Opinion

Klippe Langs Die Pad: Ridders van die ashope

In ons moderne samelewing het ons al gewoond geraak aan vinnige gebruiksgoedere wat net so vinnig in ‘n asblik beland. Sinvolle herwinning blyk steeds ‘n probleem te wees vir die meeste mense. Die munisipaliteit spook al lank om die boodskap van drie afsonderlike vullisblikke – vir glas, vir plastiek en vir gewone kombuisafval – by …

In ons moderne samelewing het ons al gewoond geraak aan vinnige gebruiksgoedere wat net so vinnig in ‘n asblik beland.

Sinvolle herwinning blyk steeds ‘n probleem te wees vir die meeste mense.

Die munisipaliteit spook al lank om die boodskap van drie afsonderlike vullisblikke – vir glas, vir plastiek en vir gewone kombuisafval – by inwoners tuis te bring.

Daar is selfs ‘n maatskappy wat gratis plastieksakke verskaf waarin inwoners hul ou koerante en papier kan plaas en wat gratis afgehaal word. Die meeste mense beskou egter die sinvolle herwinning van vullis as ‘n beslommernis.

Wat vir my ‘n riem onder die hart is, is dat daar gelukkig ‘n groep mense in die samelewing is wat wel bewus is van die ekonomiese waarde van herwinning. Ek noem hulle sommer ridders van die ashoop.

Vroeg soggens sien jy hulle met lendelam karretjies op wiele (wat heel waarskynlik nie-terugbesorgde Checkers-waentjies was), die straat afgaan. Vanaand word dieselfde karretjie weer straat-op gesleep, hooggelaai met kartondose.

Dan is daar ander wat hulle voorspring. Dis nou dié wat presies weet op watter dae die munisipaliteit die swart vuilgoeddromme kom oplaai. Hulle spring die vuilgoedwa voor en snuffel eers deur elke vullisdrom vir enige iets van waarde. Hopelik kry dié goed ook iewers ekonomiese gebruiksaanwending.

Die werklike ashoopridders spits hulle toe op munisipale stortingsterreine en al sou dit ‘n enkel heel baksteen wees, word dit vinnig opgeraap en by sy bondeltjie herwonne gebruiksitems geplaas om te verkoop of te verruil.

Wat duidelik is, is dat diegene wat ver onder die broodlyn lewe en van ander se weggooi-goed bestaan, wel ‘n lewe wil maak en ‘n beter waardebegrip het as hul bo-die-broodlyn mede-burgers.

Hulle het ook meer trots as ‘n bedelaar met ‘n bordjie langs die pad. Hy is bereid om van niks iets te maak – iets wat die bedelaar nie bereid is om te doen nie.

‘n Mens kan net wonder of maatskappye wat hulle toespits op herwinning, nie sulke mense eerder in diens kan neem en hulle van ‘n leefbare inkomste kan verseker nie.

Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button