Rugbyskouspel van die jaar op Ellispark
Ellispark was reeds volgepak toe ’n Boeing vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens die eerste keer vanuit die noord-ooste laag oor die stadion gevlieg het. Hierdie waaghalsige toertjie van die vlieënier het die gees onder toeskouers skielik laat vlamvat.
Byna 62 000 rugbyliefhebbers van oral in Gauteng was op Ellispark in Johannesburg ooggetuies by die grootste rugby-skouspel van die jaar, toe die Springbokke en die All Blacks mekaar in die nie-amptelike “finaal” van die Castle Rugby Kampioenskap aangevat het.
Ellispark was reeds volgepak toe ’n Boeing vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens die eerste keer vanuit die noord-ooste laag oor die stadion gevlieg het. Hierdie waaghalsige toertjie van die vlieënier het die gees onder toeskouers skielik laat vlamvat.
Die waaghalsige vlieënier het daarna nog drie keer van suid na noord oor die stadion gevlieg en elke keer as hy nog in aantog was kon hy reeds deur die toeskouers op die boonste vlak van die stadion se noordpaviljoen gesien word. Dit het ’n oorverdowende geraas tot gevolg gehad en ’n mens kon aan die spelers, wat op daardie stadium op die veld besig was met opwarmingsoefeninge, se lyftaal sien dat hulle die grootsheid van die geleentheid besef.
Die rugby wat opgedis is op die veld was ook van hoogstaande gehalte, behalwe miskien vir ’n paar sagte oomblikke in die Bokke se verdedigingsaanslag. Ten minste drie van die All Blacks se drieë was heeltemal té maklik vir so ’n belangrike wedstryd.
Aan die ander kant het hierdie All Black span ook gewys dat hulle eenvoudig nog ’n kerf of wat beter is as die Springbokke en hulle het welverdiend met 38-27 gewen, nadat hulle een drie meer as die Springbokke kon druk.
Daar is egter hoop vir Suid-Afrikaanse rugby as die geheelprentjie in oënskou geneem word. Onder die bestuur van die oud-Bloubul en Bulls afrigter, Heyneke Meyer, is daar ’n formidabele span besig om vorm aan te neem en Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers kan met reg uitsien na die toekoms.
Die volgende wêreldbeker toernooi is eers oor twee jaar. Teen daardie tyd behoort die Springbokke die verskil tussen hulle en die All Blacks reeds uit te wis en Suid-Afrika sal kan uitsien na ’n goeie kans om die eerste land te word wat die gesogte wêreldbeker ’n derde keer kan wen.