CrimeLocal news

Operasie Shanela se rolspelers slaan toe in Moot

Intensiewe geïntegreerde polisie-optrede in die Pretoria-Moot en Sinoville het gelei tot 271 inhegtenisnemings, terwyl nasionale misdaadsyfers gemengde tendense toon. Plaaslike stasies bly buite die land se top 30-misdaadbrandpunte, maar gemeenskapsbekommernisse oor misdaad duur voort.

Op 26 Februarie, het die polisie ’n geïntegreerde en intensiewe misdaadbekampingsoperasie onder die naam Operasie Shanela in die Pretoria-Moot- en Sinoville-polisiëringsgebiede geloods.

Dié operasie, wat deel vorm van ’n volgehoue strategie om misdaad te bekamp, is uitgevoer onder leiding van distrikskommissaris majoor-generaal Samuel Thine.

’n Multi-dissiplinêre span, bestaande uit verskeie SAPS-eenhede, die Departement van Binnelandse Sake, die metropolisie en gemeenskapspolisiëringsforums, het saamgespan om daarmee sigbare polisiëring te verskerp.

Gedurende die operasie is ’n totaal van 271 verdagtes deur speurders in hegtenis geneem vir verskeie ernstige misdade.

Onder die arrestasies was twee verdagtes vir moord, twee vir poging tot moord en sewe vir gewapende roof.

Adjudant-offisier Marinda Austin, polisiewoordvoerder, sê: “Traumamisdade soos huisinbrake, sake-roof en motor- en vragmotorkaping is ook tydens Operasie Shanela aangespreek.”

Daarbenewens is 50 ongedokumenteerde vreemdelinge aangehou en aan immigrasie-owerhede oorhandig nadat 953 persone en 479 voertuie ondersoek is.

Volgens haar het die operasie nie slegs op inhegtenisnemings gefokus nie, maar ook op die besoek van sogenaamde brandpunte, die oprig van padblokkades en die uitvoering van nakomings-inspeksies.

Een drankwinkel is gesluit weens nie-nakoming van die Drankwet, en alle alkohol is in beslag geneem. In die verkeersdomein het beamptes AARTO-oortredingskennisgewings ter waarde van R34 200 uitgereik, asook 59 boetes ter waarde van R29 500.

Lede van die SAPD en ander rolspelers het deelgeneem aan Operasie Shanela in die Moot- en Sinoville-gebiede. Foto: Verskaf.

Thine het die samewerking tussen rolspelers geloof en beklemtoon dat wetteloosheid nie geduld sal word nie.

Hierdie plaaslike fokus op die Moot en Sinoville moet egter gesien word teen die breër agtergrond van nasionale en provinsiale misdaadsyfers wat in Februarie bekend gemaak is.

Volgens die jongste kwartaalstatistiek vir 1 Oktober tot 31 Desember 2025 het totale kontakmisdade landwyd met 6.7% afgeneem, wat 12 682 minder aangemelde sake verteenwoordig as in dieselfde tydperk die vorige jaar.

Moord het landwyd met 8.7% gedaal, wat 602 minder lewens beteken wat in daardie kwartaal verloor is. Oor ’n tydperk van twee jaar het moord in dieselfde kwartaal met 17.6% afgeneem.

Die kabinet, soos verteenwoordig deur die Minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het in ’n na-kabinet-inligtingsessie in Pretoria in die laaste week van Februarie aangedui dat die nasionale misdaadbekampingstatistiek vordering toon, maar dat baie werk nog voorlê.

Sy het daarop gewys dat hoewel die dalende landswye tendens in moord volgehou word, slegs 15 van die 30 hoogste-moord-gebiede landwyd werklik afnames getoon het.

Vir haar en die kabinet bevestig die syfer dat geteikende gemeenskapsvlak-ingrypings soos Operasie Shanela steeds noodsaaklik is.

Die kabinet het ook kommer uitgespreek oor die toename in die moord op polisielede, met 23 beamptes wat in die betrokke kwartaal landswyd hul lewens verloor het.

Hoewel Gauteng ook ’n daling in sekere geweldsmisdade aangeteken het, is dit steeds ’n groot bydraer tot die land se totale misdaadsyfers. Gedurende die betrokke kwartaal was daar gemiddeld 17 moorde per dag in die provinsie. Poging tot moord het met 6.5% toegeneem tot 1 939 sake.

Lede van AfriForum se buurtwag hou toesig tydens ’n sigbaarheidsoperasie in die Moot. Die fokus was op spruitgebiede en openbare ruimtes waar trollieherwinnaars saamdrom. Foto: Verskaf

Huisbraak bly een van die mees algemene misdade, terwyl motor- en gewapende rooftogte steeds ’n ernstige bedreiging in stedelike sentrums inhou.

Teen hierdie provinsiale en nasionale agtergrond is dit betekenisvol dat die polisiestasies wat die Moot bedien, nie onder die 30 polisiestasies met die hoogste misdaadsyfers in die land tel nie. Die primêre stasie vir die gebied is die SAPS Pretoria Moot polisiestasie, met omliggende stasies soos SAPS Villieria, SAPS Hercules en SAPS Sinoville wat aangrensende gebiede dek.

Burgerregte-organisasies soos AfriForum het intussen hul kommer uitgespreek oor spesifieke probleme in die Moot-gebied.

AfriForum se buurtwag het ook onlangs ’n sigbaarheidsoperasie gehou met fokus op spruitgebiede en sakepersele waar sluipslapers en trollieherwinnaars saamdrom.

Volgens Llewellynn Hemmens, distrikkoördineerder, erken baie van hierdie individue dat hulle onwettig in die land is.

Daar word ook beweer dat bywette oortree word deur openbare drankgebruik, oop vure, beweerde dwelmhandel en die gebruik van openbare ruimtes as informele herwinningsorteerstasies.

Emmens het aangedui dat hulle druk op die metro-owerhede wil plaas en ’n aksieplan wil opstel om die probleem rondom herwinnaars en moontlike gepaardgaande misdaad in die buurt aan te spreek.

Hy glo volgehoue waaksaamheid bly noodsaaklik en dat plaaslike ingryping, gemeenskapsamewerking en konsekwente polisiëring onontbeerlik bly.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button