Van Pretoria tot Tafelberg: Filmmaker droom groot
Filmmaker Zandré Coetzer bring haar Pretoria-wortels, liefde vir Suid-Afrikaanse stories en jare se filmervaring na twee September-loketvrystellings, 'n fantasiefilm Silas en die Ysbeer op Tafelberg sowel as die familiesaga, Landmyn.

Vir filmmaker Zandré Coetzer begin die verhaal van haar films soos Silas en die Ysbeer op Tafelberg sowel as Landmyn nie bloot by ’n filmstel, ’n draaiboek of ’n groot fantasiewêreld nie.
Haar films begin by stories en herinneringe.
Wanneer die films onderskeidelik op 5 en 18 September in uitgesoekte teaters begin draai, bring dit ’n besondere mengsel Suid-Afrikaanse stories en werklikhede na fliekvlooie.
Agter die kamera staan Coetzer, ’n filmmaker wie se loopbaan haar van Pretoria na Johannesburg en uiteindelik die Kaap geneem het.
Haar pad na die filmwêreld het egter lank voor die twee nuwe films begin.
Coetzer se ouers woon steeds in die hoofstad terwyl sy self nou in die Kaap gevestig is. Sy was in Laerskool Akasia en Hoërskool Overkruin, waar sy in 2005 gematrikuleer het. Ná skool het sy aan die Universiteit van Johannesburg studeer en vir ’n aantal jaar in Johannesburg gewoon.

Anna-Mart van der Merwe gee ’n kragtige vertolking in Landmyn. Met haar besondere teenwoordigheid bring sy ’n karakter tot lewe wat tussen verlies, spanning en hoop vasgevang is. Foto: Verskaf
Sy is ook die filmmaker van films soos Semi-soeter, My f*k Marelize! en Hen.
Sy glo haar Pretoria-verbintenis vorm deel van ’n groter identiteit wat sy saam met haar dra, dié van ’n filmmaker wat in plaaslike stories glo. Sy meen dat dit juis die vertrekpunt vir groter verhale vir die silwerdoek kan wees.
Silas en die Ysbeer op Tafelberg is ’n goeie voorbeeld daarvan.
Die verhaal volg die agtjarige Silas, wat saam met sy praktiese ma en geliefde ouma aan die voet van Tafelberg woon. Sy ouma vul sy wêreld met stories oor Droomland, ’n magiese plek onder die wakende oog van die geheimsinnige Klaas Vakie.
Wanneer sy ouma onverwags sterf, weier Silas om te aanvaar dat sy werklik weg is. Hy vertrek met haar betowerde Storie-stok na Droomland, op soek na haar, terwyl ’n spookagtige ysbeer hom agtervolg en die wêreld rondom hom begin uitmekaarval.
Vir Coetzer was dit belangrik dat hierdie fantasiewêreld nie soos ’n ingevoerde verhaal moes voel wat toevallig in Suid-Afrika afspeel nie.
“Ek dink die lekkerste ding van Silas was dat ons nie net bestaande volkstories wou gebruik nie, maar wou kyk of ons nuwe volkstories kon skep uit goed wat reeds vir ons bekend voel.”
Die film se visuele wêreld is ook bewustelik plaaslik gemaak. Die ysbeer is ’n lewensgrootte marionet, terwyl die Vakies deur kostuums en handgemaakte elemente tot lewe kom.
Die benadering pas by Coetzer se breër siening oor rolprentvervaardiging.
Sy glo nie noodwendig dat groter begrotings outomaties meer verbeeldingrykheid beteken nie.
In haar werk kom daar eerder ’n voortdurende gesprek voor tussen storievertellersdrome en die werklikheid van wat binne ’n Suid-Afrikaanse produksie moontlik is.
Dit is ’n les wat sy mettertyd as vervaardiger geleer het. “Ek vervaardig al baie langer as wat ek regisseer, en daardie vervaardigersbrein is ongelooflik nuttig op ’n stel.”
Sy benadruk dieselfde ervaring kan ook ’n beperking word wanneer die vervaardiger in haar te vinnig besluit dat iets nie moontlik is nie.
Haar groei as regisseur lê juis daarin om soms daardie stem stil te maak en eers te vra wat wel moontlik kan wees.
“’n Groot deel van my groei as filmmaker was om te leer wanneer ek na die vervaardiger in my moet luister, en wanneer ek haar ’n bietjie moet stilmaak en myself moet toelaat om eers te vra: ‘Maar wat as ons kan?’”

Die film Landmyn weer gaan oor drie volwasse kinders wat van hul ma wou wegkom en na ’n dekade weer bymekaar kom net om te ontdek hul ma gaan by hulle kom aansluit. Die film is oor 16 dae aan die Kaapse kus geskiet.
Dit het in vier Silwerskerm-hoofkategorieë toekennings gekry: Beste Speelfilm, Beste Akteur (Ben Albertyn), Beste Aktrise (Anna-Mart van der Merwe) en Beste Vroulike Ondersteunende Vertolking (Nicole Holm).
Vir Coetzer is plaaslike identiteit in films nie ’n beperking nie.
Sy het oor die jare ook al hoe minder bang geword om stories spesifiek en persoonlik te maak. Volgens haar hoef ’n verhaal nie sy plaaslike karakter af te water om universele aanklank te vind nie.
Hierdie beginsel kom ook in haar ander werk na vore.
By Nagvlug Films het sy en haar medewerkers al aan uiteenlopende verhale en genres gewerk. Dit wissel van dramas en rillers tot komedies en fantasie, maar daar is, volgens Coetzer, ’n gemeenskaplike goue draad wat deur die weefwerk van hul produksies loop: ’n geloof in plaaslike verhale.
Vir haar beteken dit dat Suid-Afrikaanse rolprente nie internasionale produksies moet naboots nie. Inteendeel, vir haar is die uitdaging om sterker te steun op die dinge wat plaaslike verhale uniek maak.
“Ek stel al hoe minder belang daarin om te probeer voorspel wat ’n gehoor wil hê en al hoe meer daarin om iets eerliks en spesifiek genoeg te maak dat daar ’n verhouding tussen die storie en die gehoor kan ontstaan. Vir my is hierdie innige verhouding uiteindelik die faktor wat ’n film laat werk.”
– Kliek hier vir ’n voorskoufilm van Landmyn: https://www.youtube.com/watch?v=ZMCCC1vQkXs
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel