LifestyleLocal news

Topverkoperskrywer stel nog ‘n wenner bekend by glansgeleentheid met bekendes

By Monte de Dios in Pretoria-oos het Riaan Grobler sy derde roman bekendgestel, ’n verhaal van verlies, tweede kanse en liefde in twee karakters se latere lewe. Die Avonture van Helga Roets wys dat selfs ná hartseer kan nuwe hoop stilweg die liefde laat begin blom.

Elke mens dra ’n storie in hom of haar, glo Pretoria-blitsverkoperskrywer, Riaan Grobler.

Op 9 Februarie is sy derde roman, Die avonture van Helga Roets, uitgegee deur Human en Rousseau, by Monte de Dios in Pretoria-oos bekendgestel.

“Elke lewe is eintlik ’n storie wat steeds aan die gebeur is,” het Grobler tydens die bekendstelling gesê.

Dié gedagte lê aan die hart van sy hoofkarakter Helga Roets se lewe waar sy aan die verkeerde kant van 80 jaar oud is. Haar verhaal begin in die Silwerhare Aftreeoord in Pretoria met sy 40 inwoners, maar eindig nog lank nie daar nie wanneer Helga die pad vat, pienk kapsel en al.

Hettie Koch en Anrika Bruinders Foto: Elize Parker

Helga is losweg gebaseer op Hettie Koch, ’n bekende in Pretoria-kultuurkringe en die skoonma van akteur Alvin Bruinders. Grobler het by Koch en haar gesin gewoon toe hy op universiteit was.

Koch glimlag wanneer mense vra hoeveel van haar in die boek beskryf word. “Ek het darem nie al hierdie dinge aangevang nie,” verklaar sy tong-in-die-kies.

Grobler bring ook ander werklikhede van sy eie lewe na die verhaal.

Die karakter Helga Roets is ’n weduwee wat glo daar is geen ander man en liefde vir haar as haar oorlede eggenoot nie.

Grobler het vertel hoe dié ingesteldheid hom herinner aan sy eie ouers se 40-jaar lange huwelik.

“My ma, Margaret, het altyd gesê sy het net een man vir ewig, en my pa het altyd gesê hy het net een vrou vir altyd.”

Annelize Degenaar (voor), Annatjie Degenaar en Karin von Brakel Foto: Elize Parker

Daardie trou en lojaliteit vorm die emosionele kern van Helga se weerstand aanvanklik teen nuwe liefde.

Maar dan is daar die verliefde en vasberade karakter, Stefaans – die romantiese held in die boek.

“Hy het diep in my hart ingekruip,” erken Grobler. “Stefaans probeer vyf jaar lank om Helga se aandag te wen, sonder om ooit opdringerig te wees. Ek wou hom teken as ’n old-school gentleman,” sê hy. “Hy deel altyd komplimente uit. Hy sien háár raak.”

Volgens Grobler hoop hy Stefaans sal soos Helga ook in lesers se harte inkruip.

In ’n wêreld waar romanse dikwels as jonk en rusteloos uitgebeeld word, kies Grobler om ’n liefde in die herfsjare te verken en daarby geduldig, hoflik en vol respek met die fiksionele gegewens om te gaan.

Die roman delf egter ook in moeiliker temas. Helga word met makulêre degenerasie gekonfronteer, ’n oogsiekte wat haar stukkie vir stukkie van haar onafhanklikheid beroof.

Grobler het tydens die gesprek sy dank uitgespreek teenoor Mnr. SA (2023), Tiaan Massyn, wat sy kundigheid as oogkundige hieroor met hom gedeel het.

Dié siekte is ’n ouderdomsverwante oogtoestand wat sentrale visie aantas deurdat die sentrale deel van die retina verantwoordelik vir skerp, direkte visie, agteruitgaan. Simptome sluit in wasige visie en donker areas in sentrale sig.

“Om die siekte in te skryf, is ook persoonlik,” erken Grobler. “My ma het aan makulêre degenerasie gely. Ek wou iets daarvan inbring, veral hoe ’n mens skielik met mindere sig jou onafhanklikheid moet inboet.”

