Watter skool is nou die beste laerskool in Pretoria?
Hartseer mamma van Pretoria skryf: My drie kinders is in ‘n skool in die Ooste van Pretoria wat daarop roem dat hulle verskeie kere aangewys is as die “Beste Laerskool in Pretoria.” Dit was voorwaar ‘n prestasie waarop alger baie trots is. Ek ook. Ek het vir almal vertel van hierdie fantastiese skool waar alle …

Hartseer mamma van Pretoria skryf:
My drie kinders is in ‘n skool in die Ooste van Pretoria wat daarop roem dat hulle verskeie kere aangewys is as die “Beste Laerskool in Pretoria.” Dit was voorwaar ‘n prestasie waarop alger baie trots is. Ek ook. Ek het vir almal vertel van hierdie fantastiese skool waar alle kinders erkenning gekry het vir iets. Soms het die prestasie bloot behels dat die kind vriendelik was met sy of haar maats. Dit het die opvoeders gedwing om iets prysenswaardig in elke kind te vind en elke leerder het die geleentheid gehad om op ‘n verhoog te staan en voor mamma en pappa ‘n aanprysingsertifikaat te kry aan die einde van die jaar. Nie meer nie.
Dinge het nou verander: So kom my oudste kind verlede week eendag in trane by die huis aan. Hy het sleg gedoen in sy toets en die juffrou het weer almal se punte hardop in die klas gelees. Die derde keer die kwartaal. Elke keer is die gevolg dieselfde – ek moet troos met ‘n hart wat self huil oor my kind se vernedering en elke keer doen hy slegter.
Later kom ek agter dat my ander kind ook baie stil is. Ek begin uitvra. “Nee Mamma,” antwoord hy toe ons alleen is, “my hart is baie seer. Meneer het vandag ons termyntoets uitgedeel en ons laat sit van hoogste tot laagste punte. Mamma weet ek kan nie onthou as gevolg van die ADHD nie, so ek sit nou tussen die kinders wat nie goed doen nie en nie meer langs my maat nie. Pouse wou die kinders nie eintlik met mekaar speel nie.”
Na landloop wil ek by my dogter weet hoekom sy so stil is. “Mamma, juffrou het vandag met almal geraas en gesê sy gaan weer nie die moeilike werk vir ons verduidelik nie want die seuns maak haar kwaad, toe gaan sit sy agter haar nuwe rekenaar.”
Ek as ma is sommer ook nou kwaad en ontsteld. Kwaad vir dom onderwysers wat my kinders se selfvertroue afbreek sonder om te blik of te bloos. Ontsteld dat opvoeders so min van basiese sielkunde af weet.
Ek verlang sommer vandag na ons ou hoof. Hy het immers geglo dat elke kind belangrik en spesiaal is en dat prestasie meer behels as om soveel moontlik wedstryde op die sportveld te wen.
Nog die beste Laerskool in Pretoria? Dit is debateerbaar.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
