Local news

Ná kragchaos sit East Lynne nou met waterkrisis

Ná weke se kragonderbrekings in East Lynne het beskadigde waterpype ’n nuwe nood veroorsaak. Skole, ouetehuise en nasorgsentrums moes in die tweede week van Januarie uitdagings rondom watervoorsiening te bowe kom, terwyl duisende inwoners dae lank sonder water was. Gemeenskapsorganisasies moes inspring om inwoners te help en basiese menswaardigheid te help herstel.

Die beskikbaarheid van water het in die tweede week van Januarie die nuwe uitdaging van die diensleweringskrisis in East Lynne geword.

Sedert 26 Desember ervaar Derdepoort, East Lynne en Jan Niemand Park herhaaldelike onderbrekings van krag ná ’n ontploffing by die Koedoespoort-substasie.

Hoewel elektrisiteit teen die tweede week van Januarie geleidelik herstel is, het ’n nuwe krisis ontstaan toe herstelwerk aan beskadigde kragkabels ook waterpype van die metro beskadig het. Duisende inwoners was daarna vir dae lank sporadies sonder water.

Skole en versorgingsentrums moes hul deure tydelik sluit, terwyl gesinne water moes gaan koop. Vir baie inwoners was dit nie bloot die ongemak wat pla nie, maar ’n stryd om menswaardigheid.

Opvoedkundige sentrums kon byna nie open nie, kos het bederf en werkende ouers kon nie hul kinders by naskoolsentrums laat nie.

By ouetehuise is toilette met emmers water gespoel.

Water is eers weer geleidelik na 15 Januarie herstel.

Elize Bezuidenhout, bestuurder van die naskoolsentrum van Solidariteit Helpende Hand, Ons Plek, in Derdepoort, by die instapyskas by die sentrum wat tydens die dae lange kragonderbrekings gebreek het. Foto: Elize Parker

Elize Bezuidenhout, bestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek Derdepoort-nasorgsentrum, sê die gemeenskap voel deur die metro in die steek gelaat.

“Hoekom het die metro nie watertenkers na ons gemeenskap gestuur toe die herstelwerk met die kruiptrekkers aan die kragkabels ook die waterpype gebreek het nie?

Ons sentrum en soveel ouetehuise en die gemeenskap was vir dae sonder water. Skole kon amper nie oopmaak nie, wat skole vir kinders met spesiale behoeftes insluit, want daar was nie water vir die toilette nie.”
Bezuidenhout sê water is ’n basiese grondwetreg.

“Die owerhede het in die strate rondgery en met ’n megafoon ons gewaarsku daar is nie water nie, maar niemand het gedink om vir ons watertenkers te stuur nie,” sê sy.
Die krisis het veral kwesbare inwoners hard getref. Ons Plek Derdepoort huisves elke middag meer as 60 kinders wat daar onder toesig huiswerk doen en twee maaltye ontvang. Die sentrum neem ook leerders van drie skole vir kinders met spesiale behoeftes in.

Bezuidenhout, wat reeds 20 jaar by Solidariteit Helpende Hand werk en die sentrum tien jaar bestuur, sê die kinders is haar roeping.

“Dis my passie, roeping en genade om hierdie meer as 60 kinders uit hierdie gemeenskap al vir tien jaar te help. Daar is niks mooier as om te hoor ‘Hello my tannie!’ nie en hul blink ogies te sien nie. Dit is vir baie van hulle ’n veilige hawe. Dit was my so moeilik om na ’n lang vakansie nie die sentrum onmiddellik te kon oopmaak nie.”

Tydens die langdurige kragonderbrekings het die sentrum se instapyskas gebreek en moes agt maande se vleis en groente weggegooi word.

“Hoe kan ’n stadsregering ’n gemeenskap so versaak dat ’n sentrum soos ons soveel kos moes weggooi? Dit gaan nie net langer oor die voorsiening van krag en water nie, maar oor menswaardigheid. Huishoudings het nie geld vir kos nie, want hulle moes kos weggooi ná weke sonder krag en het beperkte inkomste, en boonop is van hul yskaste nou gebreek. En al is die krag nou aan, is die krisis in East Lynne vir mense om bloot van dag tot dag vandeesmaand voort te bestaan, nog lank nie verby nie,” sê sy.

