Fikses gaan oor feestyd weer ver hardloop
Deelnemers kan hierdie vakansie kies tussen vyf verskillende wedlope, wat tussen 27 Desember en 2 Januarie plaasvind.
Terwyl die meeste mense oor die feestyd die lekker lewe geniet, te veel eet en drink en bitter min oefening kry, is daar ’n paar toegewyde atlete wat weer gaan deelneem aan die Pretoria High School Old Boys-klub (PHSOB) se sogenaamde Festival of Running.
Die groot wedloop, wat oor ses dae (144-uur) beslis word, begin reeds op 27 Desember. Daar is ook ’n 48-uur wedloop, wat op 30 Desember begin, terwyl die 24-uur wedloop op oujaarsdag (31 Desember) sal begin.
Vir die minder avontuurlustiges is daar twee verskillende 12-uur wedlope op 31 Desember, asook 3 verskillende 1-uur wedlope op 28 Desember.
Hierdie Festival of Running is ’n internasionale byeenkoms en verskeie atlete van oorsee sal na verwagting weer deelneem.
Die doel van die top wedloop oor 144-uur, wat net vir die fikstes onder die fikses bedoel is, is om in die ses dae tussen 12:00 op 27 Desember en 12:00 op 2 Januarie so veel as moontlik rondtes om ’n baan van 500m (’n halwe kilometer) te hardloop of te stap. Atlete neem soms ’n breuk om te eet en te slaap, maar hoe meer hierdie breuktyd beperk kan word, hoe meer kilometers sal die atleet in die toegelate tyd kan aflê.
Die atleet wat uiteindelik die meeste kilometers aflê, word as wenner aangewys.
Vir meer besonderhede kan belangstellendes die klub se webwerf by www.festivalofrunning.co.za besoek of Eric Wright skakel by 082-297-3060.
