Opinion

Klippe langs die Pad: Rykdom lê in ervaring

Ek sit langs die see by Tietiesbaai met 'n paar vars-gevangde krewe wat besig is om in 'n pot gaar te stoom en wonder wat doen die rykes nou. In my gedagte het ek die prentjie van iemand wat by 'n restaurant moet tou staan en wag vir 'n tafel om vis te bestel wat reeds vier maande oud in die vrieskas was.

Ek ry tussen Swartland se koringlande en sien hoe son en skaduwee oor golwende heuwels patrone op die lande uitstippel. Ek wonder of die statiese prentjie om elke dag deur dieselfde venster oor ander geboue uit te kyk ook die idee van iets wat mooi is, by rykes wakker maak.

Ek sit en gesels met vriend Etienne. Ons gesprekke het eerlike belangstelling in elkander se vreugdes en teleurstellings en prestasies en ek wonder wat doen die rykes as hulle met moeilik-beheersde ongeduld en met die een oog op die horlosie na iemand in sy kantoor moet luister.

Met ‘n besoek aan die Oude Libertas se gereelde kosmark word ek oorval met die geure van ‘n wye verskeidenheid van uithang-geregte, koeke, en tuis-gestookte dranksoorte. By elke stalletjie word jy uitgenooi om van dit of dat te proe.

‘n Hemelse belewenis en ek wonder of die rykes van sulke plekke weet, of maar net verlief neem met dit wat op die altyd dieselfde soort vlooimark aangebied word.

Vriend Etienne en ek vaar by Grangersbaai met ‘n bootjie uit om vis te vang. Die vis byt nie. Die seeluggie is verkwikkend koel en vars en ons kyk hoe ‘n rob vlak langs ons ‘n seekat heen-en-weer rondslinger om dit uitmekaar te skeur.

Digby is ‘n paar seemeeue wat ronddobber en gereed is om blitsvinnig ‘n morsel op te raap. Ons is deel van dieselfde prentjie en ek wonder of die rykes dieselfde genot kry as hulle so-iets net op ‘n video moet sien.

Met ‘n onbeplande besoek aan wynboer vriend Hentie by Aan de Doorns hoor ek: “Nee Andriette is nie hier nie, maar sit aan. Aandete is gereed.” Dit bestaan uit Roodeberg en borde vol biltong. Alles sy eie produkte en ek wonder of die rykes ook sulke onverwagte feesmale met goeie geselskap het.

Ek ontmoet Herman, ‘n oud-kollega en vriend van jare toet. Ons knak ‘n botteltjie wyn oop. Weldra gaan die gesprek oor ervaringe van jare gelede en ons wonder altwee hardop hoe op aarde het ons dit of dat reggekry, of, hoe na aan die dood ons verbygeskuur het in die onluste van vroeër jare.

Die ervaringe is ryk en ons is bewus van die waarde van ‘n vol lewe en ek kan nie help om te wonder of die rykes wat elke dag dieselfde ding oor en oor in ‘n kantoor doen, die waarde van bewustelik leef ervaar.

Ek word met die besef gelaat ek is een van die rykes. Om die waarheid te sê, skatryk.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button