Barmhartige Samaritane van regoor Pretoria het ingespring om die sentrum met kos vir die leerders te help toe die instapyskas en vrieskas vol kos tydens die kragonderbrekings gebreek het. Foto: Elize Parker

Sy vertel hoe die gemeenskap mekaar moes dra.

“As dit nie was vir die hulp van die eienaar van Buffelsfontein-besighede, Meyer le Roux en sy span nie, kon ons nie die sentrum oopmaak nie. Hulle het vir ons leerders pizzas gebring toe ons al die vrot kos ontdek, het ’n nuwe vrieskas vir ons gekoop en iemand gestuur om die instapyskas reg te maak. Le Roux en sy vriende en familie gaan sorg dat die vrieskas volgepak word,” sê sy.

“Die Solidariteit-organisasie, HelpJag, sowel as Boulevard Catering het reeds gehelp met die aanvul van ons vleis. Hulp kom ook van ander barmhartige Samaritane in Pretoria met kos.”

Sy sê ’n enkele oproep vir water het ’n groot verskil gemaak. “Ons het een oproep gemaak na AfriForum se Andries Opperman toe hier nie water was nie en al wat hy gesê het was: ‘Hoeveel het julle nodig?’ Twee ure later was hier ’n watertenk met 10 000 liter. Ons kon eers met die ouetehuise deel en het toe ons eie behoeftes aangevul.”

Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, sê die situasie raak gesondheid en menswaardigheid.

“Mens kan nie vir so ’n lang tyd sonder elektrisiteit en water wees nie, veral wanneer skole weer oopmaak. Sonder water kan toilette nie gespoel word nie en basiese higiëne word ’n ernstige probleem,” sê Noëth.

Volgens Bezuidenhout is die finansiële impak verpletterend. Baie gesinne leef van toelaes en moes hul Desemberkos weggooi.

“Fondse wat vir kos, skoolbehoeftes en skoolfooie bedoel is, is reeds op. Mense is moeg en ontmoedig sommer al hier in die begin van die jaar.”

Sy bedank die Gereformeerde Kerk Derdepoort se terreinopsigter, Corrie Coetzee, en leraar ds. Christiaan Swanepoel vir volgehoue ondersteuning.

Die gemeenskap beplan om op 20 Januarie om 18:00 ’n dankdiens op die kerkterrein in Swaanstraat, Derdepoort, te hou vir die genade wat hulle te midde van die krisis ervaar het.

Die burgermeesterskomiteelid vir Elektrisiteit en Energie, Frans Boshielo, het aan die inwoners om verskoning gevra vir die ongerief en aansienlike ongemak wat die kragonderbrekings veroorsaak het. Hy het verduidelik dat spanne steeds aan die werk is om ’n 15km-lange kabel te vervang en dat dit veroorsaak dat die krag soms aanskakel voordat daar weer ’n kragonderbreking is.

“Ons weet dit is frustrerend vir inwoners terwyl die netwerk gestabiliseer word deur spanne en is besig om oplossings vir die langtermyn te soek.”

Die metro het op 16 Januarie gewaarsku dat ’n tien uur lange kragonderbreking geskeduleer is vir East Lynne, Lindopark, Eersterust, Waverley en Kameeldrift vanaf 08:00 tot 18:00 op 25 Januarie om herstelwerk aan die kragtoring nommer 62 by Denlyn Mall te doen.

Die metro is gevra om kommnetaar te lewer oor geen voorsiening van watertenkers aan die buurt nie maar antwoorde is nog nie tydens publikasietyd ontvang nie.

Ons Plek Derdepoort vier op 8 en 9 Augustus sy tiende bestaansjaar. Die sentrum het ’n dringende wenslys: vrywilligers wat een of twee keer per week van 14:00 tot 16:30 met huiswerk kan help, asook nie-bederfbare kos soos stampmielies, mieliemeel en pasta asook die hulp van spesialisterapeute. Vir donasies kan ’n WhatsApp-boodskap na 082 772 1821 gestuur word. Finansiële bydraes van mense buite Pretoria wat wil help, word ook deur Solidariteit Helpende Hand gekanaliseer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button