Moontlike interdik dreig oor Moot-swembad
Herhalende sluitings van die Tjaart van Vuuren-swembad weens verskaffers- en onderhoudsprobleme dryf inwoners tot uiterstes. Ná Hillcrest-swembad se gebruikers se hofoorwinning word moontlike aansoek van ’n interdik nou ook vir die Moot se swembad oorweeg, terwyl die metro toenemend onder skoot kom.
Die herhalende sluiting van munisipale swembaddens weens administratiewe en verskaffingsprobleme plaas toenemende druk op inwoners en kan uiteindelik tot regsoptrede teen die metro lei.
Ná die onlangse heropening van die Hillcrest-swembad na ’n suksesvolle hofstryd tussen inwoners en die metro, word daar nou hardop bespiegel of dieselfde roete nie ook vir ander swembaddens, insluitend die Tjaart van Vuuren-munisipale swembad in Villieria, gevolg moet word nie.
Die Tjaart van Vuuren-swembad is reeds vir meer as vier weke sedert die eerste weke van Januarie gesluit weens die metro se chloorverskaffer se versuim om betyds chemikalieë te lewer. Die goeie nuus is dat die swembad moontlik, indien alle veiligheidstoetse geslaag kan word, na 12 Februarie weer kan oopmaak.
Die sluiting het midde in die hoogsomer se swemseisoen gebeur, wanneer inwoners en gesinne die swembad die nodigste het om af te koel.

Volgens inwoners word verantwoordelikhede wat duidelik by die metro berus, toenemend op die skouers van die gemeenskap geplaas.
In die Moot het inwoners selfs tydens ’n vorige soortgelyke krisis rondom die swembad, geld ingesamel en donasies gegee om te verseker dat swemklubs en kinders steeds toegang tot die swembad kon hê tydens die langdurige sluiting.
DA PR-raadslid, Adriana Randall, sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners gedwing word om openbare geriewe self aan die gang te hou en dat daar geen langdurige oplossing is nie.
“Dit is onverantwoordelik van die metro om te verwag inwoners moet self munisipale swembaddens op hul onkoste oophou terwyl hulle reeds ledegeld by klubs en kaartjiegelde by die swembad betaal. Die metro moet sy deel doen,” sê Randall.
Sy wys daarop dat die Tjaart van Vuuren-swembad inkomstepotensiaal het wat nie benut word nie.
“Die swembad kan ’n goeie inkomstegenereerder vir die metro wees, maar dit word nie so bestuur nie. Dit sal interessant wees om te sien wat die swembad werklik genereer en hoekom daardie geld nie teruggeploeg word in onderhoud daarvan of in die gemeenskap nie,” sê Randall.
Randall sê hulle beplan om op 20 Februarie by die stadsraad se vergadering van die Munisipale Komitee vir Openbare Rekeninge navraag te doen.
“Daar moet weer geken word na die toekenning van hierdie tender vir die chemiese middels ook,” voeg sy by.
Randall glo die suksesvolle interdik wat die heropening van Hillcrest op 17 September 2025 verseker het, kan as voorbeeld dien vir die volgehoue gebruik deur inwoners.
“Ons moet dit bespreek en ’n realiteit maak. Hierdie is nie ’n maklike roete nie, maar dit is tans die beste een wat inwoners het. Dieselfde beginsel kan ook in die Moot toegepas word,” sê sy.
Die DA-petisie wat opgestel is om die swembad oop te kry en deurlopend oop te hou, het reeds op 9 Februarie meer as 600 handtekeninge gehad.
VF Plus-raadslid Mari Joubert het beklemtoon dat die metro dringend moet optree om die Tjaart van Vuuren-swembad weer deurlopend funksioneel te maak.
“Die metro moet daadwerklik optree om hierdie swembad so gou moontlik weer beskikbaar te stel en oop te hou,” sê Joubert.
Sy sê die sluiting raak nie net ontspanning nie, maar ook skole in die omgewing wat nie oor eie swembaddens beskik nie.
“Leerders word ontneem van swemoefening en belangrike fisieke aktiwiteit, terwyl die gemeenskap ook ’n noodsaaklike openbare afkoelingsplek verloor,” sê sy.
Joubert plaas die verantwoordelikheid vierkantig by die metro.
“Die huidige chloorverskaffer wat versuim het om te lewer, moet aanspreeklik gehou word. ’n Betroubare diensverskaffer behoort onmiddellik aangestel te word. Die stad kan nie aanhou om sy plig teenoor belastingbetalers af te skuif nie,” sê sy.
– Teken die petisie hier: https://www.change.org/p/reopen-the-tjaart-van-vuuren-public-swimming-pool
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
