Taalraad: Afrikaans behoort aan almal
’n Jeugdaggesprek in Pretoria het die rol van Afrikaans in ’n meertalige Suid-Afrika uitgelig. Sprekers het beklemtoon dat Afrikaans steeds relevant is vir werk en studie, terwyl meertaligheid as noodsaaklik beskou word vir jongmense se sukses, toegang tot geleenthede en deelname aan ’n veranderende arbeidsmark en samelewing.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n Jeugdaggesprek by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied, waar jongmense, studente en ander belangstellendes die rol van Afrikaans in ’n meertalige en vinnig veranderende Suid-Afrikaanse samelewing bespreek het.
Die gesprek is gehou met die tema ‘Afrikaans as Springplank’, met die doel om te kyk hoe die taal jongmense kan ondersteun in studie, werk en breër loopbaangeleenthede.
Die geleentheid is gelei deur die radio- en TV-aanbieder, Elsa Esterhuizen, wat insette uit die gehoor en van die paneel bestuur het.
Die paneel het bestaan uit Louis Boshoff, ’n veldtogbeampte van AfriForum, en die radio- en mediapersoonlikheid, Carla Mackenzie.
Albei het vanuit hul onderskeie ervarings in die media-, jeug- en gemeenskapsruimtes gepraat oor die uitdagings en geleenthede wat jong Afrikaanssprekendes vandag in die gesig staar.
’n Groot deel van die gesprek het gefokus op die vraag of Afrikaans steeds ’n werklike taal van geleenthede vir jongmense is.
Die paneel het hierdie vraag vanuit verskeie hoeke benader, terwyl deelnemers ook insette gelewer het oor onderwys, werk en digitale platforms.
Daar is ooreengekom dat Afrikaans steeds ’n betekenisvolle rol speel, maar dat dit in ’n breër meertalige konteks verstaan moet word.
Die gesprek het herhaaldelik beklemtoon dat meertaligheid ’n noodsaaklike vaardigheid is in die moderne werksmark.
Volgens Merlyn van der Rheede, projekbestuurder van Noorde by die Afrikaanse Taalraad, is dit belangrik dat Afrikaans nie los van ander tale gesien word nie.
Sy het beklemtoon: “Jongmense baat by meertaligheid omdat dit hul geleenthede uitbrei en hul toegang tot verskillende ruimtes vergroot.”
Sy het verder gesê: “Taal moet nie as ’n beperking funksioneer nie, maar eerder as ’n brug tussen mense en gemeenskappe.”
Die gesprek het, volgens Van der Rheede, se bydraes ook die idee versterk dat Afrikaans en meertaligheid mekaar nie uitsluit nie.
“Jongmense hoef nie te kies tussen hul moedertaal en ander tale nie; hulle kan albei ontwikkel as deel van hul persoonlike en professionele groei.”
Hierdie siening is deur die paneel ondersteun as ’n praktiese manier om jongmense vir die werkswêreld voor te berei.
Die konsep van hartstaal is ook in die gesprek uitgelig. Volgens die paneel en Van der Rheede se verduidelikings is ’n moedertaal diep verweef met identiteit, familie en kultuur.
“’n Hartstaal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie, dit dra ons geskiedenis, waardes en herinneringe,” het Van der Rheede gesê.
Hierdie verbintenis maak dat taal oor geslagte heen oorgedra word en ’n sentrale rol in gemeenskapsvorming speel.
’n Herhalende tema in die gesprek was dat Afrikaans ’n inklusiewe ruimte moet wees.
Van der Rheede het beklemtoon: “Afrikaans behoort aan almal wat dit praat.”
Die gesprek het verder gefokus op die belang van inklusiwiteit en deelname.
“Afrikaans moet ’n taal van geleenthede en deelname wees, nie uitsluiting nie,” glo Van der Rheede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook , Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
