High SchoolSchools

Matriekeksamen begin vlot, maar veeleisende rooster wek kommer

Terwyl die eindeksamen voortduur, bly die twee kernkwessies die veilige, ordelike afneem van vraestelle en die billike behandeling van elke kandidaat. Die departement sal voortgaan om die eksamenproses te monitor. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum vra dat leerders se voorbereidingstyd, rus en welstand ook in die beoordeling van eksamenreëlings verreken word.

Die 2026-matriekeindeksamen het Dinsdag, 13 Oktober, landwyd vlot begin, en geen ernstige onreëlmatighede is op die eerste dag aangemeld volgens die Department van Basiese Onderwys nie.

Terwyl die departement die voorspoedige aanvang verwelkom het, waarsku die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) dat sekere vakkombinasies matrikulante aan ’n besonder veeleisende eksamenrooster blootstel, met tot agt vraestelle binne agt skooldae.

Die eerste eksamensessie het kandidate in al nege provinsies ingesluit wat Rekenaarstoepassingstegnologie (RTT) Vraestel 1 Prakties en verskeie taalvraestelle geskryf het.

Die departement skryf die positiewe begin toe aan uitgebreide voorbereidings deur nasionale en provinsiale onderwysdepartemente om die integriteit en geloofwaardigheid van die eksamen te beskerm.

Aanvanklike verslae uit die provinsies is bemoedigend en die departement het gesê dat die administrasie van die eksamen deurlopend gemonitor sal word. Die doel is om te verseker dat kandidate hul eksamens onder billike, veilige en geskikte omstandighede kan aflê.

Siviwe Gwarube, Minister van Basiese Onderwys, het die matriekklas van 2026 vooraf sterkte toegewens en leerders aangemoedig om hul eksamens met selfvertroue, dissipline en deursettingsvermoë aan te pak.

Sy het ook ’n beroep op die land gedoen om leerders gedurende hierdie belangrike tydperk in hul skoolloopbaan te ondersteun.

Hoewel die departement se aanvanklike terugvoer op ’n ordelike begin dui, het die SOS kommer uitgespreek oor die verspreiding van sekere vraestelle op die eksamenrooster.

Volgens Leandie Bräsler, skolenetwerkbouer van die sentrum, moet eksamengereedheid nie net aan die hand van administratiewe voorbereiding en die afwesigheid van onreëlmatighede beoordeel word nie, maar ook aan die hand van die billikheid van die omstandighede waarin leerders hul kennis moet demonstreer.

Leerders wat Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde en Engels neem, moet tussen 22 Oktober en 2 November sewe vraestelle binne agt skooldae aflê. Dit sluit twee Wiskunde-, twee Rekeningkunde- en twee Fisiese Wetenskappe-vraestelle in.

Op 28 Oktober moet dié leerders Engels Vraestel 1 in die oggend en Rekeningkunde Vraestel 2 in die middag skryf. Die beperkte tyd tussen die twee sessies kan rus en voorbereiding vir die volgende vak bemoeilik.

Die druk kan selfs groter wees vir leerders wat Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO), Geografie en Engels neem. Hulle kan binne dieselfde tydperk agt vraestelle skryf.

Die sentrum het reeds in Junie ’n formele skrywe aan dr. Rufus Poliah, hoofdirekteur van Nasionale Assessering en Openbare Eksamens, gerig waarin die organisasie versoek het dat die rooster hersien word om onnodige druk op leerders te beperk.

Bräsler sê leerders wat deur die jaar hard gewerk en met toewyding vir hul eindeksamen voorberei het, verdien die gemoedsrus dat hul uitslae ’n billike weerspieëling van hul kennis en harde werk sal wees.

Volgens haar moet hulle met trots kan terugkyk op punte wat hulle op eie meriete behaal het.

Die sentrum vestig ook die aandag op leerders wat vir eksamentoegewings kwalifiseer.

Wanneer twee lang vraestelle op dieselfde dag geskryf word, kan bykomende skryftyd die totale tyd wat ’n leerder in die eksamenlokaal deurbring, aansienlik verleng.

Bräsler vra daarom dat ouers en skole vooraf seker maak dat goedgekeurde toegewings behoorlik gereël is en dat toepaslike ondersteuning betyds met die eksamenowerheid bespreek word.

Benewens die rooster bly die gehalte en beveiliging van vraestelle ’n belangrike kwessie. Vorige eksamens het probleme met Wiskunde-vrae, drukfoute in Fisiese Wetenskappe en Siviele Tegnologie, asook ’n gebrekkige vertaling in die Afrikaanse Geografievraestel opgelewer.

Die uitlek van sewe vraestelle tydens die 2025-eksamen het verdere kommer oor die beveiliging van eksamenmateriaal laat ontstaan.

Sy verwelkom die beskikbaarheid van ’n 24-uur-aanmeldingslyn vir vermoedelike eksamenbedrog en onreëlmatighede.

Leerders, ouers en skole word aangemoedig om verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld en nie vermeende uitgelekte vraestelle oop te maak, te versprei of te gebruik nie.

Die departement het intussen beklemtoon dat provinsiale onderwysdepartemente, eksamenbeamptes, skoolbestuurspanne en onderwysers ’n belangrike rol speel om eksamenprotokolle konsekwent toe te pas en probleme vinnig aan te spreek.

Ouers, voogde en gemeenskappe word ook versoek om leerders gedurende die eksamentydperk emosioneel en prakties te ondersteun.

Bräsler beveel aan dat matrikulante hul studietyd vroegtydig beplan, vorige vraestelle binne die voorgeskrewe tyd oefen en hul tyd volgens die puntetoekenning verdeel.

“Wanneer ’n vraestel moeiliker as verwag is, behoort leerders eers die vrae te beantwoord waarmee hulle gemaklik is en daarna na moeiliker afdelings terug te keer,” doen sy aan die hand.

Sy glo ook genoeg slaap, gereelde etes, water en kort studiepouses bly belangrik.

“Indien twee vraestelle op een dag geskryf word, behoort leerders die tyd tussen die sessies te gebruik om te eet, water te drink en verstandelik te rus, eerder as om in paniek verder te probeer leer,” voeg sy by.

Skole moet moontlike vraestelfoute, swak vertalings, onbillike tydsdruk en administratiewe probleme deur die amptelike kanale aanmeld. Die sentrum vra ook terugvoer oor twee tot drie vraestelle van skole se keuse om tendense te identifiseer en moontlike verbeterings by die departement te bepleit.

Skakel die volgende matriekeksamenhulplyne: 077 295 5526 of 069 335 2818, wat beskikbaar is om bedrog, vraestellekkasies of oortredings van eksamenreëls aan te meld.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button