Sport

Bulle bou span vir toekoms

Ondersteuners van die Blou Bulle is woedend oor die wyse waarop die Curriebeker span se seisoen verloop het, nadat hul veldtog Saterdag in Bloemfontein met 'n nederlaag teen die Cheetahs geëindig het.

Terwyl duisende ondersteuners egter koppe begin eis, word daar uit Loftus Versfeld vir kalmte gevra en die mees algemene verduideliking vir die gesukkel van die afgelope drie maande is dat die Bulle by die begin van ‘n nuwe siklus in hul geskiedenis gekom het. Daar word dus van ondersteu-ners geduld gevra om aan die bestuur op Loftus Versfeld kans te gee om aan ‘n span vir die toekoms te bou.

Die realiteit is egter dat die SuperRugby seisoen oor slegs vier maande aanbreek en ondersteuners van die Bulle twyfel of hul span gereed gaan wees om die strawwe nuwe seisoen te oorleef.

Die Bulle het tussen die begin van vanjaar se SuperRugby toernooi en die Curriebeker reeks byna 20 top spelers verloor, waarvan die meerderheid Springbokke is.

Meer as die helfte van hierdie spelers is verlore vir die Bulls en sal nie volgende jaar weer beskikbaar wees om in die SuperRugby reeks te speel nie. Onder hulle tel sleutelspelers soos die puntemasjien Morné Steyn, die slot Juandré Kruger en leiers soos Dewald Potgieter en Chilliboy Ralepelle.

Onder die sleutelspelers wat beseer was en dus nie die unie kon help om die Curriebeker veldtog op koers te kry nie, maar wel weer volgende jaar beskikbaar sal wees, is die kaptein, Pierre Spies, Francois Hougaard, Arno Botha en Deon Stegmann.

Die bestuur op Loftus Versfeld word veral kwalik geneem dat hulle toegelaat het dat soveel top spelers die unie verlaat het om in Europa en Japan te gaan speel. Die versko-ning is natuurlik dat daardie spelers reuse aanbiedinge vanuit dié lande ontvang het en dat die Suid-Afrikaanse rand nie kan kompeteer met die genoemde lande se geldeenhede nie. Die spelers wat die unie om hierdie rede verlaat, keer blykbaar almal na ‘n paar seisoene terug met miljoene in die bank.

Die Blou Bulle se bestuur het intussen besluit dat hulle in die toekoms moet belê en die meerderheid van die beste junior rugbyspelers in Suid-Afrika, wat nog nie ‘n groot markwaarde oorsee het nie, is volgens hulle tans op die boeke van die Blou Bulle. Daar word dus geglo dat ‘n nuwe generasie sterre uit hierdie spelers na vore sal kom, wat die Blou Bulle en die Bulls in die volgende dekade weer as Suid-Afrika se vaandeldraers kan vestig.

Hoewel hierdie redenasie sekerlik gewig dra, kan die bestuur op Loftus Versfeld natuurlik ook nie heeltemal van alle kritiek ontkom nie. Dit bly ‘n feit dat daar foute gemaak is oor die afgelope paar jaar, wat die kontinuïteit op Loftus Versfeld ernstige skade berokken het. Die huidige strategie en styl van rugby op Loftus Versfeld word volgens baie ondersteuners ook nog te veel geskoei op die voorskrifte en voorkeure van die huidige Springbokafrigter wat die Bulle vroeg verlede seisoen verlaat het, nadat hy slegs begin het om sy langtermyn plan vir die toekoms te implementeer.

Daar is veral twee aspekte van die spel wat onder die Heyneke Meyer-styl ly, terwyl die tradisionele styl van die Bulle eintlik nie daarsonder gespeel kan word nie.

Eerstens het Meyer ‘n hekel aan baljagters onder die losvoorspelers en hy verkies groot en sterk losvoorspelers wat as bal-draers gebruik kan word. Hierdie leemte was baie duidelik te sien by die Bulle se Curriebekerspan, wat sonder die dienste van Deon Stegmann moes klaarkom nadat hy beseer is in die laaste SuperRugby wedstryd. Die Blou Bulle is telkens ore aangesit by die afbreekpunte deur spanne wat met tradisionele baljagters gespeel het.

Tweedens is die Bulle se obsessie met baldraers ook ontbloot toe die skrumreëls verander is. Skielik was sterk skrummers weer belangrik en die Bulle het inderwaarheid net twee jong stutte wat hierby kon aanpas. In die paar wedstryde waarin Morné Mellet en Frik Kirsten saamgespeel het, was die Blou Bulle op die voorvoet in die skrums en in daardie wedstryd het dit ook op die telbord goed gegaan. Met die beserings aan hierdie twee manne is die res van die Bulle se arsenaal ten opsigte van stutte ernstig ontbloot en daar sal kop gekrap moet word oor die toekoms van ‘n paar voorrymanne in Pretoria.

Miskien sal dit die bestuur op Loftus Versfeld baat om, voor enige verder beplanning gedoen word oor die toekoms, eers weer ‘n paar tegniese aspekte in oënskou te neem. Op hierdie manier kan ‘n paar verlore seuns van Loftus dalk teruggelok word. Hulle sal goed doen om te begin by ‘n kwaliteit baljagter soos Marnus Schoeman, terwyl voorrymanne in die toekoms eerder vir hul skrumkrag as hul atletiese vermoëns gewerf moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button