Pretoria het weer ‘n wêreldkampioen
Danie Venter van Pretoria het die Wêreld Boksfederasie (WBF) se nuwe junior swaargewig bokskampioen geword.

Foto: GB Jordaan
Pretoria het vir die eerste keer in tien jaar weer ’n wêreld bokskampioen.
Danie Venter van Pretoria het Saterdagaand in die Heartfelt Arena in sy tuisstad minder as twee minute nodig gehad om Shawn Cox van Barbados droomland toe te stuur en sodoende die Wêreld Boksfederasie (WBF) se nuwe junior swaargewig bokskampioen te word.
Daarmee het hy die eerste plaaslike wêreldkampioen geword sedert Sebastiaan Rothman in 2003 die laaste keer sy tweede wêreldtitel suksesvol verdedig het.
Cox is geen paloeka nie. Hy spog met 17 oorwinnings in sy professionele loopbaan, terwyl hy Saterdagaand slegs sy derde nederlaag gely het. Hy het al 16 uitklophoue behaal as beroepsbokser.
Die gewese houer van die WBC se Karibiese titel het egter Saterdagaand ’n liederlike oordeelsfout begaan toe hy heeltemal die verkeerde strategie gevolg het teen Venter. Hy het met die aanbreek van die geveg ingestorm en Venter begin aanval. Dit was duidelik dat hy Venter vroeg in die geveg wou raakslaan om hom te probeer intimideer. Dit is net hier waar hy hom met Venter se ondervinding en uitgeslapenheid misgis het, want die Pretorianer het binne sestig sekondes ’n opening in Cox se verdediging gevind en hom met ’n enorme regterhaakhou op die kakebeen getref. Cox se knieë het onmiddellik geknak en hy het die krytvloer getref. Hy was weer op die been met die telling op agt, maar dit was duidelik dat hy in die moeilikheid was.
Hierna was Cox ironies genoeg op die agtervoet en hy het van Venter se vuiste probeer wegkom. Die ironie hieromtrent is dat Cox vooraf beweer het dat Venter destyds in 2002, toe die twee boksers mekaar in die amateurkryt by die Statebondspele ontmoet het, tydens die geveg “die hele tyd weggehardloop het” en dat dit die rede was waarom hy Venter destyds nie kon raakslaan nie.
Na een minuut en 42 sekondes was alles egter Saterdagaand verby vir Cox, toe Venter hom weer raakgeslaan het en sy ligte uiteindelik finaal uitgedoof het. Hy het na ‘n paar sekondes weer probeer opstaan, maar hy moes aan die kryt se toue hang om regop te probeer bly. Die skeidsregter het hom uitgetel en sy droom om die wêreldtitel terug te neem Barbados toe was iets van die verlede.
Aan die ander kant van die kryt het groot vreugde geheers in die Venter-kamp. Dié 34-jarige Pretorianer het ’n lang pad gekom as bokser en hy het langs die pad duur lesse oor die sport én die administrasie daarvan geleer. Sy droom om ’n wêreldtitel as Pretorianer onder ’n plaaslike afrigter uit ’n plaaslike boksgimnasium te wen, is uiteindelik bewaarheid. Sy oorwinning is ook ’n pluimpie vir sy hardwerkende afrigter, Charles Backhouse, wat Venter sedert sy terugkeer tot die kryt in 2010 onder hande geneem het by die HTS Tuine boksgimnasium.
Ook sy besluit van enkele jaar gelede om sy loopbaan eerder as junior swaargewig voort te sit in plaas van die swaargewig-afdeling waarin hy voorheen geveg het, was duidelik die regte keuse.
Pretoria het weer ’n wêreldkampioen en Venter het beslis die talent om hiervandaan vorentoe selfs wêreldroem te bereik.
Real Steel Promotions se No-guts-no-glory-toernooi, wat Saterdagaand in die Heartfelt Arena in Pretoria aangebied is, was ’n reuse sukses en drie van die ander hoëprofiel plaaslike boksers het ook hul gevegte gewen.
Die bekende “Wit Buffel”, Fransie Botha, se seun, Marcel, het sy derde beroepsgeveg met punte teen Myhiyane Fulatela gewen.
Kevin Lerena van die Oos-Rand het ook sy eerste titel, die WBF se All Africa junior swaargewig titel, ingepalm deur Ibrahin Labaran van Ghana in die tweede rondte met ‘n tegniese uitklophou te verslaan. In die ander internasionale geveg het Daniël Bruwer van Meyerton die WBF se internasionale junior swaargewig titel gewen toe hy Sofiane Sebihi van Switserland in die agtste rondte tot oorgawe gedwing het.
Bruwer het bokskenners weer verbaas met sy ongelooflike vermoë om houe te absorbeer en sterker te word soos die geveg vorder, maar of dié tendens goed is vir sy gesondheid op die langer termyn sal nog gesien moet word. Hy spog egter met ’n rekord dat niemand hom nog ooit kon uitslaan in sy 30 beroepsgevegte nie.