Heel laaste kans vir die Bulle
Hoewel die Haaie sowat 'n week gelede se wedstryd naelskraaps met 18-16 gewen het, brand die kersie van hoop vir Bloubul ondersteuners steeds, al is dit baie flou.
Die Blou Bulle se sukkelseisoen in vanjaar se Curriebekerreeks het onlangs ’n ernstige terugslag beleef, toe hulle nie daarin kon slaag om een van die voorlopers op die punteleer, die Haaie, op Loftus Versfeld te klop nie.
Hoewel die Haaie sowat ‘n week gelede se wedstryd naelskraaps met 18-16 gewen het, brand die kersie van hoop vir Bloubul ondersteuners steeds, al is dit baie flou.
Die Bulle is darem reeds seker dat hulle die vernedering van ’n promosie/relegasie wedstryd gespaar sal bly. Met net een rondte wedstryde oor in die ligafase van vanjaar se Curriebekerreeks is die Blou Bulle nou in die vyfde plek, sewe punte voor Griekwas. Laasgenoemde kan hulle dus nie meer inhaal nie, wat beteken die ergste scenario vir die Bulle is dat hulle seisoen eerskomende Saterdag kan eindig.
Soos genoem is die agterdeur egter nog op ’n skrefie vir Pine Pienaar se span oop om wel vir die uitspeelrondtes te kwalifiseer. Dit kan op twee moontlike maniere gebeur. Eerstens kan die Griekwas dalk die Leeus eerskomende Saterdag op Ellispark klop, sonder dat die Johannesburgers ligapunte kry. Dit sal beteken dat die Bulle, wat tans vier punte agter die Leeus is, by hulle kan verbyskuif as hulle die Cheetahs in Bloemfontein kan klop én vier drieë kan druk.
Die scenario wat egter meer realisties is – en in elk geval in die Bulle se eie hande in om te laat realiseer – is dat hulle by die Cheetahs moet verbyskuif. Hoewel die Vrystaters tans vyf punte voor die Bulle op die punteleer is, sal die Bulle by hulle verbyskuif indien hulle ’n baie goeie oorwinning in Bloemfontein kan behaal. Dit moet behels dat hulle vier drieë teen die Cheetahs moet druk en hulle boonop self verhoed om enige bonuspunt te kry. Daarby moet die punteverskil in só ’n oorwinning boonop meer as 22 wees om op dié tegniese punt by die Vrystaters verby te skuif.
Vraag is nou, kan hierdie bloubul span so-iets vermag?
Dit bring ons terug by die afgelope twee weke se wedstryde. Eers het dié jong Bloubul span die Griekwas in Kimberley behoorlik opgedons en boonop sewe drieë in die proses ingeryg. In daardie wedstryd het Pienaar se span gewys waartoe hulle in staat is as dinge die dag vir hulle reg verloop.
Vrydagaand op Loftus Versfeld het die Bulle weer teen alle verwagting in besonder goed gevaar teen die span wat tot op daardie stadium die voorloper op die punteleer was. Op die keper beskou was die Blou Bulle Vrydagaand inderdaad die beter span op die veld. Hulle het immers die enigste drie van die wedstryd gedruk en boonop vele geleenthede vir nog drieë verlore laat gaan met hanteringsfoute of verkeerde opsies. ’n Enkele strafdoel reg teen die einde van die wedstryd was egter die verskil tussen wen en verloor.
Tog kon die Blou Bulle Vrydagaand baie beter rugby gespeel het. Hul lynstaanspel was byvoorbeeld soms skokkend swak, terwyl hulle ook aanvanklik gesukkel het in die vaste skrums. Later het hulle laasgenoemde aspek oorheers, maar hulle kon nie volledig daaruit voordeel put nie.
Hierdie jong span het dus ’n ver pad gekom in die nege weke wat hulle al saamspeel en daar is baie tekens dat dit in ’n besonder goeie span kan ontwikkel. Met ’n bietjie geluk kan hulle beslis vanjaar al die uitspeelrondtes haal. As hulle eers daar is, is enigiets moontlik – selfs dat die Blou Bulle se eerste Engelse Curriebeker kaptein in 75 jaar nog op 26 Oktober vanjaar dié gesogte beker omhoog kan hou om die Bulle se feesjaar op ’n hoogtepunt af te sluit.