Tshwane-raad keur infrastruktuurgefokusde aanpassingsbegroting goed
Die 2025/26-aanpassingsbegroting het ’n R1.2-miljard bedryfsurplus en ’n bykomende R341-miljoen van die Nasionale Tesourie bekom, terwyl opposisiepartye die plan verwerp oor bekommernisse oor besteding.
Die Tshwane-metroraad het op 26 Februarie die 2025/26 Aanpassingsbegroting goedgekeur as ’n stap in die rigting om kritieke infrastruktuur te stabiliseer en langtermyn finansiële volhoubaarheid te herstel.
Die begroting is goedgekeur met 117 raadslede wat ten gunste daarvan gestem het, terwyl raadslede van DA en Vryheidsfront Plus (VF+) dit verwerp het.
Die metro het bevestig dat die Nasionale Tesourie die aanpassingsbegroting formeel beoordeel en as befonds en geloofwaardig, bekragtig het, met ’n bedryfsurplus van R1.2-miljard.
Totale bedryfsinkomste is verhoog tot R53.4-miljard, terwyl bedryfsuitgawes R52.2-miljard beloop. Kapitaalbelegging is tot ’n bykomende R309-miljoen versterk.
Adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid van Finansies, Eugene Modise, sê tot en met 31 Desember 2025, het die stad se inkomste-insamelingskoers by 83.5% gestaan.
Hy voeg by dat streng bestedingsbeheer daartoe gelei het dat R3.9-miljard minder as die begroting bestee is, wat ’n rekenkundige surplus van R4.3-miljard tot gevolg gehad het.
Kapitaalbesteding het R1.1-miljard bereik, wat 46% toepassing van die kapitaalprogram teen die middel van die jaar verteenwoordig.
Modise sê hierdie prestasie het ’n bykomende R341-miljoen in stedelike ontwikkelingsbefondsing van die Nasionale Tesourie ontsluit. Dit is ’n nuwe nasionale steun wat toegedien is, omdat die metro sy kapitaaltoepassing-drempelpunt bereik het.
“Kontant en beleggings staan tans by R2.5-miljard, alhoewel die stad erken dat likiditeit beperk bly.”
Modise sê skuldvermindering is verhoog met R534-miljoen om realistiese inkomste-insamelingsverwagtinge te weerspieël.
“Rente-uitgawes is met R320-miljoen vermeerder om verantwoordelik voorsiening te maak vir finansieringsverpligtinge, insluitend Eskom-verwante druk. Grootmaat wateraankope is met R273-miljoen vermeerder om kontinuïteit van toevoer te verskerp tydens stelselspanning.”
’n Bykomende R147.3-miljoen is aan water- en sanitasie-infrastruktuur toegewys.
R37-miljoen sal gaan na die vervanging van verouderde waternetwerkpype.
R9.4-miljoen sal na gebrekkige rioolinfrastruktuur-vervanging gaan en R47-miljoen is toegewys om pompstasies op te gradeer.
Waterbewaring en vraagbestuur word R60-miljoen toegeken.
Modise sê die stad het ook R15-miljoen eenkant gesit om watertenkwaens vir die stad te bekom om afhanklikheid van kontrakteurs te verminder.
Grootmaat infrastruktuurbeleggings sluit R42.7-miljoen in vir die Winterveldt Grootmaat Waterlyn en R4.4-miljoen vir Zithobeni uitbreiding 8 en 9.
Hy voeg by dat kraginfrastruktuur ’n bykomende R109-miljoen in befondsing ontvang, insluitend R11-miljoen om 11kV- kabelnetwerke te versterk, R6-miljoen om sekondêre substasies op te gradeer, en R5-miljoen om verouderde toerusting te vervang.
R10-miljoen sal gaan aan die Monavoni 132/11kV substasie en R1-miljoen vir die Kentron 132/11kV substasie.
Vir nuwe elektrisiteitsverbindings, is R10-miljoen begroot en R27-miljoen vir die vermindering van elektrisiteitsverspreiding-verlies.
