Korrupte stadsamptenare sal ‘uitgerook’ word, waarsku burgemeester
Volgens die Ouditeur-Generaal se verslag is ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes met R5-miljard oorskry. Sy waarsku dat meer gedoen moet word om finansiële wanbestuur te beperk.
Tshwane metro amptenare wat betrokke is by korrupsie en die misbruik van munisipale fondse, sal die gevolge dra, het die burgemeester gewaarsku.
Dit volg nadat die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag vir die 2024/25 finansiële jaar tydens ’n raadsvergadering op 29 Januarie ter tafel gelê is.
Die stad het vir die derde agtereenvolgende jaar ’n gekwalifiseerde ouditmening ontvang.
Moya het die kommer erken wat deur die OG geopper is oor swak interne beheermaatreëls en gevolgbestuur.
Die OG het aangemeld dat ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes R5-miljard oorskry het en het gewaarsku dat meer gedoen moet word om finansiële wanbestuur te beperk.
Moya het gesê die metro is daartoe verbind om amptenare aanspreeklik te hou en swakhede in die dissiplinêre proses aan te spreek.
“Ons het agtergekom daar is korrupte amptenare binne ons geledere, en ons sal met hulle afreken. Terselfdertyd betaal die stad omtrent R30-miljoen jaarliks aan amptenare wat tuis bly weens langdurige regs- en dissiplinêre prosesse,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat sommige amptenare doelbewus dissiplinêre prosedures manipuleer en sodoende voordeel trek uit die uitgerekte regsprosesse.
Moya het gesê die onlangse inhegtenisname van ’n amptenaar wat betrokke was by die uitreiking van bedrieglike kontrakte demonstreer dat oortreding nie geduld sal word nie.
“Die Tshwane metro is nie ’n speelgrond of ’n plek waar individue rykdom moet opgaar ten koste van die inwoners nie,” het sy gesê.
Terwyl sy uitdagings erken het, het Moya beklemtoon dat meeste munisipale werknemers daartoe verbind is om inwoners te dien, maar het gewaarsku dat diegene wat aan kriminele netwerke verbind kan word, verwyder sal word.
“Ons sal diegene wat betrokke is by korrupsie uitrook. Inwoners kan verseker wees dat ons sal optree.”
Moya het verder gesê dat die metro gedurende die jaar 146 ondersoeke na ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes voltooi het. Aanbevelings vir die herwinning van fondse van ongeveer R3.2-miljard is gemaak wat aan die raad voorgelê is vir pogings om aanspreeklikheid en bestuur te versterk.
’n Senior ouditeur van die OG se kantoor, Xolani Zicwele, het gewaarsku dat die metro hul gevolgbestuur moet versterk.
“Amptenare wat betrokke is by korrupsie, bedrog of enige misbruik van stadsfondse moet deur streng regstappe hanteer word.”
Hy het gesê dat, volgens die verslag, die metro swak interne beheer het.
LEES: Menlopark se 39ste Jaarlikse Uitnodingsbyeenkoms bied unieke vermaak vir atletiekliefhebbers
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
