Sport

Blou Bulle se o.19’s dra uiteindelik die kroon

Die Blou Bulle het gemengde sukses gesmaak in die eindstryde van die nasionale junior ligas wat Saterdag op Nuweland in Kaapstad afgehandel is. Vir die Bulle se o.19’s was dit skeepsreg ná ’n droogte van drie jaar, terwyl die o.21’s vir die eerste keer sedert 2009 nié met hul gesogte trofee huistoe kon keer nie. …

Die Blou Bulle het gemengde sukses gesmaak in die eindstryde van die nasionale junior ligas wat Saterdag op Nuweland in Kaapstad afgehandel is.

Vir die Bulle se o.19’s was dit skeepsreg ná ’n droogte van drie jaar, terwyl die o.21’s vir die eerste keer sedert 2009 nié met hul gesogte trofee huistoe kon keer nie.

Die Bulle se o.19 afrigter, Paul Anthony, sluit sy loopbaan by dié unie op ’n hoogtepunt af, nadat sy span drie jaar lank elke keer in die finaal verloor het.

Hoewel die Bulle se o.19’s jaar na jaar top rugby speel en soms, soos in 2011, byna tien punte bo hul naaste teenstanders op die liga se punteleer geëindig het, het hulle telkens in die eindstryd vasgeval. Twee jaar gelede is hulle letterlik uit die titel verneuk, toe ’n skokkende swak skeidsregter daarvoor verantwoordelik was dat hulle die titel met ’n nederlaag van 19-20 teen die Leeus gely het.

Hierdie jaar was dus Anthony se laaste kans om daardie gesogte medalje, wat hy lankal in sy kas moes gehad het, in te palm. Sy spannetjie het ook nie teleurgestel nie en hoewel die jong Leeus goed teruggeveg het, het die briljante Jesse Kriel en sy spanmaats eintlik maklik gewen. Hulle het vier drieë teen die Leeus se twee gedruk om met 35-23 te wen en daarmee die kersie op die koek te sit van ’n sprokie-seisoen.

Anthony se span het hiermee ’n onoortrefbare rekord opgestel, omdat hulle 14 wedstryde agtereenvolgens gewen het en die seisoen dus onoorwonne afgesluit het. Dié gewilde afrigter verlaat Loftus Versfeld aan die einde van die jaar om hom in Durban by die Haaie se afrigtingspan aan te sluit.

Die o.19- Bulletjies se vertoning het ook weer onderstreep dat die Bulle se ondersteuners dalk net ’n seisoen of wat moet vasbyt. Hierdie spannetjie krioel van ongelooflike talent en as hierdie seuns oor ’n paar jaar manne geword het, kan die Bulle se nuwe goue era begin.

* Nollis Marais se o.21 span is, ná hul heerskappy van drie jaar, as die nasionale o.21 kampioene onttroon toe die WP se jonges hulle Saterdag met 30-23 geklop het.

Hoewel die Bulletjies goed begin het, het die WP-span, wat regdeur die seisoen die top juniors in die land was, rondom rustyd beheer oor die wedstryd begin oorneem. Teen die einde het die Bulletjies sterk teruggekom, maar die WP se verdediging het gehou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button