Oorlogsroman skets ’n vervloë Pretoria se rol in Boereoorlog
Malene Breytenbach verweef deeglike historiese navorsing met ’n deernisvolle verhaal oor Pretoria se vrywillige verpleegsters en medici tydens die Boereoorlog en skep ’n meesleurende roman oor liefde, lojaliteit, geloof en verlies in ’n stad en provinsie onder beleg.
Met die roman Die vrywilligers, bevestig skrywer Malene Breytenbach haar vermoë om geskiedenis en verbeelding in ’n hegte geheel saam te snoer.
Teen die spesifieke en herkenbare agtergrond van Pretoria sowel as die Natalse gevegsfront tydens die uitbreek van die Boereoorlog ontvou ’n verhaal wat tegelyk innig en groots is.
Dit is ’n roman wat nie net die groot gebeure van die tyd belig nie, maar veral ook fokus op gewone mense en in hierdie geval, veral die vrywillige verpleegsters wat in buitengewone omstandighede diens moes lewer.
Breytenbach se eie hegte band met Pretoria, waar sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gematrikuleer het en aan die Universiteit van Pretoria studeer het, verleen aan die roman ’n besondere egtheid.
Die stad word nie as blote agtergrond gebruik nie, maar as ’n lewende ruimte met herkenbare strate, geboue en gemeenskappe wat ’n rol in die verhaal speel.
Pretoria-Wes se begraafplaas, die eertydse groot huise van Sunnyside, Kerkplein, Pretoria-stasie en Melrose-huis word met fyn detail van eertyds beskryf.
Wanneer Britse troepe byvoorbeeld op Kerkplein inmarsjeer, is dit nie ’n abstrakte historiese feit nie, maar ’n oomblik wat die hart van ’n stad en sy mense uitgeruk word soos wat sy dit beskryf.
Die era van kapkarre, lang rompe wat ‘swiesj’ oor plaveisel en die sosiale kodes van die tyd, word met sorg herskep.
Die krag van Die vrywilligers lê egter nie net in sy inkleding met geskiedenisdetail nie, maar in die wyse waarop Breytenbach haar karakters vorm.
Sy beskik oor ’n besondere vermoë om met dialoog die verhaal aan te dryf. Elke sin dra die stempel van die spreker; aanspreekvorme soos “Father” of formele titels plaas die leser onmiddellik binne ’n spesifieke sosiale en kulturele wêreld.

Die dialoog is nooit blote inligtingsoordrag nie, maar openbaar karakter en innerlike spanning.
Sentraal staan die vrywillige verpleegsters van Pretoria wat hulself beskikbaar stel om gewondes te versorg. Jong vroue, sommige nog nie eens 20 nie, word skielik gekonfronteer met amputasies, koors wat nie wil breek nie en die skreiende werklikhede van oorlogsterftes.
Breytenbach skroom nie om die fisieke en emosionele tol van hierdie era op verpleegsters te wys nie.
Een van die karakters, Eleanor Campbell, word emosioneel swaar getref deur wat sy sien in ’n oorvol hospitaal, waar die stank van bloed en vuil liggame hang en “elke uitroep of kreun soos ’n mes deur haar hart sny,”. Dit getuig van die skrywer se vermoë om deernis vir die verpleegsters te wek.
Die karakter van dokter Robert Campbell is een van die spilpunte van die verhaal. As geneesheer moet hy leiding neem in die organisering van veldambulanse en die oprigting van veldhospitale. Sy Skotse familie-oorsprong plaas hom in ’n interessante posisie binne die Pretoria-gemeenskap.
Waar pas ’n familie van Skotse oorsprong in wanneer oorlog uitbreek tussen Boer en Brit? Hoe kies ’n huisgesin wat hul gemeenskap getrou dien, kant in ’n konflik wat ideologies en emosioneel gelaai is?
Breytenbach gebruik die Campbells om die grys areas van lojaliteit en identiteit tydens ’n oorlog te ondersoek.
Die roman is deeglik nagevors. Instansies soos die Transvaalsche Roode Kruis word histories korrek uitgebeeld, asook die rol van aptekers, die gebruik van medikasie en selfs die samestelling van maaltye in hospitale.
Minder bekende feite, soos die Vliegende Ambulance trein en die bydrae van Nederlandse vrywilligers tot die ambulansdiens, word organies in die verhaal verweef.
Hierdie oorlogsroman met sy geestelike aanslag voel nooit soos ’n prekerige geskiedenisles nie; die uitbeelding vloei uit die ervarings van die karakters.
Die terugblik op Lourenço Marques as hawe, die spanning rondom kommunikasie en toevoerlyne, en uiteindelik die Vrede van Vereeniging en Pretoria se verarmde toestand daarna, word met balans hanteer. Die stad wat ná die oorlog moet opstaan, dra die letsels van persoonlike en ideologiese verdeeldheid soos deur Breytenbach uitgebeeld.
’n Belangrike element van Die vrywilligers is die geestelike ondertoon. Die King James Bybel speel ’n rol in die lewens van sekere karakters, en daar is oomblikke waar geloof nie in lang gebede nie, maar in daadwerklike diensbaarheid uitgeleef word.

Die oorlog dwing karakters om hul waardes te toets. “Vandag is daar nie tyd vir lang gebede nie,” word op ’n stadium gesê, en tog is dit juis in daardie oomblikke van nood dat geloof konkreet word.
Romantiek bly nie afwesig nie. Met haar ervaring as liefdesromanskrywer teken Breytenbach subtiele verhoudings wat onder druk ontwikkel. ’n Rus wat saam met sy kamerade kom veg en sy hart verloor, ’n boerseun wat sy liefling telkens net van ver kan bewonder, en paartjies wat deur die oorlog geskei word wanneer een moet terugkeer na ’n ver land. Hierdie verhale gee die roman emosionele diepte.
Humor verskaf verligting te midde van swaarkry. Die karakter Martha, met haar praktiese aanslag en byna Sannie Sonskyn-geaardheid, bring ligtheid sonder om die erns van die situasie te ondermyn. Dit is juis hierdie balans tussen tragedie en menslikheid, wat die roman dra.
Breytenbach slaag ook daarin om die ontbering en ontwrigting van oorlog deernisvol maar outentiek uit te beeld. Gemeenskappe wat voorheen hegte bande gehad het, word verdeel deur verskille in lojaliteit en oortuiging. Haar uitbeelding van kinderbegrafnisse van seuns wat te jonk was om werklik te verstaan waarvoor hulle veg, laat ’n blywende indruk.
Die vrywilligers is ’n voorbeeld van hoe deeglike navorsing en skrywersverbeelding mekaar kan versterk. Anders as sommige oorlogsromans wat soms op militêre strategie en net die ontberings van oorlog fokus, kies Breytenbach om deur die oë van haar karakters te kyk.
Die Boereoorlog-roman het ’n sterk stem in Afrikaans. Die vrywilligers sluit aan by talle Afrikaanse fiksiewerke wat die Boereoorlog as tema of agtergrond gebruik soos Sirkusboere deur Sonja Loots, Niggie deur Ingrid Winterbach, Op soek na generaal Mannetjies Mentz deur Christoffel Coetzee, Bittereinder deur Irma Joubert en Verliesfontein deur Karel Schoeman.
Breytenbach se boek is ’n welkome toevoeging hiertoe. Dit is ’n meesleurende werk wat Pretoria se verlede en betrokkenheid van sy inwoners aan ander gevegsfronte met deernis en integriteit herroep.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
