Local news

Dirk Postma-grootouers se rol in die kollig

Die belangrike rol wat grootouers in hul kleinkinders se lewens speel, is onlangs by die Dirk Postma skool se Oupa en Oumadag gevier.

Die Gereformeerde Skool Dirk Postma se kleuter- en laerskool het op 18 September vanjaar se oupa-en-oumadag gehou, ’n hoogtepunt op die skoolkalender wat jaarliks met groot afwagting verwelkom word.

Saskia Meijer, skoolhoof van Dirk Postma, het gesê die dag bied ’n waardevolle geleentheid vir die skool om sy waardering teenoor die grootouers uit te spreek en hul rol in die leerders se lewens te erken.

Die dag het afgeskop met ’n hartlike ontvangs waartydens die oumas en oupas kans gehad het om te ontspan, te gesels en met mekaar kennis te maak.

Pieter en Tharien van Straten saam met hul ouma, Wilna Human. Foto: Verskaf

Daarna is ’n spesiale program in die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar aangebied, waar ds. Jan-Louis Lee oor Timotheus gepreek het. Hy het dit beklemtoon dat Timotheus ’n opdrag gekry het om te bly by wat hy uit die Skrif geleer het, want hy het dit by sy gelowige ouma Loïs en sy ma Eunice geleer. Grootouers speel dus ’n belangrike geloofsvormende rol in hul kleinkinders se lewens.

Skoolkoor sing vir die eregaste Foto: Verskaf

Die skool se kore het met hul optredes ook vir heerlike vermaak gesorg. Die dag is op ’n gesellige noot afgesluit met ’n piekniek, waar die grootouers kosbare kwaliteittyd saam met hul kleinkinders kon deurbring.

“Oumas en oupas speel so ’n groot rol in die opvoeding van hul kleinkinders. Hulle is die pilare waarop ons skoolgemeenskap gebou is,” het Meijer afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button