Boodskap inspireer Moot-leerders
Die Villieria-polisie en gemeenskapsveiligheidvennote het skole regoor die Moot besoek om leerders terug te verwelkom en te motiveer. Die 'Glo in Jouself'-boodskap fokus op selfvertroue, positiewe waardes, verantwoordelikheid en lewenslange leer.
Tydens ’n onlangse terug-skool-toe veldtog deur wetstoepassers, is leerders in die Moot aangemoedig om in hulself te glo.
Hierdie sterk, motiverende boodskap is aan verskeie Moot-skole se leerders aan die begin van die nuwe akademiese jaar oorgedra.
Die SAPD Villieria se Sosiale Misdaadvoorkoming en Kommunikasie-eenheid is deur verteenwoordigers van onder andere Child Protection Hotline, Brinant Security, AXON Security, Anibus Security, ADT Security, Mon Ami Trauma Troops en Villieria CPF ondersteun.
Meer as 20 laer- en hoërskole is besoek. Die boodskap het by Laerskool Queenswood, Kilnerton Primary, Laerskool Voorpos, Laerskool Totiusdal, Laerskool Lindopark, Laerskool Derdepoort, Sonitus, Curro High and Primary, Laerskool Villieria, Gereformeerde skool Dirk Postma, Eduplex Primary and High, asook Via Nova gaan draai.
Leerders aan Clapham High, HTS John Vorster, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Staatspresident CR Swart en Hoërskool FH Odendaal het ook die motiverende boodskap ontvang.
Die doel van die skoolbesoeke is om leerders terug te verwelkom by die skool, hulle vir die jaar vorentoe te motiveer en positiewe waardes wat leer, persoonlike ontwikkeling en veiligheid ondersteun, te versterk.
Die sentrale tema van die veldtog ‘Glo in Jouself’ is daarop gemik om vertroue, selfbeeld en ’n positiewe ingesteldheid onder leerlinge van verskillende ouderdomme aan te moedig.
Die boodskap is volgens graadvlak aangepas, met jonger leerders wat ’n vereenvoudige aanmoediging ontvang het en ouer leerders wat betrokke geraak het by temas soos verantwoordelikheid, integriteit, empatie en leierskap.
Gassprekers het die belangrikheid van selfvertoue, respek vir ander, aanspreeklikheid en eenheid beklemtoon, terwyl onderwys as ’n lewenslange reis uitgelig is.
Leerders is aangemoedig om eienaarskap van hul eie dade te neem, mekaar te ondersteun en gebruik te maak van geleenthede wat deur die jaar aan hul gebied word.
Adjudant-offisier Marinda Austin van SAPD Villieria sê, “Die inisiatief vorm deel van deurlopende pogings om sosiale misdaad te voorkom. Wanneer leerders in hulself en hul potensiaal glo, is hul beter toegerus om positiewe keuses te maak en betekenisvol by te dra tot hul gemeenskappe.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
