Local sportSchool sportSport

Menlopark se 39ste Jaarlikse Uitnodingsbyeenkoms bied unieke vermaak vir atletiekliefhebbers

Terwyl die ster-atlete van agt skole uit drie verskillende provinsies kookwater prestasies by Die Hoërskool Menlopark se jaarlikse Uitnodingsbyeenkoms gelewer het, was daar ook alternatiewe vermaak vir die toeskouers met vier unieke baanitems waaraan senior atlete én skoliere saam deelgeneem het.

Die Hoërskool Menlopark se jaarlikse Uitnodigingsbyeenkoms is Vrydag vir die 39ste keer op die skool se atletiekbaan aangebied.

Terwyl atlete van die deelnemende skole gesorg het vir eersteklas aksie, is die toekouers boonop getrakteer met puik vermaak toe vier items op die program as deel van die ‘Simbine Classic Shootout’ plaasgevind het.

Dié vier items het bestaan uit twee 1000m wedlope vir mans en dames o.25, asook twee 150m naelloop kompetisies vir mans en dames o.25.

Hoewel die 1000m wedloop ’n amptelik erkende item op die rekordboeke van sowel Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Wêreld Atletiek (WA) is, word die 150m item nié as sodanig erken nie.

ASA het egter wel nie-amptelike rekordtyde vir hierdie item en dit is dié rekord wat Vrydagaand in die vroue-wedloop in die slag gebly het. Rumé Burger, ’n matriekmeisie van die Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein het aan haarself ’n vroeë verjaardaggeskenk gegee deur dié wedloop een dag voor haar 18de verjaardag in 16,95s te wen. Dit is 0,72s vinniger as die vorige rekord wat ’n jaar gelede deur Kayla la Grange opgestel is.

Nóg twee 17-jariges, Menlopark se eie Megan Nieman, en Zoe Cilliers van Hoërskool Nelspruit, het ook aan die wedloop deelgeneem. Nieman, wat ’n maand gelede 17 geword het en eintlik as ’n wêreldklas hekkies-spesialis bekendstaan, het derde geëindig in ’n tyd van 17,26s, wat ook vinniger as La Grange se rekord is, terwyl Cilliers sesde klaargemaak het in 17,69s.

Nieman het later ook aan die 400m wedloop vir dogters o.17 deelgeneem en dit in ’n baie goeie tyd van 55,95s gewen.

Die 150m manswedloop is met ’n tyd van 15,21s gewen deur Tuks se Slayden van Staden.

Karabo More het die 1000m wedloop vir vroue in ‘n tyd van 2:39,72 gewen, terwyl die manswedloop maklik deur Tshepiso Masalela van Botswana in 2:18,42 gewen is.

Agt skole uit drie verskillende provinsies het by Menlopark saamgetrek om aan die byeenkoms deel te neem. Saam met die gasheerskool is Pretoria ook verteenwoordig deur Curro Hazeldean, terwyl drie ander skole uit Gauteng, Hoërskool Randburg, Hoërskool Noordheuwel en King Edward VII School ook na Pretoria gereis het om te kompeteer.

Uit Noordwes het Klerksdorp Hoërskool gekom, terwyl Mpumalanga deur Hoërskool Middelburg en Hoërskool Nelspruit verteenwoordig is.

Een van Menlopark se ander ster-atlete, Janelle Kirkpatrick, het ook gewys dat sy gereed is vir groot dinge hierdie seisoen. Kirkpatrick is as die byeenkoms se Victrix Ludorum aangewys, nadat sy in die o.16 ouderdomsgroep die 100m (12,02s), die 400m (56,07s) en die 100m hekkies (13,36s) gewen het. Haar tyd in die 100m hekkies is ’n nuwe byeenkomsrekord, terwyl dit boonop volpunte (1000) op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd is.

Goeie nuus vir Menlo Atletiek is dat daar deesdae nóg ’n Kirkpatrick dogter is wat in die kleure van dié skool rekords breek. Linmari Kirkpatrick, Janelle se jonger suster, is vanjaar in graad 8 en sy bewys dat dié familie behoorlik geseën is met goeie sport-gene. Linmari het Vrydag die 300m hekkies vir dogters o.14 in ’n nuwe rekordtyd van 43,49s gewen, terwyl sy ook goud in die 200m wedloop ingepalm het. In die 90m hekkies item is sy slegs geklop deur die skitter-prestasie van Noordheuwel se Mieke van der Merwe, wat nie net ’n nuwe rekord tyd van 12,87s opgestel het nie, maar ook 1000 APE punte verdien het met haar tyd.

Nog ’n o.16 Menlo atleet, Jaco van Dyk, is as Victor Ludorum aangewys ná sy oorwinning in die diskus (56,51m) en sy wêreldklas afstand en nuwe rekord van 20,20m in die gewigstoot (5kg gewig), wat ook 1000 APE punte werd is.

Om meer perspektief op Van Dyk se prestaise te bring kan genoem word dat die atleet wat tweede geëindig het se afstand 14,37m was. Van Dyk het dus die gewig byna ses meter verder as sy naaste teenstander grond laat vat.

Daar was ook ’n vierde atleet wat op die byeenkoms volpunte op die APE tabel kon verdien. Bonga Tau van Middelburg het die verspring vir seuns o.15 met ’n nuwe rekord afstand van 6,96m gewen, wat vir hom 1000 APE punte werd was.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button