Donker strate rondom skole bedreig leerders se veiligheid
Swak straatbeligting en toenemende misdaadrisiko’s rondom Pretoria-skole laat gemeenskappe self ingryp om leerders veilig te hou. ’n Veiligheidsoudit toon ernstige tekortkominge, terwyl buurtwagte en private sekuriteit toenemend skoolbusse ná donker moet begelei.
Slegs een van ses skole beskik oor voldoende werkende straatbeligting, terwyl drie skole slegs enkele werkende ligte het en die res geen.
Dit is volgens bevindinge van ’n veiligheidsoudit wat deur AfriForum se Groter Pretoria-Oos-tak uitgevoer is.
Die oudit was om vas te stel hoe goed straatbeligting rondom skole in onder meer Garsfontein, Waterkloof, Elarduspark en Constantiapark funksioneer.
Voorlopige bevindings plaas die veiligheid van leerders, ouers, onderwysers en besoekers onder die soeklig, veral omdat skole se bedrywighede lank ná skoolure voortduur.
Fanus Johnson, voorsitter van Groter Pretoria-Oos-tak, sê swak beligting skep onnodige veiligheidsrisiko’s by skole.
“Skole is nie net gedurende skoolure bedrywig nie. Sportbyeenkomste, kultuuraktiwiteite en ander funksies vind gereeld saans plaas,” sê Johnson.
“Veilige skole begin by veilige strate,” voeg hy by.
Skole en gemeenskappe moet volgens hom toenemend self verantwoordelikheid neem om leerders veilig tussen hul aktiwiteite en die skool te vervoer.
Die Groter Pretoria-Oos-buurtwag is onlangs genader om ’n skoolbus met ongeveer 50 leerders van Laerskool Garsfontein tussen 21:00 en 22:00 van die Staatsteater in Pretoria veilig na die skool te begelei.
Verskeie ander skole het volgens AfriForum ook private sekuriteitsmaatskappye gebruik om hul busse te begelei.
Burgerlike veiligheidstrukture speel dus ’n groter rol in gebiede waar gemeenskappe meen dat openbare polisiëring nie voldoende beskerming bied nie.
Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria, sê skole behoort nie sekuriteitsmaatreëls te tref bloot om leerders ná ’n kulturele geleentheid veilig huis toe te bring nie.
“Die werklikheid, egter, is dat gemeenskappe toenemend self moet optree om ’n rol te vervul waarin die staat faal,” sê Van den Berg.
Die organisasie doen ’n beroep op inwoners om gebrekkige straatligte by die metro aan te meld en terselfdertyd by buurtwagte betrokke te raak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel