Nie splinterloos, maar splinternuut
Mense antwoord baie keer God se eis dat hulle moet liefhê met dié argument: “Die andereen moet eers verander. Eers as hy of sy reggemaak het, sal ek reageer. Die splinter in hulle oog is die ding wat pla!” My lewensmaat moet eers om verskoning kom vra, my baas moet sy gesindheid verander, my bure …

Mense antwoord baie keer God se eis dat hulle moet liefhê met dié argument: “Die andereen moet eers verander. Eers as hy of sy reggemaak het, sal ek reageer. Die splinter in hulle oog is die ding wat pla!” My lewensmaat moet eers om verskoning kom vra, my baas moet sy gesindheid verander, my bure moet erken dat hulle verkeerd was.
Hierteenoor sê die Here dat dit nie die splinter by ons naaste is wat keer nie, maar die balk in ons eie oë. Hoor Lukas 6:41, “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”
Dat ‘n andereen se splinter kan irriteer en selfs seermaak wanneer ons daarmee gekonfronteer word, is gewis; dit hoef ons egter nie weg te hou van volkome, egte liefde nie.
Daarteenoor keer die balk van selfsug, eiesinnigheid en selfgerigtheid in my oë dat ek jou nood raaksien. Die balk in my ore verhinder dat ek hoor as jy na my roep. Die balk in my hande keer dat ek jou uitgestrekte hand vasvat. Die balk in my voetsole keer dat ek na jou toe loop.
Liefde begin daarom nie wanneer ons naaste hulle splinters uithaal nie, maar wanneer ek my balk verwyder. Nie wanneer die ander een splinterloos geword het nie, maar ek splinternuut.
Hierdie nuutwees, begin net op Golgota. Op Golgota word die balk in ons lewe vervang met ‘n ander balk: die balk waaraan Jesus gehang het. Dié balk, wat getuig van die grootste liefde wat daar ooit was, maak van ons liefdesmense.
Hierdie balk keer ons nie, maar vuur ons juis aan, in so ‘n mate dat wanneer Paulus later aan die balk dink hy in 2 Korintiërs 5:14 en 15 skryf, “Die liefde van Christus dring ons, … sodat dié wat lewe nie meer vir hulleself moet lewe nie …” Hierdie liefde laat jou grense oorsteek en mure afbreek. Hierdie liefde laat die lig deurbreek selfs in die donkerste donker hoeke.
Die mense wat dit al probeer het, vertel met blydskap van die verskil wat dit gemaak het.
