Ek dink skole en onderwysers maak self van kinders wát hulle by skole is. Wanneer kinders met respek behandel word, sal die kinders onderwysers met respek behandel. Onderwysers kan somtyds baie onregverdig wees teenoor leerlinge – ek praat spesifiek van die skool waarin my kinders is.
Daar word op die kinders gevloek en geskree in die klasse. Hoe verwag onderwysers om ‘n kind op so ‘n manier te dissiplineer? Dis verstaanbaar dat kinders soms stout is en nie luister nie, maar as jy as onderwyser dit nie op ‘n ordentlike manier kan hanteer nie, het jy wragtig jou roeping gemis en moet jy eerder nie skoolhou nie.
Kinders word verbied om selfs badkamer toe te gaan – almal wil nie altyd op dieselfde tyd gaan nie, maar hulle móét nou as ‘n groep gaan. Boonop praat ek nie eens van die stank en hoe vuil die badkamers is nie. Ek dink dis tyd dat daar inspeksie gehou word in die skole se badkamers. Dit is immers ‘n plek wat altyd netjies moet wees. Verder wil ek voorstel dat daar kameras in elke klas geïnstalleer word sodat ons as ouers kan sien hoe ons kinders behandel word wanneer hulle kla. Hierteenoor kan die onderwysers ook vir ons wys as ons kinders onhebbelik is.
Ek voel net dis altyd maklik om vir ‘n ouer te sê “jou kind jok.” Laat die kamera dan maar vir ons wys wie jok. Kinders sal rustiger word en onderwysers sal leer om ons kinders met meer respek te behandel. As skole dan nie wil instem nie, gee ons as ouers die vrymoedigheid om self iets te doen wat ons kinders saam kan dra wat video-opnames maak sodat ons ook kan hoor hoe mooi word daar met hulle gepraat.