Gaan wees jy só mens
Terwyl ek in die Laeveld was het ‘n boer eendag na ‘n bitter waterdispuut met ‘n buurman vir my gesê: “Die Here het vir ons familie gemaak en toe die duiwel Hom probeer na-aap, het hy bure geskep.” Dit is darem verskriklike kras woorde, maar is dit nie maar die belewenis van baie mense nie? …

Terwyl ek in die Laeveld was het ‘n boer eendag na ‘n bitter waterdispuut met ‘n buurman vir my gesê: “Die Here het vir ons familie gemaak en toe die duiwel Hom probeer na-aap, het hy bure geskep.”
Dit is darem verskriklike kras woorde, maar is dit nie maar die belewenis van baie mense nie?
Klippe deur die bure se kinders op my dak, honde wat die hele nag vir die skaduwees sit en blaf, ‘n onooglike sypaadjie of tuin wat hulle nie instandhou nie, laat enige moontlikheid tot goeie buurmanskap finaal in die straat af verdwyn.
Die interessante is dat Salomo in die agt tekste wat hy in die boek Spreuke aan buurmanskap wy, nêrens sê wat ons moet doen wanneer ons bure onbillik optree nie, maar wat ons moet doen om goeie bure te wees. Al waarvoor ons verantwoordelikheid kan neem is ons eie optrede en gesindheid.
Een van die dele is Spreuke 25:8-10 en 17. Moenie te haastig teen jou buurman ‘n klag indien nie; wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak? As jy ‘n saak teen jou buurman het, moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie: dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot ‘n leuenaar maak, en dan kry jy vir goed ‘n slegte naam.
Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman; as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.
Paulus bevestig dit in Romeine 12:18: “As dit moontlik is, sover as wat dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”
Daar gaan altyd mense wees wat dit moeilik maak en wat buite die reëls optree. Die kanse is ook daar dat jy bure kan hê vir wie die wil van die Here nie belangrik is nie. God gaan egter nie eendag vir jou vra wie jou bure was of hoe hulle opgetree het nie, maar watter tipe buurman of -vrou ek en jy was.
Gaan wees die antwoord en voorbeeld van dit wat jy so graag by ander wil sien en beleef.
Jy sê dis nie maklik nie. Jy is reg! Hoe sê die spreekwoord: Christenwees is nie vir sissies nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
