Sport

Tuks HPC mik na agt medaljes in Rio de Janeiro

Tuks mik na ’n realistiese agt medaljes uit die 57 atlete wat tans op die HPC se geborgde program is vir 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

Op 8 November was dit presies 1 000 dae voor die openingseremonie van die volgende Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

As deel van die beplanning om atlete gereed te kry vir hierdie belangrike datum in die toekoms, het Tukkies se High Performance Centre (HPC) ’n ontbyt aangebied om terugvoer te gee oor hul vordering, maar ook om eksterne partye te oortuig om ’n belegging te maak in die 57 sportmanne en -vroue wat reeds deur die HPC geïdentifiseer is as moontlike medaljewenners in 2016.

Volgens Toby Sutcliffe, hoof uitvoerende beampte van die HPC, mik hulle daarna om in 2016 net uit die geledere van hul atlete agt medaljes in Rio de Janeiro te verower.

Suid-Afrika het in 2012 in Londen ses medaljes gewen, waarvan die helfte deur atlete van die HPC verower is. Sutcliffe glo egter dat daar vordering móét wees, anders stagneer hul instelling en kan hulle nie werklik op sukses aanspraak maak nie. Daarom mik hulle na ’n realistiese agt medaljes uit die 57 atlete wat tans op die HPC se geborgde program is.

Die gasspreker by die ontbyt was die suksesvolle roei-afrigter, Roger Barrow, wat onder andere Suid-Afrika se mansspan afgerig het toe hulle verlede jaar die goue medalje in Londen gewen het.

Barrow het verduidelik hoe belangrik dit is vir suksesvolle atlete om die geleentheid te kry om sonder enige afleiding te fokus op hul taak. Hy het faktore soos familiestres en finansies, twee van die grootste dempers van prestasie onder atlete genoem. Juis daarom probeer hulle by die HPC se program vir atlete die geleentheid skep om vir die Spele voor te berei met so min as moontlik stresvolle afleidende faktore.

Nege verskillende sportsoorte word verteenwoordig deur die atlete wat tans deur die Tuks HPC geborg word op pad na Rio de Janeiro. Dit is atletiek (wat een stapper insluit), kanoovaart, gholf, judo, bergfietsry, roei, swem en driekamp.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button