neurie ook sommer dadelik ’n deuntjie of twee, veral Saai die Waatlemoen, so skuins na haar honderste verjaarsdag heeltemal nootvas.

Mettertyd het sy opleiding as ’n tikster ontvang en in dié rol by die Uniegebou in Pretoria gewerk.

“Sommer Saterdae ook en vir ’n kwaai bestuurder, maar ek was nooit in die moeilikheid nie. Ek hou van harde werk.”

Miemie Maree van Pretoria-oos Foto: Elize Parker

Sy het drie kinders: Martie, Kosie en Elrika.

“Ek het vir ons ’n huis gebou in Gauteng op ’n hoewe sodat hulle goed en gesond groot kon word,” vertel sy met onvoorwaardelike liefde in haar stem.

Uiteindelik het die familie na KwaZulu-Natal verhuis, maar die plattelandse leefwyse was altyd Tannie Miemie se hartklop.

Sy is steeds ’n voorbeeld van elegansie en sorg, netjies aangetrek met elke haar op sy plek. Haar pittige kommentaar en vinnige antwoorde wys sy is steeds ’n platjie.

“Ek is lief vir tjoklits,” sê sy, as sy vir die resep vir voortdurende jeug gevra word. “Tjoklits hou jou jonk!”

Die volledige fiksheid- en gesondheidsresep om 100 jaar oud te word kan sy egter nie omskryf nie.

“Ek het honderd jaar geword oor liewe Jesus se genade,” sê sy met ’n glimlag. “Hy het ’n goeie patroon gebruik om ons familie te maak.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button