Die verlies aan sig word in die boek ’n metafoor vir groter verliese: beheer, selfstandigheid en soms selfs waardigheid.

Hy beskryf die verhaal as “eintlik ’n boek oor twee begrafnisse en een troue”, ’n tong-in-die-kies verwysing na die film Four weddings and a funeral.

Die vriendelike en beleefde skrywer met ’n vonkel in sy oog, beklemtoon dat die boek goeie vermaak bied, met ’n giggellaggie so tussendeur tussen die trane.

Sy besoeke aan ouetehuise tydens sy sangoptredes het hom veral diep geraak tydens die skryf van die boek asook sy destydse kuiers by sy ouma Willie wat ’n ouetehuis in Grobler se geboortedorp, Polokwane, bestuur het.

“My hart gaan veral uit na bejaardes wat voel hulle is ’n las vir hul kinders,” het hy gesê.

Op een besoek het hy gesien hoe ’n bejaarde in ’n rolstoel eenvoudig voor ’n ouetehuis afgelaai word. “Dit het my bygebly. Ons steel te veel kere bejaardes se waardigheid. Juis daarom wou ek vir Helga haar onafhanklikheid laat behou. Ek wou wys sy is steeds ’n volwaardige mens, met begeertes, emosies en ’n stem wat gehoor moet word.”

Volgens hom wys besoeke aan ouetehuise jou gou die verskil tussen aanwesige en afwesige kinders: dié wat gereeld kom kuier en dié wat selde opdaag.

Die boek probeer egter nie oordeel nie, maar nooi lesers om te kyk, te luister en deernis te hê.

Grobler het ook erkenning gegee aan die mense wat hom op sy skrywerspad ondersteun het.

Loance Massyn en Carina Gobey van Pretoria-Noord. Foto: Elize Parker

Hy het skrywer Elsa Winckler bedank vir haar deurlopende bydrae tot sy loopbaan, asook vir die mentorskap en aanmoediging oor die jare.

Deesdae werk hy by RSG, waar hy as musiekopsteller betrokke is. Grobler het vir jare die baie gewilde musiektreffersparade op Pretoria FM aangebied as omroeper en musiekkenner.

Hy het sy vriende en kollegas wat gaste tydens die bekendstelling kom vermaak het, onder andere Johan Brümmer, Jennifer Zamudio, Nadine, Ruan Josh en Grobler se eie duet-sangmaat Jomarie Beukes, bedank vir hul ondersteuning.

Jennifer Zamudio het die gehoor vermaak. Foto: Elize Parker

Beukes en Grobler het saam ’n duetalbum die lig laat sien in 2024.

Willie Strauss, kookboekskrywer van Cullinan, bekend vir sy vonkelende humor, het die gehoor vermaak met sy voorlesings uit die boek.

Die bekendstelling self was feestelik tydens een van Pretoria se windstil somersaande met die Suiderkruis aan die skitter, geurige geregte en spoggerige kolwyntjies versier met die boek se voorblad.

Grobler is reeds bekend as sanger, akteur, omroeper, aanbieder en skrywer. Sy vorige romans, Geheime op Philadelphia en Hospitaal Weltevreden, was blitsverkopers.

Die Avonture van Helga Roets is sy derde roman en bevestig sy vermoë om vermaak met emosionele diepte te kombineer.

Die bekendstelling is gelei deur Phyllis Green, gerespekteerde boekeredakteur van Sarie, wat Grobler oor die boek uitgevra het.

Die gesprek het gewissel tussen ligte oomblikke en ernstige nadenke oor ouderdom, verlies en ’n nuwe begin.

“Dalk, net dalk, lê daar selfs in die stil gange van ’n ouetehuis vir menige leser nog ’n troue en ’n nuwe hoofstuk voor,” sê Grobler.

Of in die woorde van sy hoofkarakter Helga Roets as sy op ’n reis gaan: “Jy weet jy’s in vir een helse rit, Stefaans?”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button