Dié skoonheid speel met rugbyballe en motorfietse
Raakrugby (Touch Rugby) is een van die vinnigste groeiende sportsoorte in Suid-Afrika. Dié sport word beskou as een van die beste maniere vir die hele gesin om fiks en gesond te bly. Baie speel dit net vir die genot en die goeie oefening wat dit bied, maar vir die meer kompeterende spelers is daar ook …
Raakrugby (Touch Rugby) is een van die vinnigste groeiende sportsoorte in Suid-Afrika.
Dié sport word beskou as een van die beste maniere vir die hele gesin om fiks en gesond te bly. Baie speel dit net vir die genot en die goeie oefening wat dit bied, maar vir die meer kompeterende spelers is daar ook verskillende ligas wat die geleentheid bied om te kompeteer.
Een van hierdie sport se sterre in Pretoria is die 18-jarige Libbie Janse van Rensburg van Montana.
Janse van Rensburg word op haar jeugdige ouderdom reeds beskou as een van die land se beste raakrugby spelers, terwyl sy ook as sewes rugbyspeler uitblink.
Sy is ’n oud-leerling van die Tygervally College, waar sy vir vyf jaar na mekaar as sportvrou van die jaar aangewys is. Daar het sy ook in atletiek en hokkie uitgeblink.
Janse van Rensburg het op skool reeds raakrugby begin speel. In 2010 het sy reeds haar provinsiale kleure verwerf en sedertdien word sy nog elke jaar vir die provinsie gekies.
In haar eerste jaar as provinsiale speler was sy die span se top driedrukker. Verlede jaar is sy aangewys as die mees waardevolle speler op die nasionale kampioenskappe.
Ten spyte van haar talent as raakrugby- en sewes rugbyspeler is Janse van Rensburg ook nog ’n ywerige motorfietsryer. Sy neem deel aan veldrenne (Motocross) en is op ’n onlangse wedrendag as ryer van die dag aangewys.
Janse van Rensburg het ook al saam met die sewes rugbyspan van Tukkies oorsee getoer en aan top toernooie deelgeneem. Sy het na skool besluit om ’n jaar net op sport te konsentreer, maar beplan om in 2014 vir ’n graad in Sportwetenskap by Tukkies in te skryf.
