Opinion

KLIPPE LANGS DIE PAD: ‘n Testament kan groot onmin bring

'n Boedel kan 'n gevaarlike ding wees.

Die erflating wat die oorledene vir die een of ander saak bewillig het, het soms genoeg plofstof om tweespalt in die hegste familie te bring.

Natuurlik is daar die ou refrein wat almal met soveel erns en deernis sê: “Nee, ek wil niks van pa of ma hê nie, hulle moet daarmee maak wat hulle wil.”

Maar so dikwels is dit dieselfde mense wat nie kan wag dat die testament gelees word nie en met jaloerse afguns hoor dat die eikehoutbed wat hy heimlik op gehoop het eendag syne sou wees, aan iemand anders bewillig is.

Dan is daar natuurlik die ander aspek wat weer die familie verenig. Ja, ‘n mens kan sê hulle is oneindig lief vir pa of ma. En as pa of ma oorlede is en die testament word gelees, is hulle bly om te hoor haar huis van R3 miljoen, haar nuwe duur Mercedes, die Adrian Boshoff- en Irma Stern-skilderye en Rembrandt-aandele moet alles in kontant omskep word.

Maar nie so nie as hulle dan moet hoor die eksekuteur het die finale sê aan watter liefdadigheidsorganisasie al die geld gegee moet word. Stel jou voor hoe bitterbek en verontwaardig die verenigde gesinslede hierdie testament sal wil beveg.

Maar daar is iets erger. Kom ons kyk na dieselfde ou dame sonder enige nabye familie (direkte kinders van haar eie vlees en bloed), wat haar testament so opgestel het dat die een of ander welsyn of diere-organisasie (nie gespesifiseer) die geld moet kry.

Dan kan seker met reg gevra word wat verhinder die eksekuteur om daardie roerende en onroerende bates so goedkoop as moontlik van die hand te sit sodat sy eie seun of familielid van hom daardie splinternuwe motor vir ‘n appel en ‘n ei kan kry of die inhoud van die huis teen ‘n afslag.

Maar dan moet ook bygevoeg word dat die Boedelwet en die regulasies ten opsigte van boedelbereddering sulke optrede verhinder. Bedrog bly egter bedrog en geen wetgewing kon dit nog ooit verhinder nie.

Let daarop dat ‘n geswore waardasie van die boedelbates verkry moet word of voldoende bewys van die bates indien boedelbelasting betaalbaar sou wees.

Dan is daar iets wat nog veel erger is. Dit is die testament-gigolo’s wat jag maak op enkellopende bejaarde mense en hulle bevriend. Die oënskynlike weldoener skiet dan vir die bejaarde geld voor in ruil daarvoor dat die een of ander item van sy keuse in die testament aan hom nagelaat word.

Daar word selfs so ver gegaan dat ‘n kontrak opgestel word en later blyk dat dat die geld wat voorgeskiet is nie naastenby kan kompenseer vir die waarde van die item nie. Sulke kontrakte is wel wettig, maar of dit eties aanvaarbaar is, bly ‘n ope vraag.

Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button