“Hierdie ingrypings streef daarna om die kragnetwerk se veerkragtigheid te verbeter, onderbrekings te verminder en hersteltye te verkort.”
Modise sê dat ondanks verlagings in sekere nasionale vervoertoelaes, interne herpriorisering sleutel mobiliteitsprojekte beskerm, insluitend R8.1-miljoen vir Garsfonteinweg en R7.1-miljoen omskakeling om Mfumostraat in Hammanskraal op te gradeer.
“’n Bykomende R1.2-miljoen is toegeken aan masjienerie vir padonderhoud om jetpatchers en tuinboubeleggings wat vroeër in die boekjaar gemaak is, aan te vul,” voeg Modise by.
Die aanpassingsbegroting is gebou op vier kernbeginsels: om ’n volledige befondse en kontant-ondersteundende begroting te handhaaf, water- en elektrisiteitstabilisering eerste te stel, om afhanklikheid op kontraktuele dienste te verminder, en interne munisipale kapasiteit op te bou om kritieke vakatures te vul.
Die R341-miljoen wat van die Nasionale Tesourie verkry is, is aan handelsdienste gerig en tussen water- en elektrisiteitsinfrastruktuur verdeel.
Modise sê die goedkeuring van die aanpassingsbegroting merk ’n kritieke fase in die stad se herstelplan.
“Nasionale Tesourie het bevestig dat ons 2025/26-aanpassingsbegroting is befonds, geloofwaardig en gebou op realistiese finansiële vooruitskattings. Met ’n bedryfsurplus van R1.2-miljard en bykomende R341-miljoen wat deur geloofwaardige infrastruktuurlewering ontsluit is, demonstreer ons dat Tshwane se herstel nie teoreties is nie, dit is meetbaar.”
Modise sê die stad se besluit om skuldvermindering met R534-miljoen te verhoog, R320-miljoen vir renteverpligtinge te voorsien, en R273-miljoen vir grootmaat wateraankope toe te ken, weerspieël verantwoordelike finansiële bestuur in stede van korttermyn-optika.
“Hierdie is ’n gedissiplinieerde, stabiliserende en inwonergesentreerde begroting. Ons beskerm die befondsde status van die munisipaliteit en versterk ons interne kapasiteit om kontrakteur-afhanklikheid te verminder. Herstel is ’n proses, maar ons is nou stewig aan die gang,” verduidelik hy.

Modise sê die 2025/26-aanpassingsbegroting dui op ’n beslissende verskuiwing tot volhoubare dienslewering en finansiële veerkragtigheid.
Tshwane-burgemeester dr. Nasiphi Moya sê die aanpassingsbegroting behou die metro se volledige befondsde status, terwyl dit infrastruktuurbelegging aansienlik versterk.
“Die aanpassingsbegroting handhaaf ons befondse posisie en verhoog die kapitaalbegroting van R2.4-miljard tot meer as R2.7-miljard,” sê Moya.
Sy bevestig dat R109-miljoen toegeken is aan kritieke kraginfrastruktuur in ooreenstemming met die metro se energiestabiliseringsplan.
Moya merk op dat die kapitaalbegroting met R4-miljard in 2019 oorskry het, voor dit tot R2-miljard onder die vorige administrasie gedaal het.
“In net ’n paar maande onder hierdie nuwe koalisie, het ons die kapitaalbegroting tot R2.7-miljard verhoog. Dit dui op ’n duidelike skuif terug na infrastruktuurgeleide herstel,” sê sy.
Die stad se 46%-kapitaalbesteding teen die middel van die jaar, het sy toegeskryf aan verbeterde bestuur en uitvoering.
“Hierdie begroting beteken dat ons moet aanhou om in infrastruktuurinstandhouding en ontwikkeling te belê. Projekte in ons gemeenskappe moet voltooi word, insluitend die in informele nedersettings wat gestaak is, terwyl die in meer welgestelde areas voortgesit is. Ons sal daardie projekte herleef om die lewens van al ons inwoners te verbeter,” sê Moya.
