EntertainmentLocal news

Tukkie as naaswenner in landswye SingSterre 2025 gekroon

Henry Smith van Pretoria is as naaswenner van SingSterre 2025 aangewys, terwyl Milah Redelinghuys van die Wes-Kaap die algehele titel verower het. Die kompetisie het oorspronklike liedjies, sterk mentorskap en indrukwekkende jong talent uit verskeie streke gevier.

Die wenners aan die sangkompetisie, Singsterre 2025, is op 28 Februarie by die Wilge-teater in Pretoria-oos aangewys.

Hierdie kompetisie vier oorspronklike liedjies en vertolkings van Afrikaanse liedjies.

Die 15-jarige Milah Redelinghuys van Wellington is die algehele wenner; ’n tweedejaar-mediese student van die Universiteit van Pretoria, Henry Smith, die naaswenner; en in die derde plek was die trio, Triple Thread, met Hoërskool Zwartkop-leerders Jané Badenhorst en Dedré de Clercq, en Lané Haasbroek van Hoërskool Eldoraigne.

Redelinghuys, ’n leerder van Hugenote Hoërskool in Wellington, het drie toekennings verower: sy was die wenner van haar ouderdomskategorie, eerste in die oorspronklike lied-kategorie, én algehele wenner van SingSterre 2025.

“Ek is so dankbaar vir almal se ondersteuning en aan SingSterre vir die professionele kompetisie,” het Redelinghuys na die tyd gesê. “En dan natuurlik aan my stemafrigter, Liana Marx, wat my kom ondersteun het. Baie dankie aan almal wat hierdie kompetisie moontlik gemaak het.”

Die kompetisie is die breinkind van Centurion-liedjieskrywer en sanger Lientjie Sothmann, wat SingSterre saam met Janine Grobbelaar begin het as ’n mentorskapprogram vir sangers en liedjieskrywers van alle ouderdomme.

Sothmann het deelnemers tydens die finale aangemoedig met die woorde: “Jy is nooit te oud om te leer of te wen nie!”

Gewilde liedjies tydens die kompetisie wat deur die kunstenaars jonk en oud vertolk is, het onder meer klassieke Afrikaanse treffers soos Kaapse draai en Blou ingesluit. Die gehoor is vermaak deur uiteenlopende vertolkings in verskeie style van liedjies uit talle eras soos Liefling en Ek wil jou ken.

Kaylen Landman Foto: Elize Parker

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit vooraanstaande musikante, waaronder sanger Malie Kelly van Malie Kelly Vocal Academy; Francois Botha, programbestuurder van GROOTfm 90.5; en Johan Kelber, ’n gerespekteerde musiekvervaardiger en klaviermaestro.

Smith, woon in Pretoria-oos en is ’n oudleerling van Pretoria Boys High School. Hy kom uit ’n liefdevolle familie en balanseer sy akademiese verantwoordelikhede met ’n passie vir musiek.

Henry Smith Foto: Elize Parker

Sy inskrywing vir die was ’n oorspronklike liedjie wat hy vir ’n meisie met die naam Kimberley geskryf het. Smith het met selfspot gesê dat hy nie eens kans gehad het om die lied vir haar te sing nie, toe is die verhouding verby.

Hy het ’n opname van een van sy liedjies in ’n professionele ateljee gewen, maar erken dat hy nog nie seker is watter een van sy liedjies hy daarvoor wil gebruik nie.

“Ek skryf graag my eie liedjies,” het hy gesê. “Dit is vir my belangrik dat die musiek persoonlik en eerlik is.”

Smith het sy musikale grondslag op skool onder leiding van Gerrit Roos uitgebou, waar hy kitaar gespeel het in orkesgroepe, sangonderrig ontvang het en selfs ’n rol in die skool se produksie van musiekblyspel Sweeney Todd vertolk het.

Hy het sy sangvaardighede verder ontwikkel in graad 11 en 12 onder leiding van sy sangjuffrou Ailyn Nienaber.

Vir Smith was die Sangsterre 2025-ervaring reeds ’n hoogtepunt in sy jong loopbaan. “Dit is ’n groot eer om erkenning te kry,” het hy gesê. “Ek wil aanhou skryf en groei as kunstenaar, en my musiek deel met mense.”

Rachel Ackermann, Kayla Neethling, Caitlin Marais en Jacques Bouwer Foto: Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Henry Smith van Pretoria is as naaswenner van SingSterre 2025 aangewys, terwyl Milah Redelinghuys van die Wes-Kaap die algehele titel verower het. Die kompetisie het oorspronklike liedjies, sterk mentorskap en indrukwekkende jong talent uit verskeie streke gevier.
Back to top button