Opinion

Klippe langs die pad: Red ‘n volk wat geskiedenis nie waardeer

Red nou ‘n ou volkie wat geen respek vir geskiedenis het nie. En sluit nogal mense in soos Max Price, vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad. Dit gaan hier natuurlik oor die verwydering van die Cecil John Rhodes monument by die Universiteit van Kaapstad. ‘n Mens sou reken dat iemand van sy statuur, ‘n gerekende …

Red nou ‘n ou volkie wat geen respek vir geskiedenis het nie. En sluit nogal mense in soos Max Price, vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad. Dit gaan hier natuurlik oor die verwydering van die Cecil John Rhodes monument by die Universiteit van Kaapstad.

‘n Mens sou reken dat iemand van sy statuur, ‘n gerekende en gerespekteerde akademikus, ‘n breër en oopkop-visie sou hê ten opsigte van bakens in die geskiedenis van Suid-Afrika.

In ‘n veelvolkige land soos ons s’n, sal daar natuurlik groepe wees wat hul geskiedenis en hul volkshelde in die vorm van standbeelde in gestalte wil sien en natuurlik is niks fout daarmee nie.

As Afrikaanssprekende burger sal die standbeeld van Cecil John Rhodes nou nie juis vir my dieselfde gewig dra as dié van Paul Kruger nie, maar dit sou dom wees om sy rol in die geskiedenis en die invloed daarvan in die lotgevalle van mense te ignoreer. Alles is nie net altyd net goed of net sleg nie. Alles is ook nie altyd net reg of net verkeerd nie.

Meer verontrustend is dat Rhodes Universiteit skynbaar nou ook die naam van die universiteit wil verander en dat Kimberley se stadsraad met die stroom wil saamgaan om van sy Rhodes-standbeeld ontslae te wil raak.

Wat studente van Rhodes Universiteit gerieflik vergeet of nie weet nie, is dat die ontstaan van die universiteit moontlik gemaak is deur ‘n bemaking van die Rhodes Trust in 1904.

‘n Verandering van die naam sal dus neerkom op ‘n belediging van ‘n weldoener.

Om ontslae te raak van sulke geskiedenis-gebonde beelde en straatname is net so erg as om hoofstukke uit ‘n goedgeskrewe boek te verwyder. Die resultaat is ‘n swakgeskrewe boek met ‘n gebrekkige storielyn wat geen sin maak nie.

Dit laat ‘n mens wonder. Wat sou gebeur as daar oor tien jaar of wat ‘n nuwe regering aan bewind kom en mense in die regering wat geen erg het aan die Mandela-euforie nie, skielik besluit hulle moet nou van al die Mandela-standbeelde dwarsoor die land ontslae raak.

In so ‘n geval sal die feit dat hy die eerste president van die nuwe bedeling was, onder die mat gevee word en sy rol in die vernietiging van infrastrukture toe hy ‘n vryheidsvegter was, seker aan die groot klok gehang word. Erger nog, dit sal ‘n bevolkingsgroep aanspoor om die land weer onregeerbaar te maak.

Die verwydering van beelde en verandering van straatname is die simptoom van ‘n veel dieper siekte in die volksbestel. Vergelykenderwys: Na die tweede wêreldoorlog het ‘n geslag Duitsers in die skadu van skuldgevoel grootgeword oor die uitwissing van vyf miljoen Jode.

In Suid-Afrika is ‘n post-1994 geslag geïndoktrineer om ‘n skuldgevoel oor apartheid te hê. En moenie ‘n fout maak nie, hierdie proses is nog volstoom aan die gang. Die skielike ywer om van die beelde ontslae te raak is ‘n regstreekse uitvloeisel hiervan.

Basta met skuldgevoelens. Slim mense soos vise-kanseliers moet besef dat dit uiters kortsigtig is om alles deur ‘n politieke bril te wil sien en dat ‘n volk se geskiedenis uit verskillende tydvakke met verskillende waardevolle politieke en kulturele bakens bestaan, wat alles deel vorm van ‘n groter geheel.

‘n Geheel wat deur alle regdenkende mense gerespekteer moet word.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button