Die DA in Tshwane het die begroting verwerp, en beskuldig die ANC-geleide administrasie daarvan dat hulle miljoene rande se besteding in watertenkwaens verberg, wat hulle ’n ‘misleidende’ finansiële posisie noem.
DA-koukusleier raadsheer Cilliers Brink sê die party het trots teen die aanpassingsbegroting gestem wat ter tafel gelê is.
Volgens Brink, is die grootste bekommernis die beweerde versuim om bykomende befondsing vir watertenkwaens toe te ken, ondanks interne verslae wat aandui dat die bestaande begroting reeds uitgeput is.
“Interne verslae aan die begrotingsbestuurkomitee toon dat die toewysing vir watertenkwaens uitgeput is en dat R125-miljoen in ongemagtigde uitgawes reeds teen die einde van Desember 2025 aangegaan is, met ses maande wat nog in die boekjaar oorbly,” sê Brink.
Hy beweer dat om voortdurend watertenkwaens te betaal sonder om ’n bykomende begroting daarvoor in plek te sit, ’n duidelike voorneme toon om hierdie besteding van die raad en die publiek weg te steek.
Brink sê verder dat die stad R777-miljoen op watertenkwaens in die eerste jaar van die ANC-geleide administrasie spandeer het – ’n 455%-verhoging in vergelyking met die vorige DA-geleide regering.
Hy sê die DA betwis die stad se bewering dat die aanpassingsbegroting befonds is.
“Terwyl die munisipaliteit volhou dat die begroting befonds bly met ’n bykomende surplus van R1.2-miljard, toon interne dokumentasie ’n verergerde finansiële posisie,” sê Brink.
Hy sê die stad se tekort het glo van R1.63-miljoen tot R2.8-miljoen gestyg.
“Daarby is R2.5-miljard in krediteure van die vorige boekjaar oorgedra, wat die tekort effektief tot R5.3-miljard verhoog,” sê hy.
Hy voeg by dat die stad na bewering R750-miljoen agter is in inkomste-insameling in terme van sy befondsingsplan.
Henriette Fröhlich, ActionSA se Tshwane-koukuswoordvoerder, sê die goedkeuring van die begroting bevestig die nuwe administrasie se verbintenis onder ActionSA se burgemeester dr. Nasiphi Moya om elektrisiteitsinfrastruktuur te stabiliseer, waterverliese aan te spreek en die interne munisipale kapasiteit te versterk.
Fröhlich verwelkom die Nasionale Tesourie se bevestiging dat die begroting befonds bly.

Vryheidsfront Plus (VF+) raadsheer Grandi Theunissen sê die jongste aanpassings aan die Dienslewering en Begrotingstoepassingsplan weerspreek bewerings dat die metro ’n geloofwaardige befondsde begroting voorgelê het.
Theunissen sê die afwaartse hersiening an sleutelprestasie areas toon dat die oorspronklike begrotingteikens onrealisties was en nie bereik kon word nie.
“Finansiële gesondheids-aanwysers soos reserwes, likiditeitsverhoudings en insamelingskoerse is almal verminder, wat toon dat die metro sy finansiële veerkragtigheid oorskat het,” sê hy.
Hy voeg by dat finansiële marges vir elektrisiteit, water, sanitasie en vullisverwydering afwaarts aangepas is, ondanks voortgesette tariefverhogings.
“Inwoners betaal meer, maar die metro lewer minder,” sê Theunissen.
Volgens die VF+ is behuising en gemeenskapsdiens-teikens ook afgeskaal, insluitend grondverkryging vir behuising en vullisverwydering in informele nedersettings, wat hy as verbreekte beloftes aan inwoners beskryf.
Theunissen kritiseer verder die vermindering van teikens om vakatures te vul en sê dit ondermyn die administrasie se vermoë om grondvlakkapasiteit te bou.
“Hierdie aanpassings kom neer op ’n erkenning van mislukking – te veel beloftes word gemaak, nie genoeg dienste word gelewer nie en dan word die standaarde verlaag om die mislukking te verberg,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
