Kunstefees vier Jannie se nalatenskap
Jannie du Toit se 55 jaar op die verhoog word gevier by die driedaagse Kunstefees in die Kleine van 17 tot 19 April wanneer kunstenaars en gehore byeenkom. Nostalgiese huldeblyke, nuwe interpretasies en intieme optredes vorm deel van die program.
Die komende Kunstefees in die Kleine in Centurion beloof om nie net ’n viering van musiek en teater te wees nie, maar ook ’n geleentheid vir terugkyk en huldeblyke.
Verskeie kunstenaars gaan vanjaar hulde bring aan die invloedryke liedjieskrywer en kunstenaar, Jannie du Toit, wie se nalatenskap oor dekades heen ’n impak in Afrikaanse musiek en kultuur gemaak het.
Deur herinneringe, stories en nostalgiese optredes sal talle kunstenaars hul persoonlike bande met hom deel en die gehoor saamneem na die beginjare van ’n beweging wat die luisterliedjie in Afrikaans help vorm het.
Die sanger en musikant Andy Lubbe van Mbombela onthou hoe hul vriendskap en samewerking reeds in die laat 1960’s begin het.
“Ek en Jannie was in 1970 saam in die weermag en dit is waar ons ontmoet het. Hy het later by RAU gaan swot en ek by die Hotelskool, en so het ons kontak gehou. Hy het ’n orkes gehad en hy het my gevra om deel te word, en so het ons die orkes Hilton vir ’n jaar of wat gehad,” vertel Lubbe.
Volgens hom het die groep se pad later ’n nuwe rigting ingeslaan toe hulle besluit het om doelbewus by Afrikaanse musiek betrokke te raak.
“Ons het gevoel die gehalte van Afrikaanse lirieke was nie watwonders nie. Baie liedjies was vertaal uit Duits en ons wou dit graag eg Afrikaans hou,” vertel Lubbe.
Hieruit het die groep Trilogie in die vroeë sewentigerjare ontstaan.
“Dit was in die tyd toe die luisterliedjiebeweging begin het en ons was aktief deel daarvan. Ons het ’n paar plate gemaak en optredes gehad, radio-onderhoude en TV-optredes,” vertel hy.
Ná hul studies het die lede elk hul eie pad geloop, maar die vriendskap het gebly. Lubbe onthou ook hul studentedae in Pretoria met groot nostalgie.
“Ek en Jannie het saam in die huis in Margaretastraat 28 in Pretoria-Sentraal gebly. Ons was boesemvriende toe en nou nog. Dis daar waar baie van die teater- en musiekidees begin het. Dit was ’n groot sukses en ek hoop ons het ’n betekenisvolle bydrae tot Afrikaanse musiek en veral die luisterliedjie gelewer.”
Hy sê hy sien uit daarna om weer saam op die verhoog te staan tydens die nostalgie-konsert. “Jannie het baie in my lewe vir my beteken.”
Vir liedjieskrywer, Monica Maree, dogter van die legendariese liedjieskrywer Lucas Maree, is haar herinneringe aan Du Toit verweef met haar kinderjare.
“Ek was so twee jaar oud, toegebondel in ’n kombers en onder die tafel by Margaretastraat terwyl almal musiek gemaak het,” vertel sy.
Sy onthou hoe musikante gereeld daar saamgedrom het.
“Die musiek was ongelooflik. Koos du Plessis sou daar aankom, uiteraard my pa, Jannie, Coenie de Villiers en ’n klomp ander musikante. Baie van daardie mense het nog vriende gebly met my pa en is steeds deel van ons lewens al is hy nou oorlede.”
Volgens Maree het Du Toit nie net ’n professionele rol in hul gesin se lewe gespeel nie, maar ook ’n persoonlike een.
“Ek en my suster is baie bevoorreg om Jannie ook as ons peetpa te hê. Hy hou ’n spesiale plek in ons harte, en sy musiek was deurgaans deel van ons lewens.”
Sy voeg by dat haar pa en Jannie ’n lang pad saam gestap het, veral deur hul betrokkenheid by die ATKV se skryfkursusse.
“Hulle het vanaf 1983 tot 2001 saam ATKV-skryfkursusse aangebied, en dit het ’n hele generasie jong skrywers en liedjieskrywers beïnvloed.”
Stef Kruger is nog ’n kunstenaar wat vanjaar by die Kunstefees in die Kleine hulde gaan bring aan die invloed van Du Toit in kunstenaars se loopbane.

Vir Kruger is die optrede nie net nog ’n konsert nie, maar ’n persoonlike reis terug na die mense en stories wat sy eie kreatiewe pad help vorm het.
Hy vertel dat Jannie se werk en persoonlikheid ’n blywende indruk op hom gelaat het, lank voordat hy self professioneel in die bedryf betrokke geraak het. Die manier waarop Jannie met liriek en emosie gewerk het, het volgens hom gewys dat Afrikaanse musiek diep, eerlik en sterk kan wees.
“Jannie het my geleer dat ’n liedjie meer is as net ’n melodie. Dit is ’n storie en ’n stuk van jou eie lewe wat jy met ander deel,” sê Kruger. “Daardie ingesteldheid het my manier van skryf en optree vir altyd verander.”
– Die Kunstefees in die Kleine vind van Vrydag, 17 April tot Sondag, 19 April 2026 plaas by Die Centurion Teater in Lyttelton Manor. Die fees is ’n driedaagse viering van Jannie se 55 jaar op die verhoog en bestaan uit vyf afsonderlike konserte wat oor die naweek aangebied word.
Vir besprekings stuur ’n WhatsApp-boodskap aan die Centurion Teater by 063 376 4982.
OOK GELEES: Indringerboom in noord-area is steen des aanstoots
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
