Local news

Gemeenskap soek oplossings ná wrede park-aanval

Na ’n wrede aanval in Pieter Human-park in die Moot, fokus die gemeenskap op die beveiliging van die verwaarloosde park waar dwelmgebruikers en rondlopers dikwels skuil in eenddamme wat leegeloop het. Inwoners soek volhoubare oplossings om die park veilig te maak vir die bewoners van huise daarrondom, kinders, ouetehuisinwoners en besoekers.

Wat vir jare lank ’n geliefde groen gemeenskapsruimte vir inwoners van Villieria was, het op 15 Februarie die toneel geword van ’n skokkende en byna noodlottige aanval op ’n inwoner.

Die gemeenskap rondom die Pieter Human Park in 32ste Laan probeer sin maak van wat gebeur het en dring aan op daadwerklike optrede om die park weer veilig te maak.

Die anonieme inwoner wat aangeval is, herstel tans ná ’n noodoperasie. Die inwoner verkies om nie by naam genoem te word nie.

“’n Man het weer ’n slot by die park se omheining rondom die eenddammetjies afgebreek. Ek het hom daaroor genader, toe dreig hy my met ’n stok wat ek afgeneem het. Hy het my toe met ’n ander voorwerp op linkerkant van my kop bewusteloos geslaan. Daarna het hy bo-op my kom sit en my in my gesig bly slaan. Ek het my bewussyn herwin en het met my arms my gesig beskerm,” vertel die inwoner.

“Familielede en ander ooggetuies het daar aangekom en hom gestop. Ek dink hy sou my doodgeslaan het.”

Die aanvaller is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Die inwoner is dieselfde aand geopereer. Volgens die inwoner moes dokters beentjies in die neus heg en die oogbank herstel met rekonstruksie.

Die aanvaller het hierdie voorwerp gebruik om die slagoffer te slaan, wat ernstige kop- en gesigbeserings veroorsaak het. Foto: Verskaf

Die inwoner sukkel steeds met die pyn en die trauma van die voorval. Die voorval het skokgolwe deur die buurt gestuur, maar vir baie inwoners was dit nie onverwags nie.

Hulle voer aan dat daar al jare lank gewaarsku word oor misdaad, vandalisme en dwelmgebruik in die park, sonder volhoubare ingryping deur owerhede.

Volgens gemeenskapslede is die vermeende aanvaller reeds tydens verskeie vorige voorvalle deur die polisie in hegtenis geneem, maar weer laat gaan.

Hy is glo voorheen gevang toe hy houtpale aan die brand gesteek het en houtdeure van die toilette afgebreek en verbrand het.

Tog, sê inwoners, is hy telkens vrygelaat en dan keer hy terug na dieselfde park.

“Ek het al gewaarsku iets gaan in die park gebeur,” sê die beseerde inwoner. “Elke keer word daar by die polisie en metropolisie voorvalle gerapporteer, maar dit kom tot niks.”

Die gemeenskap het oor jare self eienaarskap geneem van instandhouding van die parkie. Hulle het gras laat sny en hulp hiervoor by Afrit-maatskappy gekry, ’n heining en ’n hekkie met ’n slot is om die damme aangebring en selfs pompe is gekoop en geïnstalleer om water in die eenddamme te hou. Die pompe is later gesteel.

Selfs ’n besproeiingstelsel is aangebring, maar die stelsel se onderdele is ook gesteel.

Onlangs het inwoners vier groot bakkievragte vullis en tuinvullis uit die park verwyder.

Ligte wat deur die gemeenskap vervang is, is weer gebreek. ’n Tuinslang wat geskenk is om die plante nat te hou, is ook gesteel.

“Ons probeer ons bes, maar ons het nou byna boedel oorgegee,” sê een inwoner.

Volgens hulle het die park ’n skuilplek geword vir dwelmgebruikers en sluipslapers wat hul tente in die leë eenddamme opslaan. Omdat die damme laer as padvlak is, kan mense van buite nie sien wat binne die park aangaan nie.

Tydens ’n vergadering op 17 Februarie wat deur sowat 30 mense bygewoon is, insluitend die voorsitter van die plaaslike GPF, Susan Andrews, is die situasie breedvoerig bespreek.

Inwoners het hul frustrasie uitgespreek oor wat hulle as ’n gebrek aan daadwerklike optrede van owerhede ervaar.

DA-raadslid Adriana Randall het ná die aanval en die vergadering ’n dringende versoek aan die metro gerig.

In haar aansoek om hulp verduidelik sy dat die ongebruikte eenddamme en swak onderhoud van die park ’n ernstige veiligheidsrisiko inhou wat deur die voorval bewys word.

Sy het gevra of die damme moontlik met grond gevul en met gras beplant kan word om te keer dat dit as wegkruipplek gebruik word.

Een van die metro se afdelingshoofde, Abel Malaka, het bevestig dat die saak opgeneem sal word en dat moontlike oplossings saam met relevante rolspelers ondersoek sal word. Hy het aangedui dat daar terugvoering aan die gemeenskap gegee sal word.

Beligting is nog ’n knelpunt. Gemeenskapslede het ligte in die park onderhou, maar die ligte is nou disfunksioneel.

Gemeenskapslede het selfs vier hoë pale met kragtige ligte laat oprig, maar die kabels loop steeds deur ou, laer pale wat maklik beskadig kan word.

Randall verduidelik vandale skop die kort pale om om die kragtoevoer na die lang pale te onderbreek.

Inwoners vra toestemming om die ou pale te verwyder sodat die nuwe ligte doeltreffend kan funksioneer.

Die gemeenskap het ook die toilette se sekuriteit opgeknap en ’n stewige heining geïnstalleer.

Randall bevestig nog vergaderings sal volg sodat aksieplanne deurgevoer kan word.

Die beseerde inwoner voer aan dat die situasie verder vererger word deur oop drankgebruik in die park en ’n gebrek aan konsekwente wetstoepassing. Die inwoner beweer dat die vermeende aanvaller gereeld verby skole stap met stukke staal wat hy teen die heinings se staalrelings slyp en dan rondswaai.

In nog ’n bewering sê inwoners dat ’n sekuriteitsmaatskappy hom een keer met ’n magasyn van ‘n vuurwapen betrap het.

Hierdie bewerings vorm deel van die kommer wat tydens die vergadering geopper is.

Vir baie inwoners gaan dit nie net oor een gewelddadige voorval nie, maar oor die reg om ’n openbare ruimte veilig te gebruik. Die park grens aan skole en is naby ’n ouetehuis.

“Die park is nie meer veilig vir die ouetehuis of kinders van skole daarom nie,” sê die slagoffer.

Die gemeenskap wag nou op konkrete voorstelle oor die toekoms van die damme, verbeterde beligting en meer sigbare en volgehoue wetstoepassing. Vir hulle is die vraag eenvoudig: hoe keer ’n mens dat ’n buurtpark ’n slagveld word?

Kommentaar is van die polisie bygewerk op 13:14 op 20 Februarie:

Die polisie het bevestig die verdagte is in aanhouding.

Marinda Austin, polisie-woordvoerder, sê die verdagte is in hegtenis geneem vir aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed aan te rig.

“Die saak word steeds ondersoek en sy immigrasiestatus sal deur die Departement van Binnelandse Sake bevestig word.”

 

– ’n Buurtvergadering sal op 20 Februarie in 32ste Laan oor moontlike stappe vorentoe gehou word.

LEES OOK: Overgrown and neglected M1 stretch gets community boost

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button