Local news

Vang die skelms en keer so substasiebrande, sê misdaadondersoeker

’n Misdaadkenner waarsku dat hierdie brande nie toevallig is nie, maar ’n simptoom van ’n dieper, sistemiese krisis wat noodsaaklike dienste bedreig.

Vang die skelms en keer so substasiebrande, sê misdaadondersoeker

Dit is die waarskuwing van die Pretoria-misdaadondersoeker Mike Bolhuis van Specialised Security Services.

Maar waarom sou ’n misdaadondersoeker soos hy fokus op misdade teen infrastruktuur?

“Die brande wat regoor Suid-Afrika se substasies woed, is nie afsonderlike voorvalle nie, maar waarskuwingstekens van ’n stelsel wat onder kriminele beleg is,” glo Bolhuis.

Hy merk op dat aanvalle op elektriese infrastruktuur dikwels met misdaad verbind word en ’n kettingreaksie veroorsaak wat elektrisiteitsvoorsiening, watersekerheid, openbare gesondheid en sosiale stabiliteit landwyd bedreig.

Vanuit sy perspektief kan elektrisiteitsinfrastruktuur nie van nasionale veiligheidskwessies geskei word nie.

Die beskerming van substasies is vir hom strategiese sekuriteitswerk, nie bloot roetine-onderhoud nie.

Volgens hom is Suid-Afrika se groeiende golf van substasiebrande ’n sigbare simptoom van ’n dieper, sistemiese ineenstorting rondom misdaadvoorkoming.

Substasie-ontploffings en -brande in Pretoria van die afgelope paar jaar: Wapadrand-substasie (in 2021 deur ’n brand vernietig en onlangs herbou), Mooikloof-substasie (’n ontploffing en brandvoorval in 2024) en Koedoespoort-substasie (’n transformatorontploffing wat in Junie 2023 aan die brand geslaan het).

Laasgenoemde substasie het weer in Desember 2025 aan die brand geslaan, asook Zwartkop-substasie en die Olievenhoutbosch-substasie wat laas jaar afgebrand het.

Vlamme en rook styg uit ’n kragsubstasie in Koedoespoort in East Lynne in Junie 2023 nadat oorbelading en infrastruktuurskade tot ’n brand gelei het, wat omliggende woonbuurte vir dae sonder elektrisiteit gelaat het. Foto: X/Yusuf Abramjee

Hierdie voorvalle het die afgelope paar jare toegeneem, met inwoners wat in Desember straatbetogings teen die metro se argeloosheid teen versoeke om hulp in East-Lynne gehou het.

Dit het deels daartoe gelei dat die metro in Februarie 2026 ’n verslag van 27 bladsye bekendgestel het oor hoe hulle beplan om die Tshwane-elektrisiteitsnetwerk te stabiliseer, met ’n spesifieke fokus op die voorkoming van substasiebrande.

Die volle opknapping van die elektrisiteitsnetwerk om kragtoevoer te stabiliseer, misdaad by substasies en kabeldiefstal te voorkom, en ou infrastruktuur te vernuwe, sal ’n belegging van R3.2-miljard verg. Die verslag toon dat diefstal en vandalisme sedert 2021 skade van meer as R169-miljoen aan substasies regoor die stad veroorsaak het.

Volgens Bolhuis is hierdie substasiebrande deels die voorspelbare gevolg van kriminele uitbuiting.

Hy waarsku herhaaldelik dat misdadigers die land se elektriese ruggraat onder volgehoue aanslag plaas.

In sy siening is die kragonderbrekings wat die publiek ervaar, slegs die oppervlakkige uitdrukking van ’n veel meer komplekse en gevaarlike kettingreaksie.

Een van die mees kritieke drywers van substasiebrande is ernstige oorbelading wat deur onwettige verbindings veroorsaak word.

Bolhuis wys daarop “dat substasies wat dekades gelede vir beheerde residensiële of industriële aanvraag gebou is, nou dubbel of selfs drievoudig hul beoogde las dra. Hierdie volgehoue spanning veroorsaak dat transformators oorverhit, isolasiehulsels vinnig agteruitgaan en interne druk in oliegevulde toerusting opbou.”

