Geen verrassings in Bulls se keuses
Konserwatiewe keuses, soos ’n mens van Frans Ludeke kan verwag. Dít is die enigste manier waarop Ludeke en sy bestuur se keuses beskryf kan word vir die twee spanne wat eerskomende naweek in Pietersburg teen die Stormers en die Leeus in aksie gaan wees. Die Bulls se ‘A’-span speel teen die Stormers in ’n SuperRugby-opwarmingswedstryd, …
Konserwatiewe keuses, soos ’n mens van Frans Ludeke kan verwag.
Dít is die enigste manier waarop Ludeke en sy bestuur se keuses beskryf kan word vir die twee spanne wat eerskomende naweek in Pietersburg teen die Stormers en die Leeus in aksie gaan wees.
Die Bulls se ‘A’-span speel teen die Stormers in ’n SuperRugby-opwarmingswedstryd, terwyl die ‘B -span teen die Leeus se Vodacombekerspan getoets gaan word.
Daar is inderdaad geen verrassing in die gekose spanne nie. Ludeke het duidelik gehou by dit wat hy ken en met enkele uitsonderings was sy span vir die wedstryd teen die Stormers almal verlede jaar al in die SuperRugby-groep van die Bulle.
Kombinasies is ook behou, maar Ludeke het die versekering gegee dat daar steeds kompetisie onder individue in die groep is en dat geen speler verseker is van ’n plek in die top span nie.
Daar is egter nie ’n enkele nuweling in die ‘A’-span wat nog nooit in SuperRugby in aksie was nie. Ludeke het ook nie, soos verwag, die voorry geskommel om nuwe kombinasies te beproef nie. Frik Kirsten, die vaskopstut wat verlede jaar deur die Springbokke opgeroep is ná beserings tydens dié span se toer in Europa, blyk steeds tweede viool te speel by die Bulls, na Werner Kruger. Kirsten het homself verlede seisoen onderskei as die Bulls se beste vaskopstut, maar hy bevind hom alweer in die ‘B’-span.
Op slot is Flip van der Merwe op sy gebruiklike posisie as nommer-vier slot gekies, terwyl hy in die Springbokopset skynbaar in die toekoms eerder as ’n nommer-vyf slot oorweeg gaan word, nadat hy einde verlede jaar puik spel in laasgenoemde posisie gelewer het.
Grant Hattingh, wat sedert sy koms na die Bulls nog nie aan die verwagting voldoen het wat oorspronklik van hom gekoester is nie, is as Van der Merwe se slotmaat gekies.
Onder die losvoorspelers is daar geen verrassings nie. Die drie Springbokke, Deon Stegmann, Arno Botha en Deon Stegmann, wat aldrie verlede jaar lank uit die spel was weens beserings, is weer fiks en sal as kombinasie teen die Stormers se hoëprofiel lostrio te staan kom.
Ook die skakelpaar, Francois Hougaard en Louis Fouché, is terug van ernstige beserings en daar word veral uitgesien na Hougaard se vertoning. Hy het onlangs ’n Springbok-kontrak gekry, hoewel hy verlede jaar voor sy besering gesukkel het met sy vorm. Sy talent is egter welbekend en op sy beste kan hy ’n deurslaggewende spelbreker in enige wedstryd wees.
Die buite-agterspelers is ook almal manne wat reeds in die saal was. Ondersteuners sou egter graag ’n man soos William Small-Smith, wat verlede jaar in die Curriebekerreeks puik rugby gespeel het, op die groter verhoog in aksie wou sien.
* In die sogenaamde ‘B’-span, wat teen die Leeus se Vodacombekerspan gaan speel is daar ’n paar interessante nuwelinge om dop te hou. Daar word veral uitgesien na verlede jaar se o.19-ster, Jesse Kriel, se vertoning op vleuel, terwyl Piet van Zyl as Springbok sal wil wys hy hoort in die SuperRugby-groep.
Die twee stutte, Marcel van der Merwe en Frik Kirsten, sal ook wil wys dat hulle eintlik in die top span hoort.
Die res van die voorspelers kan almal op een of ander stadium in die seisoen baie naby aan die top span kom. Frans Ludeke het ook weer bevestig dat hulle weer van ’n rotasie-stelsel gebruik gaan maak, so hierdie manne kan Saterdag in Pietersburg hul kleim afsteek.
Manne soos David Bulbring (slot) en Jacques Engelbrecht (flank) was uitblinkers in die Kings se SuperRugby-veldtog verlede seisoen en kan beslis baie waarde toevoeg tot die Bulls se seisoen.
Die twee spanne vir Saterdag is:
Span teen die Leeus: Clayton Blommetjies, Travis Ismaiel, William Small-Smith, Ulrich Beyers, Jesse Kriel, Handré Pollard, Piet van Zyl, Jacques Engelbrecht, Jacques du Plessis, Jono Ross, David Bulbring, Paul Willemse, Frik Kirsten, Bongi Mbonambi, Marcel vd Merwe. Plaasvervangers: Bandise Maku, Juan Schoeman, Hencus van Wyk, Nicolaas Janse van Rensburg, Wiaan Liebenberg, Rudy Paige, Tian Schoeman, Waylon Murray, Ryan Nell, Jacques-Louis Potgieter.
Span teen die Stormers: Jurgen Visser, Akona Ndungane, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, Bjorn Basson, Louis Fouché, Francois Hougaard, Pierre Spies (c), Arno Botha, Deon Stegmann, Grant Hattingh, Flip vd Merwe, Werner Kruger, Callie Visagie, Dean Greyling. Plaasvervangers: Bandise Maku, Marcel vd Merwe, Hencus van Wyk, Jono Ross, Rudy Paige, Handré Pollard, Ulrich Beyers, Travis Ismaiel.
