Sport

Pretorianers presteer in veldren kampioenskappe

Manna wys hul staal op hul fotorfietse tydens groot kompetisie.

Kenny Gilbert van Pretoria op sy Proudly Bidvest Yamaha is een van die nuwe kampioene wat gekroon is by die onlangse Ventersdorp 400, die finale ronde van die 2013 Suid-Afrikaanse nasionale veldrenmotorfiets- en vierwielmotorfietskampioenskap.

Gilbert het in die motorfietsafdeling sy derde algehele sege en sewende podiumposisie aangeteken om die algehele- sowel as die oopklas kampioenskapstitel vir die seisoen ná ’n lang stryd met Ruan Roberts (Yamaha) in te palm.

Roberts het in die tweede gedeelte van die ren in Ventersdporp ontwater en moes met die tweede plek tevrede wees. Hy was ook tweede in oopklas.

Altus de Wet (Husqvarna Racing) het sy tweede algehele podiumposisie vir die jaar behaal deur derde ná ’n veilige ren te eindig.

Die Ventersdorp 400 was die laaste ronde van ’n uiters mededingende 2013-seisoen met die meeste van die titels wat eers tydens dié byeenkoms eienaars gekry het.

Brian Baragwanath (BB Motorsport Lonestar PEP Yamaha) het sy vierde algehele en Q1-oorwinning dié seisoen aangeteken en het die Ventersdorp 400 vir die tweede agtereenvolgende jaar ná ’n probleemvrye ren gewen, maar ’n vierde plek ná meganiese probleme was genoeg vir die verdedigende titelhouer, Jurie Meyer (Yamaha Support) om die algehele titel sowel as die ope-kampioenskapstitel suksesvol te verdedig.

Daar was ’n taai stryd om beide die motorfiets- (Gilbert en Roberts) en vierwielmotorfietstitels (Baragwanath en Meyer) en die wenners het vanjaar met ’n klein hoeveelheid punte gewen.

In die Meestersklas vir deelnemers ouer as 46 jaar (hulle doen net die helfte van die renafstand en het 180 kilometer voltooi) het ’n lid van die Centurion gebaseerde span, Bert Smith Racing Powered by RAD KTM-span, Leon Gerber, vir die vierde keer dié seisoen gewen, maar ’n tweede plek was genoeg vir Martin Poole (Yamaha) om dié titel in die motorfietsafdeling in te palm. Willem Swiegers was derde.

Daar was net twee dames elk in die damesklasse van die motorfiets- en vierwielafdelings, maar beide titelgevegte is nou ook afgehandel met Toni Jardine (Roost ECS KTM) en Liezel Barnard (Barnard Vervoer Renegade) wat die onderskeie wenners van dié twee afdelings was en ook die 2013-titels verseker het.

Taye Perry van Centurion (Bert Smith Racing Powered by RAD KTM) het die volledige 360 kilometer-ren voltooi. Deelnemers in die klasse vir vroulike ryers doen net die helfte van die ren, maar hulle kan in nóg ’n klas inskryf. Omdat sy verdwaal het, het sy selfs nóg verder met haar motorfiets gery. Sy het uiteindelik tweede agter Jardine geëindig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button