 Vlamme en rook styg op uit ’n kragsubstasie in Koedoespoort in East Lynne in Junie 2023 nadat oorbelading en infrastruktuurskade tot ’n brand gelei het, wat omliggende woonbuurte vir dae sonder elektrisiteit gelaat het. Foto: X/Yusuf Abramjee

Verouderde infrastruktuur vererger ook die probleem verder.

“Baie van die transformators in Suid-Afrika wat al 40 tot 60 jaar in bedryf is, is ver verby hul beplande lewensduur. Met verloop van tyd ontwikkel olielekke, isolasie breek af weens hitte en vog, en kritieke komponente soos busse en stroombrekers roes. Beskermingstelsels wat dekades gelede geïnstalleer is, is nooit ontwerp om moderne aanvraagpatrone of voortdurende oorbelading te hanteer nie.”

Kabeldiefstal en vandalisme speel ’n ewe vernietigende rol.

“Kriminele sindikate stroop gereeld substasies van kopergeleiers, aardingskabels en beskermingskomponente, dikwels terwyl stelsels steeds onder spanning is. Dit laat lewendige komponente bloot, ontwrig lasverdeling en verwyder noodsaaklike aarding en oorspanningsbeskerming.”

Hy verduidelik dat baie substasiebrande ure of dae ná diefstalvoorvalle uitbreek, sodra die stelsel verswak is en oorbelading plaasvind.

Onderhoudsversuim is nog ’n herhalende tema wat hy uitlig.

Roetine-inspeksies soos olietoetse, termiese beeldvorming en voorkomende dienswerk word dikwels uitgestel of gestaak weens begrotingsbeperkings, vaardigheidstekorte en bestuursmislukkings. Gevolglik bly oliebesoedeling, gebreekte verkoelingstelsels en gevaarlike areas in ’n substasie onopgemerk.

“Om beskadigde toerusting te gebruik verhoog die waarskynlikheid van brande dramaties,” beklemtoon Bolhuis.

Sekuriteitswakhede bly ’n kernkwessie.

Bolhuis sê dat substasies toenemend geteiken word deur georganiseerde misdaadgroepe wat betrokke is by koperdiefstal, onwettige herverkoop van elektrisiteit en infrastruktuursabotasie vir afpersing of ontwrigting.

Kaart wat aandui waar kragonderbrekings op 11 Januarie regoor Pretoria aangemeld is, nadat verskeie voorvalle die elektrisiteitsnetwerk ontwrig het en duisende inwoners sonder krag gelaat is. Foto: X/JordanGriffiths

Baie fasiliteite beskik nie oor basiese sekuriteitsmaatreëls soos omheinings, toegangsbeheer, toesigstelsels of vinnige reaksievermoë nie.

Hy beklemtoon dat herhaalde aanvalle op dieselfde terreine algemeen is.

Om substasies as sagte teikens te behandel, glo hy, moedig voortdurende kriminele uitbuiting aan.

“Kragonderbrekings laat waterstelsels ineenstort omdat pompstasies en suiweringsaanlegte volledig van elektrisiteit afhanklik is. Sodra watervoorsiening faal, neem openbare gesondheidsrisiko’s vinnig toe deur besoedeling, sanitasie-ineenstorting en verhoogde siekteblootstelling.”

Hierdie toestande kan, volgens hom, sosiale onrus, diensleweringsbetogings en kriminele opportunisme aanwakker.

Hy voer aan dat doeltreffende sekuriteitsmaatreëls, streng onderhoudsprogramme, die afdwinging teen onwettige verbindings en volgehoue belegging in veerkragtige infrastruktuur noodsaaklik is om die siklus te breek.

Volgens hom versterk elke onbeheerde substasiebrand ’n patroon van kwesbaarheid wat misdadigers met toenemende selfvertroue uitbuit. Sonder beslissende ingryping sal die sosiale en ekonomiese koste aanhou styg en verdere druk op ’n reeds brose stelsel plaas.

– Sien Olievenhoutbosch hoofsubstasie brand op 24 Desember 2025: 

Lees meer: Smokwerk hou 100-jarige Delene se hande steeds besig

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button