Moot-gemeenskap staan saam ná verwoestende huisbrand
Twee mense het alles verloor in ’n verwoestende huisbrand. Die gemeenskap het saamgestaan met kos, klere, meubels en kontantdonasies wat ingestroom het. Terwyl strukturele skade nog bepaal word en die polisie ondersoek instel, sorg bure dat die ontwrigte inwoners nie alleen deur die krisis gaan nie.
’n Vernietigende huisbrand op 26 Februarie in Meyerstraat in die Moot het ’n bejaarde man en ’n familielid binne minute alles laat verloor.
Volgens Martin Thomson en Louis Burger van die Pretoria Moot Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het hul fone kort ná 10:00 onophoudelik begin lui. Hulle en ’n span manne het ingespring om te sorg dat die twee inwoners veilig is en die twee voertuie uit die motorhuise gered word.
Die bejaarde inwoner, Alfonso Corrado, en sy familielid was alleen tuis toe die brand uitgebreek het. Corrado het TV gekyk en kort daarna tuin toe gestap.
“En skielik was die huis aan die brand toe ek terugdraai,” het Corrado die nuus aan die GPF-lede by hul aankoms oorgedra.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend en die polisie ondersoek die voorval.
Teen die tyd dat nooddiensvoertuie op die toneel opgedaag het, het vlamme reeds groot skade aangerig.
Gemeenskapslede het intussen die brandweer oorlaai met oproepe om hulp te ontbied.
Lede van die polisie en die GPF het onmiddellik gereageer om ondersteuning te bied en die toneel te help beveilig.
“Soms hoor jy hoe mense sê: ‘Hulle het niks oor nie,’ en jou hart raak so seer,” sê Thomson. “Met hierdie brand het ek dit self ervaar. Nie net mure en ’n dak is daarmee heen nie, maar ’n lewe soos hulle dit geken het, is nou verby.”

Die huisinwoners moes die aand by familie intrek en wonder hoe hulle van vooraf begin, aangesien die inhoud en die huis geen nie verseker was nie.
Wat die paar dae na die brand gebeur het, het volgens Thomson die ware hart van die Moot gewys.
Die reaksie was oorweldigend. Gemeenskapslede het kos, klere en toiletware geskenk, terwyl die GPF die insameling en verspreiding gekoördineer het.
Kontantdonasies is van organisasies soos die Manne van die Moot ontvang en ander gemeenskapslede het ook hul beursies oopgemaak om te help.
’n Egpaar wat besig is om te emigreer, het groot hoeveelhede meubels geskenk om die gesin te help om weer ’n huis in te rig. Ander inwoners het nuwe en tweedehandse klere gebring, presies volgens die behoeftes wat na WhatsApp-groepe versprei is.

Strukturele ingenieurs sal na verwagting vandeesweek die huis besoek om die omvang van die strukturele skade te bepaal sodat herstelwerk kan begin.
Intussen fokus die gemeenskap daarop om seker te maak dat Corrado en sy familielid nie alleen deur hierdie moeilike tyd gaan nie en word hulle tydens hul tydelike inwoning by familie ondersteun.
Thomson het die gemeenskap bedank asook vir Bianca Burger, Lawrence Lee en ook Clint Sulter vir al hulle hulp en bystand.
Die polisie se ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort.
– Die aflaai van skenkings kan met Martin Thomson van die Moot-GPF gereël word by 074 386 9765.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
