Sluit aan by Naka Bulle en speel in top ligas
Spelers word genooi om aan top-liga byeenkoms deel te neem.

Die Naka Bulle-rugbyklub is die Pretoria-Moot se trots in die moeilike Carltonliga van die Blou Bulle.
Dié klub sal ook vanjaar weer vroeg in die seisoen in aksie wees in die Assupol Super Klubreeks, terwyl hulle later in die seisoen sal probeer om een stap verder te gaan in die Preditor-klubtoernooi, waar hulle verlede jaar semi-finaliste was.
Die klub het reeds vir hierdie strawwe seisoen begin oefen onder die waaksame oë van bekende afrigters soos Martin Knoetze, Morné Human en Jan Cloete. Volgens die klub se bestuurder, Buks Burger, is hulle opgewonde oor die nuwe seisoen en hulle het reeds ’n paar speler-aanwinste bygekry wat beslis die klub se geledere gaan versterk vir die lang seisoen wat voorlê. Die klub behoort ook weer hul gebruiklike bydrae te maak wat spelers in die Blou Bulle se amateurspan betref.
Naka Bulle speel hul eerste opwarmingswedstryd van die jaar reeds eerskomende naweek met twee spanne teen Tukkies op laasgenoemde se veld. Hierdie wedstryd sal die studente help met hul voorbereiding vir die Varsitybeker-reeks, terwyl die manne van Naka Bulle geslyp word vir die Assupol Super Klubreeks, wat vroeg in Maart sal afskop.
Na eerskomende Saterdag se wedstryd sal die manne van Naka Bulle vroeg in Februarie ‘n oefenkamp bywoon.
Hoewel die klub reeds vroeg in die jaar met oefeninge begin het, nooi hulle steeds nuwe spelers en belangstellendes om so gou moontlik betrokke te raak. Ook juniors (o.19 en o.21) is baie welkom om by die klub aan te sluit. Die klub oefen op Dinsdae, Woensdae en Donderdae om 18:00.
Navrae: Buks Burger by 082-925-7206.
